Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 6

Dawid was nie bang nie

Dawid was nie bang nie

Wat doen jy as jy bang is?— Miskien gaan jy na jou ma of pa toe sodat hulle jou kan help. Maar daar is iemand anders wat jou ook kan help. Hy is sterker as enigiemand anders. Weet jy wie dit is?— Ja, dit is Jehovah God. Kom ons gesels oor ’n jong man in die Bybel wie se naam Dawid was. Hy was nie bang nie, want hy het geweet dat Jehovah hom altyd sal help.

Dawid se ouers het hom van kleins af geleer om vir Jehovah lief te wees. Daarom was Dawid nie bang nie, al was hy partykeer in gevaar. Hy het geweet dat Jehovah sy Vriend is en dat Hy hom sal help. Eenkeer, toe Dawid skape opgepas het, het ’n groot leeu gekom en ’n skaap gevang! Weet jy wat Dawid gedoen het? Hy het agter die leeu aan gehardloop en hom heel moontlik met sy kaal hande doodgemaak! En toe ’n beer die skape aanval, het Dawid hom ook doodgemaak! Wie dink jy het Dawid gehelp?— Ja, dit was Jehovah.

Daar was nog ’n keer toe Dawid baie dapper was. Die Israeliete het teen ’n volk geveg wat die Filistyne genoem is. Een van die Filistynse soldate was ’n baie, baie groot man, ’n reus! Sy naam was Goliat. Hierdie reus het met die Israelitiese soldate en met Jehovah gespot. Goliat het die Israelitiese soldate uitgedaag om teen hom te veg. Maar al die Israeliete was te bang om teen hom te veg. Toe Dawid daarvan gehoor het, het hy vir Goliat gesê: ‘Ek sal teen jou veg! Jehovah sal my help, en ek sal jou doodmaak!’ Dink jy Dawid was dapper?— Ja, hy was baie dapper. Wil jy weet wat toe gebeur het?

Dawid het sy slinger en vyf gladde klippe geneem en teen die reus gaan veg. Toe Goliat sien hoe jonk Dawid is, het hy met Dawid gespot. Maar Dawid het vir hom gesê: ‘Jy kom na my toe met ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die naam van Jehovah!’ Toe het hy ’n klip in sy slinger gesit, na Goliat toe gehardloop en dit reguit na hom toe geslinger. Die klip het Goliat tussen die oë getref! Die reus het dood neergeval! Die Filistyne het so bang geword dat hulle almal weggehardloop het. Hoe kon ’n jong seun soos Dawid ’n reus doodmaak?— Jehovah het hom gehelp, en Jehovah is baie sterker as wat daardie reus was!

Dawid was nie bang nie, want hy het geweet dat Jehovah hom sal help

Wat kan jy uit Dawid se verhaal leer?— Jehovah is sterker as enigiemand anders. En hy is jou Vriend. As jy ooit weer bang voel, moet jy onthou dat Jehovah jou kan help om dapper te wees!

LEES IN JOU BYBEL