Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 7

Predikingsmetodes​—Alle moontlike maniere word gebruik om mense te bereik

Predikingsmetodes​—Alle moontlike maniere word gebruik om mense te bereik

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

God se volk gebruik ’n verskeidenheid predikingsmetodes om die grootste gehoor moontlik te bereik

1, 2. (a) Watter tegniek het Jesus gebruik om met ’n groot gehoor te praat? (b) Hoe het getroue dissipels van Christus sy voorbeeld gevolg, en waarom?

OP DIE oewer van ’n meer drom ’n skare om Jesus saam, maar hy klim op ’n boot en vaar ’n entjie weg. Waarom? Hy weet dat die wateroppervlak die klank van sy stem sal versterk en dat die groot gehoor sy boodskap duideliker sal kan hoor.—Lees Markus 4:1, 2.

2 In die dekades rondom die geboorte van die Koninkryk het getroue dissipels van Christus sy voorbeeld gevolg en vindingryke metodes gebruik om die goeie nuus van die Koninkryk aan groot gehore te verkondig. Onder leiding van die Koning gaan God se volk voort om nuwe metodes uit te dink en aanpassings te maak namate omstandighede verander en nuwe tegnologie beskikbaar word. Ons wil soveel mense moontlik bereik voordat die einde kom (Matt. 24:14). Kyk na net ’n paar van die metodes wat ons al gebruik het om mense te bereik, ongeag waar hulle woon. Dink ook aan maniere waarop jy die geloof kan navolg van diegene wat die goeie nuus in die vroeë dae versprei het.

Groot gehore word bereik

3. Waarom het ons gebruik van koerante vyande van die waarheid gefrustreer?

3 Koerante. Broer Russell en sy metgeselle het die Watch Tower al sedert 1879 uitgegee, en dit het die Koninkryksboodskap aan baie mense bekend gemaak. Maar in die dekade voor 1914 het Christus sake blykbaar so bewerkstellig dat die goeie nuus ’n selfs groter gehoor sou bereik. ’n Ketting van gebeure het in 1903 begin. In daardie jaar het dr. E.L. Eaton, ’n woordvoerder van ’n groep Protestantse predikante in Pennsilvanië, Charles Taze Russell uitgedaag tot ’n reeks debatte oor Bybelleerstellings. In ’n brief aan Russell het Eaton geskryf: “Ek dink dat ’n openbare debat oor ’n paar van die kwessies waaroor ek en jy verskil, . . . vir die publiek baie interessant sal wees.” Russell en sy metgeselle het ook gedink dat die publiek daarin sou belangstel, en daarom het hulle gereël dat die debatte in ’n vooraanstaande koerant, The Pittsburgh Gazette, gepubliseer word. Die koerantartikels was so gewild en Russell se duidelike uiteensetting van Bybelwaarheid so boeiend dat die koerant aangebied het om Russell se lesings elke week te publiseer. Hoe moes hierdie verwikkeling vyande van die waarheid tog gefrustreer het!

Teen 1914 het meer as 2 000 koerante Russell se preke gepubliseer

4, 5. Watter eienskap het Russell aan die dag gelê, en hoe kan diegene in posisies van verantwoordelikheid sy voorbeeld volg?

4 Kort voor lank wou nog koerante Russell se lesings publiseer. Teen 1908 het die Watch Tower berig dat die preke “gereeld in elf koerante” gepubliseer word. Maar broers wat vertroud was met die koerantbedryf, het vir broer Russell gesê dat meer koerante Bybelartikels sou publiseer as hy die Genootskap se kantoor van Pittsburgh na ’n bekender stad verskuif. Nadat Russell hierdie raad en ander faktore oorweeg het, het hy die kantoor in 1909 na Brooklyn, New York, verskuif. Die gevolg? Net maande later was daar al sowat 400 koerante wat die lesings gepubliseer het, en die getal het steeds toegeneem. Teen die tyd dat die Koninkryk in 1914 opgerig is, is Russell se preke en artikels in meer as 2 000 koerante in vier tale gepubliseer!

