Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 2

Die Koninkryk word in die hemel gebore

Die Koninkryk word in die hemel gebore

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Hoe God se volk vir die geboorte van die Koninkryk voorberei is

1, 2. Wat was die allerbelangrikste gebeurtenis wat in die geskiedenis van die wêreld plaasgevind het, en waarom is dit nie verbasend dat geen mens dit aanskou het nie?

WONDER jy ooit hoe dit sou gewees het om gedurende ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis te lewe? Baie mense wonder daaroor. Maar dink ’n bietjie hieraan: As jy gedurende so ’n belangrike tyd gelewe het, sou jy dan persoonlik die sleutelgebeure gesien het wat die verandering teweeggebring het? Dalk nie. Gebeure wat die ondergang van ou regerings meebring en die bladsye van geskiedenisboeke vul, vind gewoonlik nie in die openbare oog plaas nie. In sekere sin speel ’n groot deel van die geskiedenis agter geslote deure af—in troonsale, raadskamers of regeringskantore. Sulke veranderinge raak nietemin die lewe van miljoene mense.

2 Wat van die allerbelangrikste gebeurtenis wat in die geskiedenis van die wêreld plaasgevind het? Hierdie gebeurtenis het die lewe van miljoene mense geraak. Maar geen mens het dit aanskou nie. Ons verwys natuurlik na die geboorte in die hemel van God se Koninkryk, die langbeloofde Messiaanse regering wat binnekort hierdie hele wêreldstelsel tot ’n einde sal bring. (Lees Daniël 2:34, 35, 44, 45.) Aangesien mense nie hierdie betekenisvolle geboorte aanskou het nie, moet ons dan tot die slotsom kom dat Jehovah hierdie gebeurtenis vir die mensdom verberg het? Of het hy eerder sy lojale volk daarvoor voorberei? Kom ons kyk.

“My boodskapper . . . moet ’n weg voor my uit baan”

3-5. (a) Wie was “die boodskapper van die verbond” wat in Maleagi 3:1 gemeld word? (b) Wat sou gebeur voordat “die boodskapper van die verbond” na die tempel sou kom?

3 Jehovah het hom al in die ou tyd voorgeneem om sy volk vir die geboorte van die Messiaanse Koninkryk voor te berei. Kyk byvoorbeeld na die profesie in Maleagi 3:1: “Kyk! Ek stuur my boodskapper, en hy moet ’n weg voor my uit baan. En skielik sal die ware Heer, na wie julle soek, na Sy tempel kom, en die boodskapper van die verbond, in wie julle behae het.”

4 Wanneer het Jehovah, “die ware Heer”, in die hedendaagse vervulling gekom om diegene te inspekteer wat in die aardse voorhof van sy geestelike tempel dien? Die profesie verduidelik dat Jehovah saam met “die boodskapper van die verbond” sou kom. Wie was dit? Niemand anders nie as die Messiaanse Koning, Jesus Christus! (Luk. 1:68-73). As die pasgekroonde Heerser sou hy God se volk op die aarde inspekteer en louter.—1 Pet. 4:17.

5 Maar wie was die ander “boodskapper”, die eerste een wat in Maleagi 3:1 gemeld word? Hierdie profetiese figuur sou lank voor die Messiaanse Koning se teenwoordigheid op die toneel wees. Het enigiemand in die dekades voor 1914 ‘’n weg gebaan’ vir die Messiaanse Koning?

6. Wie het opgetree as die voorspelde “boodskapper” wat eerste gekom het om God se volk vir die komende gebeure voor te berei?

6 Ons sal regdeur hierdie publikasie antwoorde op sulke vrae in die opwindende geskiedenis van Jehovah se hedendaagse volk vind. Hierdie geskiedenis toon dat een klein groepie getroue mense in die laaste deel van die 19de eeu na vore getree het as die enigste liggaam van ware Christene in ’n ontsaglike veld naamchristene. Hierdie groep is later die Bybelstudente genoem. Diegene wat die leiding onder hulle geneem het—Charles T. Russell en sy intieme metgeselle—het inderdaad as die voorspelde “boodskapper” opgetree deur geestelike leiding aan God se volk te gee en hulle vir die komende gebeure voor te berei. Kom ons kyk na vier maniere waarop die “boodskapper” dit gedoen het.

