Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 8

Hulpmiddele vir die predikingswerk​—Die vervaardiging van lektuur vir die wêreldveld

Hulpmiddele vir die predikingswerk​—Die vervaardiging van lektuur vir die wêreldveld

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Jehovah hou aan om ons te voorsien van die hulpmiddele wat ons nodig het om mense uit elke nasie, stam en taal te leer

1, 2. (a) Wat het die goeie nuus in die eerste eeu regoor die Romeinse Ryk help versprei? (b) Watter bewyse het ons van Jehovah se steun in ons dag? (Sien die venster “ Goeie nuus in meer as 670 tale”.)

BESOEKERS aan Jerusalem kon skaars glo wat hulle hoor. Galileërs het vreemde tale vlot gepraat, en die boodskap wat hulle oorgedra het, het hulle luisteraars se aandag geboei. Dit was Pinkster 33 HJ, en die dissipels het die gawe om in verskillende tale te praat, wonderdadig ontvang—’n bewys van God se steun. (Lees Handelinge 2:1-8, 12, 15-17.) Die goeie nuus wat hulle daardie dag verkondig het, het mense uit verskillende agtergronde bereik en het daarna regoor die Romeinse Ryk versprei.—Kol. 1:23.

2 Vandag praat God se knegte nie wonderdadig in verskillende tale nie. Nietemin vertaal hulle die Koninkryksboodskap in meer as 670 tale, baie meer tale as waarin daar in die eerste eeu gepreek is (Hand. 2:9-11). God se volk het lektuur in sulke groot hoeveelhede en in soveel tale vervaardig dat die Koninkryksboodskap elke uithoek van die aarde bereik het. * Dit is nog ’n onmiskenbare bewys dat Jehovah die Koning Jesus Christus gebruik om ons predikingswerk te rig (Matt. 28:19, 20). Terwyl ons kyk na net ’n paar van die hulpmiddele wat ons gebruik het om hierdie werk oor die afgelope 100 jaar uit te voer, let op hoe die Koning ons progressief opgelei het om belangstelling in individue te toon en ons aangespoor het om onderrigters van God se Woord te wees.—2 Tim. 2:2.

Die Koning rus sy knegte toe om saad van waarheid te plant

3. Waarom gebruik ons ’n verskeidenheid hulpmiddele in ons predikingswerk?

3 Jesus het “die woord van die koninkryk” met saad vergelyk, en ’n persoon se hart met grond (Matt. 13:18, 19). Net soos ’n tuinier dalk ’n verskeidenheid gereedskap gebruik om die grond los te maak en dit voor te berei om saad te plant, het Jehovah se volk ook al ’n verskeidenheid hulpmiddele gebruik wat hulle gehelp het om die harte van miljoene mense voor te berei om die Koninkryksboodskap te ontvang. Party van hierdie hulpmiddele was vir ’n beperkte tyd nuttig. Ander, soos boeke en tydskrifte, is nog steeds baie nuttig. In teenstelling met die meeste metodes van massakommunikasie wat in die vorige hoofstuk gemeld is, het al die hulpmiddele wat hier bespreek word, Koninkryksverkondigers gehelp om persoonlik met mense in aanraking te kom.—Hand. 5:42; 17:2, 3.

Die vervaardiging van grammofone en klanktoerusting, in Toronto, Kanada

4, 5. Hoe is grammofoonplate gebruik, maar wat het hierdie werk kortgekom?

4 Opnames van toesprake. In die 1930’s en tot in die 1940’s het verkondigers opnames van Bybellesings gebruik wat op draagbare grammofone gespeel is. Elke opname was minder as vyf minute lank. Die plate het soms kort titels gehad, soos “Drie-eenheid”, “Vaevuur” en “Koninkryk”. Hoe is hierdie plate gebruik? Broer Clayton Woodworth jr., wat in 1930 in die Verenigde State gedoop is, het gesê: “Ek het ’n klein veeraangedrewe koffergrammofoon gedra. Ek moes die naald presies op die regte plek op die rand van die plaat sit as ek wou hê dat dit reg moes speel. Ek het na ’n deur toe gestap, die koffer oopgemaak, die naald op die regte plek gesit en die deurklokkie gelui. Wanneer die huisbewoner die deur oopgemaak het, het ek gesê: ‘Ek het ’n belangrike boodskap wat ek wil hê jy moet hoor.’” Wat was die reaksie? “Baie kere het die persoon gunstig gereageer”, het broer Woodworth gesê. “Ander kere het mense eenvoudig die deur toegemaak. Soms het hulle gedink dat ek grammofone verkoop.”

Teen 1940 is meer as 90 verskillende toesprake opgeneem en meer as ’n miljoen plate gemaak

5 Teen 1940 is meer as 90 verskillende toesprake opgeneem en meer as ’n miljoen plate gemaak. John E. Barr, wat destyds in Brittanje gepionier het en later op die Bestuursliggaam gedien het, het gesê: “Gedurende die jare van 1936 tot 1945 was ’n grammofoon altyd my metgesel. Trouens, ek het destyds heel verlore gevoel sonder een. Om broer Rutherford se stem by die deure te hoor, was baie aanmoedigend; dit het gevoel asof hy persoonlik daar is. Die grammofoonwerk het natuurlik nog die onderrigtingsaspek van die bediening kortgekom, die vermoë om mense se harte te raak.”

6, 7. (a) Wat was die voordele en die beperkings van die getuieniskaarte? (b) In watter sin het Jehovah ‘woorde in ons mond gelê’?