5 Watter belangrike les leer ons uit hierdie verwikkeling? Diegene wat vandag in God se organisasie ’n mate van gesag het, sal verstandig wees as hulle Russell se nederigheid navolg. In watter opsig? Neem die raad van ander in ag wanneer belangrike besluite geneem moet word.—Lees Spreuke 15:22.

6. Watter uitwerking het die waarhede wat in koerantartikels gepubliseer is, op een persoon gehad?

6 Die Koninkrykswaarhede wat in daardie koerantartikels gepubliseer is, het mense se lewens verander (Heb. 4:12). Ora Hetzel, wat in 1917 gedoop is, was een van die baie mense wat die waarheid die eerste keer deur hierdie artikels geleer het. “Nadat ek getroud is”, het Ora gesê, “het ek vir my ma in Rochester, Minnesota, gaan kuier. Toe ek daar aankom, was sy besig om koerantartikels uit te knip. Dit was Russell se lesings. My ma het aan my verduidelik wat sy daaruit geleer het.” Ora het die waarhede wat sy geleer het, aangeneem en was sowat ses dekades lank ’n getroue verkondiger van God se Koninkryk.

7. Waarom het diegene wat die leiding geneem het, die gebruik van koerante heroorweeg?

7 In 1916 het twee sleutelgebeure diegene wat die leiding geneem het, beweeg om die gebruik van koerante in die verspreiding van die goeie nuus te heroorweeg. Eerstens het die Groot Oorlog wat destyds gewoed het, dit moeilik gemaak om benodigdhede vir drukwerk in die hande te kry. In 1916 het ’n verslag van ons koerantafdeling in Brittanje die uitdaging beklemtoon en gesê: “Daar is net oor die 30 koerante wat tans die Preke publiseer. Hierdie getal sal binnekort heel waarskynlik grootliks daal weens die stygende koste van papier.” Die tweede gebeurtenis was die dood van broer Russell op 31 Oktober 1916. The Watch Tower van 15 Desember 1916 het dus aangekondig: “Noudat broer Russell oorlede is, sal die publisering van preke [in die koerante] heeltemal gestaak word.” Hoewel hierdie predikingsmetode beëindig is, was ander metodes, soos die “Fotodrama van die Skepping”, nog steeds baie suksesvol.

8. Wat was betrokke by die vervaardiging van die “Fotodrama van die Skepping”?

8 Skyfie-en-rolprentvertonings. Dit het Russell en sy metgeselle ongeveer drie jaar geneem om die “Fotodrama van die Skepping” te vervaardig, wat in 1914 vrygestel is (Spr. 21:5). Die Drama, soos dit genoem is, was ’n vindingryke kombinasie van rolprente, klankopnames en kleurskyfies. Honderde mense het deelgeneem aan die opvoering van Bybeltonele wat op film vasgelê is, en selfs diere het daarin verskyn. “Die meeste diere van een groot dieretuin is gebruik om Noag se deel in die groot vertoning as ’n rolprent met spraak te vervaardig”, sê ’n berig uit 1913. En elkeen van die honderde glasskyfies wat in die produksie gebruik is, is deur kunstenaars in Londen, New York, Parys en Philadelphia met die hand geskilder.

9. Waarom is soveel tyd en geld aan die vervaardiging van die “Fotodrama” bestee?

9 Waarom is soveel tyd en geld aan die vervaardiging van die “Fotodrama” bestee? ’n Resolusie wat by die reeks streekbyeenkomste in 1913 aangeneem is, verduidelik: “Die ongeëwenaarde sukses wat die Amerikaanse koerante daarin behaal het om die openbare mening te vorm deur middel van tekenprente en illustrasies in hulle nuus- en tydskrifgedeeltes, asook die merkwaardige gewildheid en aanpasbaarheid van rolprente, het bewys hoe nuttig dit is, en dit gee ons, na ons mening, as progressiewe predikers en Bybelklasonderrigters, alle rede om ons volle ondersteuning te gee aan die gebruik van rolprente en stereoptikonskyfies as ’n doeltreffende en wenslike metode vir evangeliste en onderrigters.”