Hulle het met waarheid aanbid

7, 8. (a) Wie het gedurende die 1800’s die leerstelling van die onsterflikheid van die siel as vals begin blootlê? (b) Watter ander leringe het C.T. Russell en sy intieme metgeselle as vals blootgelê?

7 Hierdie Bybelstudente het biddend gestudeer; hulle het oor duidelike leerstellige waarhede saamgestem, dit versamel en dit gepubliseer. Die wêreld van die Christendom was eeue lank in geestelike duisternis gehul; baie van die leringe daarvan het ’n heidense oorsprong gehad. ’n Treffende voorbeeld is die leerstelling van die onsterflikheid van die siel. Gedurende die 1800’s het ’n paar opregte studente van die Bybel egter hierdie lering noukeurig ondersoek en gesien dat dit nie deur God se Woord gestaaf word nie. Henry Grew, George Stetson en George Storrs het hierdie sataniese leuen in geskrifte en lesings moedig blootgelê. * En hulle werk het weer ’n diepgaande invloed op C.T. Russell en sy intieme metgeselle gehad.

8 Die klein groepie Bybelstudente het gevind dat ander leerstellings wat met die onsterflikheid van die siel verband hou, eweneens verwarrend en vals is—byvoorbeeld, die leerstelling dat alle goeie mense hemel toe gaan of dat God die onsterflike siele van die goddeloses in ’n ewige helse vuur folter. Russell en sy intieme metgeselle het hierdie leuens in tientalle artikels, boeke, pamflette, traktate en gepubliseerde preke moedig blootgelê.

9. Hoe het Zion’s Watch Tower die Drie-eenheidsleer as vals blootgelê?

9 Die Bybelstudente het ook die Drie-eenheidsleer wat baie mense as heilig beskou, as vals blootgelê. In 1887 het Zion’s Watch Tower * gesê: “Die Skrif is baie duidelik oor die afsonderlike persoonlikhede van en presiese verhouding tussen Jehovah en ons Here Jesus.” Die artikel het toe gesê hoe verbasend dit is dat “die idee van ’n drie-enige God—drie Gode in een en terselfdertyd een God in drie—ooit gewild geraak het en algemeen aanvaar is. Maar die feit dat dit wel gebeur het, wys net hoe vas aan die slaap die kerk was terwyl die vyand haar in die kettings van dwaling vasgeboei het.”

10. Hoe het die Watch Tower na 1914 gewys as ’n betekenisvolle jaar?

10 Soos die volle titel van die tydskrif te kenne gegee het, het Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence groot aandag geskenk aan profesieë met betrekking tot Christus se teenwoordigheid. Die getroue gesalfde skrywers wat tot hierdie tydskrif bygedra het, het gesien dat Daniël se profesie oor die “sewe tye” verband hou met die tyd wanneer God se voornemens met betrekking tot die Messiaanse Koninkryk vervul sou word. Reeds in die 1870’s het hulle na 1914 gewys as die jaar wanneer hierdie sewe tye sou eindig (Dan. 4:25; Luk. 21:24). Hoewel ons broers destyds nog nie die belangrikheid van daardie betekenisvolle jaar ten volle begryp het nie, het hulle wyd en syd verkondig wat hulle geweet het—met verreikende gevolge.

11, 12. (a) Aan wie het broer Russell erkenning verleen vir wat hy ander geleer het? (b) Hoe belangrik was die werk wat Russell en sy metgeselle in die dekades voor 1914 verrig het?

11 Nie Russell of sy getroue metgeselle wou erkenning hê vir die ontdekking en begrip van hierdie lewensbelangrike geestelike waarhede nie. Russell het groot erkenning verleen aan ander wat hom voorafgegaan het. Maar hy het bowenal erkenning verleen aan Jehovah God, die een wat Sy volk leer wat hulle moet weet presies wanneer hulle dit moet weet. Dit is duidelik dat Jehovah se seën gerus het op die pogings van Russell en sy metgeselle om tussen die waarheid en leuens te onderskei. Met die verloop van die jare het dit al hoe duideliker geword dat hulle heeltemal anders is as die Christendom.

