Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 12

Die seun van Paulus se suster was dapper

Die seun van Paulus se suster was dapper

Kom ons leer van ’n jong man wat sy oom se lewe gered het. Die jong man se oom was die apostel Paulus. Ons weet nie wat die jong man se naam was nie, maar ons weet dat hy iets gedoen het wat gewys het dat hy baie dapper is. Wil jy graag weet wat hy gedoen het?—

Paulus was in die tronk in Jerusalem. Hy was opgesluit omdat hy oor Jesus gepreek het. ’n Klomp slegte manne het Paulus gehaat, en daarom het hulle ’n bose plan beraam. Hulle het gesê: ‘Kom ons vra die militêre bevelvoerder om vir sy soldate te sê om Paulus na die hof te bring. Ons sal langs die pad wegkruip, en wanneer Paulus verbykom, sal ons hom doodmaak!’

Die seun van Paulus se suster het vir Paulus en vir die militêre bevelvoerder van die bose plan vertel

Die seun van Paulus se suster het van hierdie plan gehoor. Wat het hy gedoen? Hy het na die tronk toe gegaan en Paulus daarvan vertel. Paulus het dadelik vir hom gesê dat hy die militêre bevelvoerder van die bose plan moet vertel. Dink jy dit was vir hom maklik om met die bevelvoerder te gaan praat?— Nee, want die bevelvoerder was ’n belangrike man. Maar die seun van Paulus se suster was dapper en het met die bevelvoerder gaan praat.

Die bevelvoerder het geweet wat om te doen. Hy het gereël dat byna 500 soldate Paulus beskerm! Hy het vir hulle gesê dat hulle Paulus daardie nag na Sesarea moet neem. Is Paulus se lewe gered?— Ja, die slegte manne kon hom nie aanval nie! Hulle bose plan het nie gewerk nie.

Wat kan jy uit hierdie verhaal leer?— Jy kan ook dapper wees soos die seun van Paulus se suster. Ons moet dapper wees wanneer ons met ander oor Jehovah praat. Sal jy dapper wees en aanhou om oor Jehovah te praat?— As jy dit doen, sal jy dalk iemand se lewe red.