Bo: ’n “Fotodrama”-projeksiekamer; onder: “Fotodrama”-glasskyfies

10. In watter mate is die “Fotodrama” vertoon?

10 Gedurende 1914 is die “Fotodrama” elke dag in 80 stede vertoon. Byna agtmiljoen mense in die Verenigde State en Kanada het die vertonings gesien. In daardie selfde jaar is die “Fotodrama” in Australië, Brittanje, Denemarke, Duitsland, Finland, Nieu-Seeland, Noorweë, Swede en Switserland vertoon. ’n Vereenvoudigde weergawe van die vertoning, wat nie die rolprente ingesluit het nie, is saamgestel vir gebruik in kleiner dorpe. Hierdie weergawe—die “Eurekadrama”—was goedkoper om te vervaardig en makliker om te vervoer. Teen 1916 is die “Fotodrama” of die “Eurekadrama” in Armeens, Deens-Noors, Duits, Frans, Grieks, Italiaans, Pools, Spaans en Sweeds vertaal.

Gedurende 1914 is die “Fotodrama” in stampvol ouditoriums vertoon

11, 12. Watter uitwerking het die “Fotodrama” op ’n jong man gehad, en watter voorbeeld het hy gestel?

11 Die Franse vertaling van die “Fotodrama” het ’n groot uitwerking op die 18-jarige Charles Rohner gehad. “Dit is in my dorp—Colmar, Alsace, Frankryk—vertoon”, sê Charles. “Van die begin af het die duidelike uiteensetting van Bybelwaarheid my beïndruk.”

12 Gevolglik is Charles gedoop, en hy het in 1922 die voltydse diens betree. Een van sy eerste toewysings was om te help met die vertoning van die “Fotodrama” aan gehore in Frankryk. Charles sê aangaande hierdie werk: “Ek is ’n paar take gegee—om die viool te speel, om die rekeningkneg te wees en om die lektuurkneg te wees. Ek is ook gevra om die gehoor stil te maak voordat die program begin. Gedurende die pouse het ons lektuur aangebied. Ons het aan elke broer of suster ’n gedeelte van die saal toegewys. Elkeen het ’n arm vol lektuur gehad en het elke persoon in daardie gedeelte genader. Ons het ook tafels vol lektuur by die ingang van die saal gehad.” In 1925 is Charles genooi om by Bethel in Brooklyn, New York, te dien. Daar is hy aangestel om ’n orkes vir die nuwe radiostasie WBBR te dirigeer. In die lig van broer Rohner se voorbeeld kan ons ons afvra: ‘Is ek bereid om enige toewysing te aanvaar wat ek gegee word om die Koninkryksboodskap te help versprei?’—Lees Jesaja 6:8.

13, 14. Hoe is die radio gebruik om die goeie nuus te versprei? (Sien ook die vensters “ Programme op WBBR” en “ ’n Betekenisvolle streekbyeenkoms”.)

13 Radio. In die 1920’s het die werk met die “Fotodrama” begin afneem, maar die gebruik van die radio het na vore getree as ’n belangrike manier om die goeie nuus van die Koninkryk te versprei. Op 16 April 1922 het broer Rutherford sy eerste radio-uitsending vanuit die Metropolitan Opera House in Philadelphia, Pennsilvanië, gedoen. Na raming het 50 000 mense die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” gehoor. Toe, in 1923, is ’n streekbyeenkomssessie vir die eerste keer uitgesaai. Diegene wat die leiding geneem het, het besluit dat dit verstandig sou wees om nie net kommersiële radiostasies te gebruik nie, maar om ook ons eie stasie te bou, wat op Staten Island, New York, gebou en as WBBR geregistreer is. Die eerste program is op 24 Februarie 1924 uitgesaai.