Broer Russell en sy intieme metgeselle het Bybelwaarhede bevorder

12 Die werk wat hierdie getroue mans gedurende die dekades voor 1914 ter bevordering van leerstellige waarheid verrig het, was eenvoudig verstommend! The Watch Tower and Herald of Christ’s Presence van 1 November 1917 het oor daardie vroeër jare gesê: “Miljoene mense is vandag vry van die vrees wat deur die leringe van die helse vuur en ander valse leerstellings veroorsaak is. . . . Die gety van Waarheid, wat meer as veertig jaar gelede begin het, styg geleidelik en sal aanhou styg totdat dit die hele aarde bedek. En die teenstanders daarvan kan net sowel die golwe van ’n magtige oseaan met ’n gewone besem probeer terugvee as om te voorkom dat die Waarheid regoor die aarde versprei.”

13, 14. (a) Hoe het die “boodskapper” die weg vir die Messiaanse Koning help berei? (b) Wat kan ons by ons broers van meer as ’n eeu gelede leer?

13 Dink hieraan: Sou mense gereed gewees het vir die begin van Christus se teenwoordigheid as hulle nie tussen Jesus en sy Vader, Jehovah, kon onderskei nie? Beslis nie! Hulle sou ook nie gereed gewees het nie as hulle gedink het dat onsterflikheid outomaties aan almal behoort en nie ’n kosbare gawe is wat slegs betreklik min van Christus se voetstapnavolgers ontvang nie; of as hulle gedink het dat God mense vir ewig in ’n helse vuur folter sonder enige hoop op verligting! Die “boodskapper” het ongetwyfeld die weg vir die Messiaanse Koning berei!

14 En wat van ons vandag? Wat kan ons by ons broers van meer as ’n eeu gelede leer? Ons moet ook ywerige lesers en studente van God se Woord wees (Joh. 17:3). Namate hierdie materialistiese wêreld in geestelike sin al hoe meer uitgeteer raak, moet ons aptyt vir geestelike voedsel al hoe groter word!—Lees 1 Timoteus 4:15.

“Gaan uit haar uit, my volk”

15. Tot watter besef het die Bybelstudente geleidelik gekom? (Sien ook die voetnoot.)

15 Die Bybelstudente het geleer dat dit noodsaaklik is om wêreldse kerke te verlaat. In 1879 het die Watch Tower van die “Babilonkerk” gepraat. Het dit verwys na die pousdom? Die Rooms-Katolieke Kerk? Dit is hoe Protestantse kerkgroepe die Bybelprofesieë oor Babilon eeue lank toegepas het. Maar die Bybelstudente het geleidelik tot die besef gekom dat al die kerke van die Christendom deel uitmaak van die hedendaagse “Babilon”. Waarom? Omdat hulle almal leerstellige leuens soos die bogenoemde verkondig. * Ná verloop van tyd het ons publikasies al hoe uitdrukliker gesê wat opregtes van hart wat lidmate van Babilon se kerke is, moet doen.

16, 17. (a) Hoe het Deel III van Millennial Dawn en die Watch Tower mense aangespoor om valse godsdiens te verlaat? (b) Watter faktor het die krag van hierdie vroeë waarskuwings verswak? (Sien die voetnoot.)

16 Byvoorbeeld, in 1891 het Deel III van Millennial Dawn God se verwerping van hedendaagse Babilon bespreek en gesê: “Die hele stelsel—’n stelsel van stelsels—is verwerp.” Dit het bygevoeg dat almal wat “nie met haar valse leerstellings en gebruike saamstem nie, hulle nou van haar moet afsonder”.

17 In Januarie 1900 het die Watch Tower raad gegee aan diegene wat hulle name nog nie van die registers van die Christendom se kerke verwyder het nie en wat dit probeer regverdig het deur te sê: “Ek is heeltemal aan die kant van die waarheid, en ek woon selde ander vergaderinge by.” Die artikel het gevra: “Maar is dit reg—om half uit en half in Babilon te wees? Is dít die gehoorsaamheid wat vereis word . . . en wat vir God welbehaaglik en aanneemlik is? Beslis nie. Hy [die kerklidmaat] het amptelik ’n verbond met die kerk aangegaan toe hy daarby aangesluit het, en hy moet al die vereistes van daardie verbond getrou nakom totdat hy . . . sy lidmaatskap amptelik opsê of kanselleer.” Oor die jare heen het hierdie boodskap al hoe kragtiger geword. * Knegte van Jehovah moet alle bande met valse godsdiens verbreek.

