Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 11

Hulle het oor Jesus geskryf

Hulle het oor Jesus geskryf

Sien jy die manne in die prent?— Dit is Matteus, Markus, Lukas, Johannes, Petrus, Jakobus, Judas en Paulus. Al hierdie manne het in Jesus se tyd gelewe en het oor Jesus geskryf. Kom ons leer meer van hulle.

Wat weet jy van hierdie manne?

Drie van hulle was apostels wat saam met Jesus gepreek het. Weet jy watter drie?— Matteus, Johannes en Petrus. Die apostels Matteus en Johannes het Jesus baie goed geken en het elkeen ’n boek oor Jesus se lewe geskryf. Die apostel Johannes het ook die boek Openbaring en drie briewe, Eerste Johannes, Tweede Johannes en Derde Johannes, geskryf. Die apostel Petrus het twee van die briewe geskryf wat in die Bybel is. Dit word Eerste Petrus en Tweede Petrus genoem. In sy tweede brief het Petrus geskryf oor die tyd toe Jehovah uit die hemel gepraat het en van Jesus gesê het: ‘Dit is my seun. Ek is lief vir hom en ek is trots op hom.’

Die ander manne in die prent het ook boeke geskryf waarin ons van Jesus leer. Een van hulle is Markus. Hy was heel moontlik daar toe Jesus gevange geneem is en het alles gesien wat gebeur het. Nog een is Lukas. Hy was ’n dokter en het miskien eers ná Jesus se dood ’n Christen geword.

Twee ander Bybelskrywers wat jy in die prent sien, was Jesus se jonger broers. Weet jy wat hulle name is?— Hulle name is Jakobus en Judas. Aan die begin het hulle nie geloof in Jesus gestel nie. Hulle het selfs gedink dat daar iets fout is met hom. Maar hulle het later geloof in Jesus gestel en Christene geword.

Die laaste Bybelskrywer wat jy in die prent sien, is Paulus. Voordat hy ’n Christen geword het, was sy naam Saulus. Hy het Christene gehaat en het baie slegte dinge aan hulle gedoen. Weet jy hoekom Paulus ’n Christen geword het?— Eendag, terwyl Paulus op reis was, het hy skielik iemand uit die hemel met hom hoor praat. Dit was Jesus! Hy het Paulus gevra: ‘Hoekom doen jy slegte dinge aan die mense wat in my glo?’ Daarna het Paulus verander en ’n Christen geword. Paulus het 14 boeke van die Bybel, al die boeke van Romeine tot Hebreërs, geskryf.

Ons lees mos die Bybel elke dag, nè?— As ons die Bybel lees, leer ons baie van Jesus. Wil jy graag meer van Jesus leer?—