Na raming het 50 000 mense in 1922 die radio-uitsending van die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” gehoor

14 The Watch Tower van 1 Desember 1924 het verduidelik wat die doel van WBBR is en gesê: “Ons glo dat die radio die goedkoopste en doeltreffendste manier is wat tot nog toe gebruik is om die boodskap van die waarheid te versprei.” Toe het dit bygevoeg: “As die Here dit goed vind om nog radiostasies vir die verspreiding van die waarheid te bou, sal hy die geld op sy eie manier voorsien” (Ps. 127:1). Teen 1926 het Jehovah se volk ses radiostasies besit. Twee was in die Verenigde State—WBBR in New York en WORD naby Chicago. Die ander vier was in Kanada: in Alberta, Brits-Columbië, Ontario en Saskatchewan.

15, 16. (a) Hoe het die geestelikes in Kanada op ons uitsendings gereageer? (b) Hoe het radiolesings en die huis-tot-huis-werk mekaar aangevul?

15 Hierdie uitsendings van Bybelwaarheid oor so ’n groot gebied het nie ongemerk by die geestelikes van die Christendom verbygegaan nie. Albert Hoffmann, wat vertroud was met die werk wat by die radiostasie in Saskatchewan, Kanada, gedoen is, het gesê: “Al hoe meer mense het van die Bybelstudente [soos Jehovah se Getuies destyds genoem is] te wete gekom. ’n Wonderlike getuienis is tot 1928 gegee, toe die geestelikes druk op amptenare uitgeoefen het en al die Bybelstudente se stasies in Kanada hulle lisensies verloor het.”

16 Ondanks die sluiting van ons radiostasies in Kanada is Bybellesings nog steeds deur kommersiële stasies uitgesaai (Matt. 10:23). Om die doeltreffendheid van hierdie programme te vergroot, het The Watch Tower en The Golden Age (nou Ontwaak!) ’n lys van kommersiële stasies bevat wat Bybelwaarheid uitgesaai het, sodat verkondigers mense in die huis-tot-huis-werk kon aanspoor om op hulle plaaslike stasies na die lesings te luister. Watter uitwerking het dit gehad? Die Bulletin vir Januarie 1931 sê: “Die radiowerk is ’n groot aansporing vir die vriende in hulle werwingswerk van deur tot deur. Die kantoor het baie berigte ontvang oor mense wat na die radioprogramme geluister het en, omdat hulle die lesings van broer Rutherford gehoor het, die boeke wat vir hulle aangebied is, geredelik geneem het.” Die Bulletin het die radio-uitsendings en die huis-tot-huis-werk beskryf as “die twee vernaamste predikingsmetodes van die Here se organisasie”.

17, 18. Hoe het die radio nog steeds ’n rol gespeel al het omstandighede verander?

17 Gedurende die 1930’s is ons gebruik van kommersiële radiostasies al hoe meer teëgestaan. Aan die einde van 1937 het Jehovah se volk hulle dus by die veranderende omstandighede aangepas. Hulle het opgehou om van kommersiële uitsendings gebruik te maak en het hulle selfs meer op die huis-tot-huis-bediening toegespits. * Nietemin het die radio nog steeds ’n belangrike rol in die verspreiding van die Koninkryksboodskap in party afgeleë of polities afgesonderde dele van die wêreld gespeel. Byvoorbeeld, van 1951 tot 1991 het ’n stasie in Wes-Berlyn, Duitsland, gereeld Bybeltoesprake uitgesaai sodat mense wat in dele van die destydse Oos-Duitsland gewoon het, die Koninkryksboodskap kon hoor. Vanaf 1961 het ’n nasionale radiostasie in Suriname, Suid-Amerika, meer as drie dekades lank elke week ’n 15 minuut lange program uitgesaai wat Bybelwaarhede bekend gemaak het. Van 1969 tot 1977 het die organisasie meer as 350 opnames in die reeks “Die hele Skrif is nuttig” vir radio-uitsending gemaak. Die programme is in die Verenigde State deur 291 radiostasies in 48 state uitgesaai. In 1996 het ’n radiostasie in Apia, die hoofstad van Samoa, in die Stille Oseaan, ’n weeklikse program uitgesaai wat “Antwoorde op jou Bybelvrae” genoem is.