18. Waarom moes mense uit Babilon die Grote uitgaan?

18 Sou Christus as die pasgekroonde Koning ’n liggaam van voorbereide, gesalfde knegte op die aarde gehad het as sulke waarskuwings om uit Babilon die Grote uit te gaan, nie gereeld gegee is nie? Beslis nie, want slegs Christene wat nie meer in Babilon se greep is nie, kan Jehovah “met gees en waarheid aanbid” (Joh. 4:24). Is ons vandag eweneens vasbeslote om vry te bly van valse godsdiens? Laat ons gehoorsaam bly aan die opdrag: “Gaan uit haar uit, my volk”!—Lees Openbaring 18:4.

Hulle het vir aanbidding bymekaargekom

19, 20. Hoe het die Watch Tower God se volk aangespoor om vir aanbidding bymekaar te kom?

19 Die Bybelstudente het geleer dat medegelowiges vir aanbidding moet bymekaarkom, indien enigsins moontlik. Vir ware Christene is dit nie genoeg om net uit valse godsdiens uit te gaan nie. Dit is ook noodsaaklik om aan ware aanbidding deel te neem. Die Watch Tower het lesers reeds vanaf sy vroeë uitgawes aangespoor om vir aanbidding bymekaar te kom. In Julie 1880 het broer Russell byvoorbeeld vertel van ’n lesingsreis wat hy onderneem het en gesê hoe aanmoedigend al die vergaderinge was. Hy het lesers toe aangespoor om kaarte oor hulle vooruitgang in te stuur—waarvan party in die tydskrif gepubliseer sou word. Met watter doel? “Laat ons almal weet . . . hoe die Here julle seën; of julle voortgaan om met diegene met dieselfde kosbare geloof te vergader.”

Charles Russell saam met ’n groep vroeë Bybelstudente in Kopenhagen, Denemarke, in 1909

20 In 1882 het ’n artikel met die titel “Vergader saam” in die Watch Tower verskyn. Die artikel het Christene aangespoor om vergaderinge te hou “om mekaar geestelik op te bou, aan te moedig en te versterk”. Dit het gesê: “Dit maak nie saak of daar enigiemand onder julle is wat geleerd of begaafd is nie. Laat elkeen sy eie Bybel, papier en potlood bring, en maak goeie gebruik van soveel hulpmiddele as moontlik, soos Konkordansies . . . . Kies julle onderwerp; vra die leiding van die Gees om dit te verstaan; lees dan, dink, vergelyk teks met teks en julle sal beslis tot waarheid gelei word.”

21. Watter voorbeeld het die gemeente in Allegheny, Pennsilvanië, gestel met betrekking tot vergaderinge en herderswerk?

21 Die Bybelstudente se hoofkwartier was in Allegheny, Pennsilvanië, VSA. Daar het hulle ’n goeie voorbeeld gestel deur bymekaar te kom uit gehoorsaamheid aan die geïnspireerde raad in Hebreërs 10:24, 25. (Lees.) Jare later het ’n bejaarde broer, Charles Capen, vertel hoe hy as ’n seun daardie vergaderinge bygewoon het. Hy het geskryf: “Ek onthou nog een van die tekste wat op die muur van die Genootskap se byeenkomssaal geverf was. ‘Een is julle Heer, ja, Christus; en julle almal is broers.’ Dit was nog altyd vir my ’n betekenisvolle teks—daar is geen geestelike- en lekeklas onder Jehovah se volk nie” (Matt. 23:8). Broer Capen het ook vertel van die stimulerende vergaderinge, die liefdevolle aanmoediging en broer Russell se ywerige pogings om as herder geestelike hulp aan elke lid van die gemeente te verleen.

22. Hoe het getroue mense gereageer op die aansporing om Christelike vergaderinge by te woon, en watter les kan ons by hulle leer?

22 Getroue mense het ag geslaan op hierdie voorbeeld en op die riglyne wat gegee is. Gemeentes is gestig in ander state, soos Ohio en Michigan, en toe regoor Noord-Amerika en in ander lande. Dink hieraan: Sou getroue mense werklik gereed gewees het vir die teenwoordigheid van Christus as hulle nie opgelei is om die geïnspireerde raad te gehoorsaam om vir aanbidding bymekaar te kom nie? Beslis nie! Wat van ons vandag? Ons moet net so vasbeslote wees om Christelike vergaderinge getrou by te woon en elke geleentheid aan te gryp om saam te aanbid en mekaar geestelik op te bou.

Hulle het ywerig gepreek

23. Hoe het die Watch Tower duidelik getoon dat alle gesalfdes verkondigers van die waarheid moet wees?

23 Die Bybelstudente het geleer dat alle gesalfdes verkondigers van die waarheid moet wees. In 1885 het die Watch Tower gesê: “Ons moenie vergeet nie dat elke lid van die liggaam van gesalfdes gesalf is om te preek (Jes. 61:1), geroep is tot die bediening.” ’n Nommer van 1888 het hierdie aansporing bevat: “Ons opdrag is duidelik. . . . As ons dit ignoreer en onsself verskoon, is ons beslis trae knegte, wat bewys dat ons die hoë posisie waartoe ons geroep is, nie waardig is nie.”

24, 25. (a) Wat het Russell en sy intieme metgeselle gedoen behalwe om mense aan te spoor om te preek? (b) Hoe het een kolporteur sy werk beskryf “in die dae voordat motors algemeen was”?

24 Broer Russell en sy intieme metgeselle het mense nie net aangespoor om te preek nie. Hulle het ook traktate uitgegee wat eers Bible Students’ Tracts genoem is, en later Old Theology Quarterly. Dit is aan lesers van die Watch Tower voorsien om gratis aan die publiek te versprei.

Ons kan ons gerus afvra: ‘Is die predikingswerk die middelpunt van my lewe?’

25 Diegene wat hulle voltyds aan die bediening gewy het, is kolporteurs genoem. Charles Capen, wat vroeër gemeld is, was ’n kolporteur. Hy het later gesê: “Ek het kaarte van die Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames gebruik om my te help om die gebied in Pennsilvanië te dek. Hierdie kaarte het al die paaie aangedui, wat dit moontlik gemaak het om alle dele van elke distrik per voet te bereik. Soms het ek, nadat ek drie dae lank in die gebied bestellings vir die boeke in die reeks Studies in the Scriptures geneem het, ’n perd en perdekar gehuur sodat ek dit kon aflewer. Ek het dikwels by boere oornag. Dit was in die dae voordat motors algemeen was.”

’n Kolporteur. Let op die “Chart of the Ages” wat op die kant van die perdewa geverf is

26. (a) Waarom moes God se volk aan die predikingswerk deelneem om gereed te wees vir Christus se heerskappy? (b) Watter vrae kan ons ons gerus afvra?

26 Hierdie vroeë pogings in die predikingswerk het ongetwyfeld moed en ywer geverg. Sou ware Christene gereed gewees het vir Christus se heerskappy as hulle nie geleer is hoe belangrik die predikingswerk is nie? Beslis nie! Hierdie werk sou immers ’n uitsonderlike kenmerk van Christus se teenwoordigheid word (Matt. 24:14). God se volk moes bereid wees om hierdie lewensreddende werk die middelpunt van hulle lewe te maak. Ons kan ons vandag gerus afvra: ‘Is die predikingswerk die middelpunt van my lewe? Maak ek opofferings om soveel moontlik in hierdie werk te doen?’

God se Koninkryk word gebore!

27, 28. Wat het die apostel Johannes in ’n visioen gesien, en hoe het Satan en sy demone op die geboorte van die Koninkryk gereageer?