18 Teen die einde van die 20ste eeu het die radio nie meer ’n belangrike rol in die verspreiding van die goeie nuus gespeel nie. Maar toe het ’n nuwe tegnologie dit moontlik gemaak om ’n groter gehoor as ooit tevore te bereik.

19, 20. Waarom het Jehovah se volk jw.org ontwerp, en hoe doeltreffend is dit? (Sien ook die venster “ JW.ORG.”)

19 Die Internet. Teen 2013 het meer as 2,7 miljard mense, byna 40 persent van die wêreldbevolking, al by die Internet aangesluit. Volgens sekere skattings het ongeveer tweemiljard mense toegang daartoe op draagbare toestelle, soos slimfone en tablette. Hierdie syfer styg voortdurend regoor die wêreld, maar die vinnigste toename in Internet-gebruik op mobiele toestelle vind tans in Afrika plaas, waar daar meer as 90 miljoen Internet-inskrywings vir mobiele toestelle is. Hierdie verwikkelinge het die manier waarop baie mense inligting ontvang, wesenlik verander.

20 In 1997 het Jehovah se volk hierdie metode van massakommunikasie begin benut. Teen 2013 was die webwerf jw.org in sowat 300 tale beskikbaar en kon Bybelse inligting in meer as 520 tale afgelaai word. Elke dag ontvang die webwerf meer as 750 000 individuele besoeke. Benewens die video’s waarna gekyk word, laai mense ook elke maand meer as 3 miljoen volledige boeke, 4 miljoen volledige tydskrifte en 22 miljoen oudio-items af.

21. Wat het jy geleer uit die ondervinding in verband met Sina?

21 Die webwerf het ’n kragtige metode geword om die goeie nuus van God se Koninkryk te versprei, selfs in lande waar daar beperkings op ons predikingswerk is. Vroeg in 2013 het ’n man met die naam Sina byvoorbeeld op die webwerf jw.org afgekom en die wêreldhoofkwartier, wat in die Verenigde State is, gebel om meer inligting oor die Bybel aan te vra. Waarom was dit ’n buitengewone oproep? Sina kom uit ’n Moslemagtergrond en woon in ’n afgeleë dorpie in ’n land waar daar streng beperkings op die werk van Jehovah se Getuies is. Na aanleiding van hierdie oproep is reëlings getref sodat Sina twee keer per week die Bybel saam met ’n Getuie in die Verenigde State kon studeer. Die studie is met behulp van ’n Internet-videodiens gehou.

Individue word geleer

22, 23. (a) Het die metodes om groot gehore te bereik, die deur-tot-deur-bediening vervang? (b) Hoe het die Koning ons pogings geseën?

22 Nie een van die metodes wat ons gebruik het om groot gehore te bereik, soos koerante, die “Fotodrama”, radioprogramme en die webwerf, was bedoel om die deur-tot-deur-bediening te vervang nie. Waarom nie? Omdat Jehovah se volk geleer het uit die patroon wat Jesus vasgestel het. Hy het nie net vir groot skares gepreek nie; hy het hom eerder daarop toegespits om individue te help (Luk. 19:1-5). Jesus het ook sy dissipels opgelei om dit te doen, en hy het hulle ’n boodskap gegee om oor te dra. (Lees Lukas 10:1, 8-11.) Soos in Hoofstuk 6 bespreek is, het diegene wat die leiding geneem het, altyd alle knegte van Jehovah aangespoor om van aangesig tot aangesig met mense te praat.—Hand. 5:42; 20:20.

23 Eenhonderd jaar ná die Koninkryk se geboorte is daar byna agtmiljoen verkondigers wat ander help om van God se voornemens te leer. Die Koning het sonder twyfel ons metodes om die Koninkryk te adverteer, geseën. Soos die volgende hoofstuk sal toon, het hy ons ook voorsien van die hulpmiddele wat ons nodig het om die goeie nuus aan elke nasie, stam en taal te verkondig.—Op. 14:6.

^ par. 17 In 1957 het diegene wat die leiding geneem het, besluit om WBBR in New York, ons laaste radiostasie, te sluit.