27 Uiteindelik het die betekenisvolle jaar 1914 aangebreek. Soos ons aan die begin van hierdie hoofstuk bespreek het, was geen mens ’n ooggetuie van die glorieryke gebeure in die hemel nie. Die apostel Johannes is egter ’n visioen gegee wat gebeure in simboliese terme beskryf het. Stel jou voor: Johannes sien “’n groot teken” in die hemel. God se “vrou”—sy organisasie van geesskepsele in die hemel—is swanger en gee geboorte aan ’n seun. Daar word vir ons gesê dat hierdie simboliese kind binnekort “met ’n ysterstaf as herder teenoor al die nasies sal optree”. Maar ná sy geboorte word die kind “weggeruk na God en na sy troon”. ’n Harde stem in die hemel sê: “Nou het die redding en die krag en die koninkryk van ons God en die gesag van sy Christus gekom.”—Op. 12:1, 5, 10.

28 Johannes het ongetwyfeld in die visioen die geboorte van die Messiaanse Koninkryk gesien. Dit was beslis ’n glorieryke gebeurtenis, maar nie almal was bly daaroor nie. Satan en sy demone het geveg teen die getroue engele, wat onder aanvoering van Migael, of Christus, was. Die gevolg? Ons lees: “Die groot draak [is] neergeslinger, die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei; hy is na die aarde neergeslinger, en sy engele is saam met hom neergeslinger.”—Op. 12:7, 9.

In 1914 het die Bybelstudente die teken van Christus se onsigbare teenwoordigheid begin onderskei

29, 30. Hoe het toestande ná die geboorte van die Messiaanse Koninkryk verander (a) op die aarde? (b) in die hemel?

29 Lank voor 1914 het die Bybelstudente gesê dat ’n tyd van benoudheid in hierdie betekenisvolle jaar sou begin. Maar nie eens hulle kon gedink het hoe akkuraat hierdie voorspelling sou wees nie. Soos Johannes se visioen geopenbaar het, sou Satan dan ’n selfs groter invloed op die mensegemeenskap begin uitoefen: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het” (Op. 12:12). In 1914 het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en het die teken van Christus se teenwoordigheid in koninklike mag wêreldwyd in vervulling begin gaan. Die “laaste dae” van hierdie stelsel van dinge het begin.—2 Tim. 3:1.

30 Maar in die hemel was daar vreugde. Satan en sy demone is vir ewig verdryf. Johannes se verslag sê: “Daarom, wees bly, o hemele en julle wat daarin woon!” (Op. 12:12). Noudat die hemel gereinig en Jesus as Koning gekroon is, was die Messiaanse Koninkryk gereed om op te tree ten behoewe van God se volk op die aarde. Wat sou dit doen? Soos ons aan die begin van hierdie hoofstuk gesien het, sou Christus as “die boodskapper van die verbond” eers as ’n louteraar van God se knegte hier op die aarde optree. Wat sou dit beteken?

’n Tyd van toetse

31. Wat het Maleagi oor die tydperk van loutering voorspel, en hoe het hierdie profesie in vervulling begin gaan? (Sien ook die voetnoot.)

31 Maleagi het voorspel dat die louteringsproses nie maklik sou wees nie. Hy het geskryf: “Wie sal die dag van sy koms verdra, en wie sal standhou wanneer hy verskyn? Want hy sal soos die vuur van ’n louteraar wees en soos die loog van die wassers” (Mal. 3:2). Hoe waar was hierdie woorde tog! Vanaf 1914 het God se volk op die aarde ’n reeks groot toetse en beproewinge verduur. Terwyl die Eerste Wêreldoorlog gewoed het, is baie Bybelstudente hewig vervolg en in die gevangenis gegooi. *

32. Watter interne probleme het God se volk ná 1916 geteister?

32 Ander probleme het van binne die organisasie gekom. In 1916 het broer Russell op die vroeë ouderdom van 64 gesterf, wat baie van God se knegte geskok agtergelaat het. Sy dood het geopenbaar dat party een voorbeeldige man as te belangrik beskou het. Hoewel broer Russell nie sulke verering wou hê nie, het party hom as ’t ware begin aanbid. Baie het gedink dat die progressiewe openbaring van waarheid met sy dood tot ’n einde gekom het, en party was hewig gekant teen enige pogings om vooruit te gaan. Hierdie gesindheid het gelei tot grootskaalse afvalligheid, wat die organisasie verdeel het.

33. Hoe het onvervulde verwagtinge God se volk getoets?

33 Onvervulde verwagtinge was nog ’n toets. Hoewel die Watch Tower tereg na 1914 gewys het as die jaar wanneer die Heidense Tye sou eindig, het die broers nog nie verstaan wat in hierdie jaar sou plaasvind nie (Luk. 21:24). Hulle het gedink dat Christus sy gesalfde bruidsklas in 1914 na die hemel sou neem om daar saam met hom te regeer. Hierdie verwagtinge is nie vervul nie. Laat in 1917 het The Watch Tower aangekondig dat ’n 40 jaar lange oestyd in die lente van 1918 sou eindig. Maar die predikingswerk het nie geëindig nie. Dit het ná hierdie datum bly floreer. Die tydskrif het aan die hand gedoen dat die oes wel geëindig het, maar dat oesoorblyfsels nog ingesamel moes word. Baie het nietemin uit teleurstelling opgehou om Jehovah te dien.

34. Watter reusetoets het in 1918 ontstaan, en waarom het die Christendom gedink dat God se volk “dood” is?

34 ’n Reusetoets het in 1918 ontstaan. J.F. Rutherford, wat C.T. Russell opgevolg het om die leiding onder God se volk te neem, is saam met sewe ander verantwoordelike broers in hegtenis geneem. Hulle is ten onregte lang vonnisse opgelê en na die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, VSA, gestuur. Dit het ’n ruk lank gelyk of die werk van God se volk lamgelê is. Baie van die Christendom se geestelikes was verheug. Omdat die “leiers” in die gevangenis was, die hoofkwartier in Brooklyn gesluit is en die predikingswerk in Amerika en Europa hewig teëgestaan is, het die geestelikes aangeneem dat die verpestelike Bybelstudente “dood” is—en dus nie meer ’n bedreiging is nie (Op. 11:3, 7-10). Hoe verkeerd was hulle tog!

’n Tyd van herlewing!

35. Waarom het Jesus toegelaat dat beproewinge oor sy volgelinge kom, en wat het hy gedoen om hulle te help?

35 Min het die vyande van die waarheid geweet dat Jesus toegelaat het dat hierdie beproewinge oor sy volk kom net omdat Jehovah toe “as ’n louteraar en reiniger van silwer” gesit het (Mal. 3:3). Jehovah en sy Seun was seker dat die getroues hierdie vurige toetse sou deurstaan en gevolglik gelouter, gesuiwer en beter geskik as ooit tevore vir die diens van die Koning sou wees. Vroeg in 1919 het dit duidelik geword dat God se gees gedoen het wat die vyande van sy volk gedink het onmoontlik is. Die getroues is weer lewend gemaak! (Op. 11:11). Toe het Christus klaarblyklik ’n belangrike aspek van die teken van die laaste dae vervul. Hy het “die getroue en verstandige slaaf” aangestel, ’n klein groepie gesalfde mans wat die leiding onder sy volk sou neem deur geestelike voedsel op die regte tyd te voorsien.—Matt. 24:45-47.

36. Wat het getoon dat God se volk geestelik herlewe het?

36 Broer Rutherford en sy metgeselle is op 26 Maart 1919 uit die gevangenis vrygelaat. ’n Streekbyeenkoms is gou vir daardie September gereël. Planne is gemaak om ’n tweede tydskrif uit te gee, wat The Golden Age genoem sou word. Dit was ’n medetydskrif van The Watch Tower en was bedoel vir gebruik in die veldbediening. * In dieselfde jaar is die eerste nommer van die Bulletin uitgegee, wat nou Ons Christelike Lewe en Bediening—Vergaderingwerkboek is. Dit was van die begin af ’n stimulus vir die veldbediening. Daar is sonder twyfel sedert 1919 al hoe meer klem op die persoonlike huis-tot-huis-bediening gelê.

37. In watter opsigte het party in die jare ná 1919 dislojaal geword?

37 Die predikingswerk het steeds Christus se knegte gelouter, want dié onder hulle wat trots en hoogmoedig was, was nie bereid om sulke nederige werk te doen nie. Dié wat nie aan die werk wou deelneem nie, het hulle van die getroues afgeskei. In die jare ná 1919 het party dislojales verbitterd geword, hulle tot laster gewend en hulle selfs aan die kant van die vervolgers van Jehovah se getroue knegte geskaar.

38. As wat dien die suksesse en oorwinnings van Christus se volgelinge op die aarde vir ons?

38 Ondanks hierdie aanvalle het Christus se volgelinge op die aarde egter voortgegaan om te floreer en geestelik voorspoedig te wees. Elke sukses, elke oorwinning, wat hulle sedertdien behaal het, dien vir ons as kragtige bewys dat God se Koninkryk regeer! Slegs danksy God se daadwerklike ondersteuning en seën—wat hy deur sy Seun en die Messiaanse Koninkryk voorsien—kon ’n groep onvolmaakte mense oorwinning ná oorwinning oor Satan en hierdie goddelose stelsel van dinge behaal!—Lees Jesaja 54:17.

Broer Rutherford lewer ’n besielende toespraak by ’n streekbyeenkoms net maande ná sy vrylating uit die gevangenis

39, 40. (a) Wat is party kenmerke van hierdie publikasie? (b) Hoe kan ’n studie van hierdie boek jou help?

39 In die volgende hoofstukke sal ons ondersoek wat God se Koninkryk in die eeu vandat dit in die hemel gebore is, op die aarde gedoen het. Elke deel van hierdie boek sal ’n afsonderlike aspek van die Koninkrykswerk hier op die aarde bespreek. In elke hoofstuk sal ’n hersieningsvenster ons persoonlik help bepaal presies hoe werklik die Koninkryk vir ons is. In die laaste hoofstukke sal ons bespreek wat om te verwag wanneer die Koninkryk in die nabye toekoms kom om die goddeloses te vernietig en ’n paradysaarde tot stand te bring. Hoe sal ’n studie van hierdie publikasie jou help?

40 Satan wil jou geloof in God se Koninkryk ondermyn. Maar Jehovah wil jou geloof versterk sodat dit jou sal beskerm en jou sterk sal laat bly (Ef. 6:16). Ons spoor jou dus aan om hierdie publikasie biddend te bestudeer. Vra jou deurgaans af: ‘Is God se Koninkryk vir my ’n werklikheid?’ Hoe werkliker dit nou vir jou is, hoe waarskynliker is dit dat jy, as ’n getroue en daadwerklike ondersteuner van daardie Koninkryk, die dag sal beleef wanneer almal wat lewe, sal sien dat God se Koninkryk ’n werklikheid is en dat dit regeer!

^ par. 7 Om meer oor Grew, Stetson en Storrs uit te vind, sien die boek Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 45-46.

^ par. 9 Die Wagtoring is eers vanaf 1940 in Afrikaans vertaal.

^ par. 15 Hoewel die Bybelstudente besef het dat hulle godsdiensorganisasies moet verlaat wat vriende van die wêreld is, het hulle nog jare lank persone as Christenbroers beskou wat, al was hulle nie Bybelstudente nie, geloof in die losprys bely het en gesê het dat hulle hulle aan God toegewy het.

^ par. 17 Een faktor wat die krag van hierdie vroeë waarskuwings verswak het, was dat dit hoofsaaklik op Christus se klein kuddetjie van 144 000 toegepas is. Ons sal in Hoofstuk 5 sien dat daar voor 1935 gemeen is dat die “groot menigte” van Openbaring 7:9, 10 baie lidmate van die Christendom se kerke sou insluit en dat hulle ’n sekondêre hemelse klas gemaak sou word as beloning omdat hulle hulle reg aan die einde aan Christus se kant geskaar het.

^ par. 31 In September 1920 is ’n spesiale nommer van The Golden Age (nou Ontwaak!) uitgegee wat baie voorvalle van vervolging in Duitsland, Engeland, Kanada en die Verenigde State gedurende die oorlog breedvoerig beskryf het—waarvan party verskriklik wreed was. Daarenteen was daar in die dekades voor die Eerste Wêreldoorlog baie min vervolging van hierdie aard.

^ par. 36 The Watch Tower was jare lank hoofsaaklik bedoel vir lede van die klein kuddetjie om hulle persoonlik op te bou.