6 Getuieniskaarte. Vanaf 1933 is verkondigers aangespoor om getuieniskaarte in hulle deur-tot-deur-bediening te gebruik. ’n Getuieniskaart was omtrent 7,6 by 12,7 sentimeter. Dit het ’n kort Bybelboodskap bevat, asook ’n beskrywing van Bybellektuur wat die huisbewoner kon verkry. ’n Verkondiger het die kaart eenvoudig vir die huisbewoner gegee en hom gevra om dit te lees. “Ek het van die getuieniskaartwerk gehou”, sê Lilian Kammerud, wat uiteindelik as ’n sendeling in Puerto Rico en Argentinië gedien het. Waarom? “Nie almal van ons kon ’n goeie aanbieding doen nie”, het sy gesê. “Dit het my dus gehelp om daaraan gewoond te raak om mense te nader.”

Getuieniskaart (Italiaans)

7 Broer David Reusch, wat in 1918 gedoop is, het gesê: “Getuieniskaarte het die broers gehelp, want baie min van hulle het gevoel dat hulle die regte ding kan sê.” Maar hierdie hulpmiddel het sy beperkings gehad. “Soms het ons mense ontmoet wat gedink het dat ons nie kan praat nie”, het broer Reusch gesê. “In sekere sin kón baie van ons nie praat nie. Maar Jehovah het ons voorberei om as sy bedienaars met die publiek te praat. Hy sou weldra woorde in ons mond lê deur ons te leer om die Skrif by die deur te gebruik. Dit is gedoen deur middel van die Teokratiese Bedieningskool, wat in die 1940’s begin het.”—Lees Jeremia 1:6-9.

8. Hoe kan jy Christus toelaat om jou op te lei?

8 Boeke. Sedert 1914 het Jehovah se volk meer as 100 verskillende boeke uitgegee wat Bybelonderwerpe bespreek. Party van hierdie boeke is spesifiek saamgestel om verkondigers op te lei om bekwame bedienaars te wees. Anna Larsen, in Denemarke, wat al sowat 70 jaar ’n verkondiger is, sê: “Jehovah het ons deur middel van die Teokratiese Bedieningskool en die boeke wat ons daarvoor ontvang het, gehelp om bekwamer verkondigers te wees. Ek onthou dat die eerste van hierdie boeke die Theocratic Aid to Kingdom Publishers was, wat in 1945 vrygestel is. Dit is gevolg deur “Equipped for Every Good Work”, wat in 1946 uitgegee is. Nou het ons Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, wat in 2001 uitgegee is.” Die Teokratiese Bedieningskool en die boeke daarvoor het beslis ’n sleutelrol gespeel terwyl Jehovah ons “voldoende bekwaam gemaak het om bedienaars . . . te wees” (2 Kor. 3:5, 6). Het jy al by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit? Bring jy elke week die Bedieningskool-boek saam na die vergadering en volg jy daarin wanneer die skoolopsiener daarna verwys? As jy dit doen, sal jy Christus toelaat om jou op te lei om ’n beter onderrigter te wees.—2 Kor. 9:6; 2 Tim. 2:15.

9, 10. Watter rol het boeke daarin gespeel om saad van waarheid te plant en nat te maak?

9 Jehovah het ons ook gehelp deur sy organisasie te rig om boeke te voorsien wat verkondigers help om basiese Bybelleringe te verduidelik. Die waarheid wat lei tot die ewige lewe was ’n besonder doeltreffende boek. Dit is in 1968 uitgegee en het dadelik ’n uitwerking op die veld gehad. “Daar was so ’n groot aanvraag na die Waarheid-boek”, het die Engelse Koninkryksbediening vir November 1968 gesê, “dat die Genootskap se fabriek in Brooklyn in September ’n spesiale nagskof ingestel het.” Die artikel het verder verduidelik: “Op een stadium in Augustus is daar oor die een en ’n halfmiljoen meer Waarheid-boeke aangevra as wat daar in voorraad was!” Teen 1982 is meer as 100 miljoen eksemplare van die boek in 116 tale gepubliseer. In die 14 jaar van 1968 tot 1982 het die Waarheid-boek meer as eenmiljoen Koninkryksverkondigers by ons geledere help voeg. *

10 In 2005 is nog ’n uitsonderlike Bybelstudiehulp, Wat leer die Bybel werklik?, vrygestel. Sowat 200 miljoen eksemplare is reeds in 256 tale gepubliseer! Met watter gevolg? In net sewe jaar, van 2005 tot 2012, het ongeveer 1,2 miljoen mense verkondigers van die goeie nuus geword. Gedurende dieselfde tydperk het die aantal mense wat die Bybel saam met ons gestudeer het, van nagenoeg 6 miljoen tot meer as 8,7 miljoen toegeneem. Jehovah seën beslis ons pogings om saad van Koninkrykswaarheid te plant en nat te maak.—Lees 1 Korintiërs 3:6, 7.

11, 12. Gebruik die teksverwysings en verduidelik wat die verskillende teikengehore van ons tydskrifte is.

11 Tydskrifte. Oorspronklik was die teikengehoor van Die Wagtoring hoofsaaklik die “klein kuddetjie”, diegene met “die hemelse roeping” (Luk. 12:32; Heb. 3:1). Op 1 Oktober 1919 het Jehovah se organisasie nog ’n tydskrif vrygestel, wat saamgestel is om byval te vind by ’n ander gehoor, die publiek. Hierdie tydskrif het so gewild geword by die Bybelstudente en die publiek dat dit jare lank ’n baie groter sirkulasie as Die Wagtoring gehad het. Hierdie tydskrif is eers The Golden Age genoem. In 1937 is die naam na Vertroosting verander. Toe, in 1946, is dit die Ontwaak! genoem.

12 Oor die dekades heen het die styl en formaat van Die Wagtoring en die Ontwaak! verander, maar die doel het dieselfde gebly—om God se Koninkryk te adverteer en geloof in die Bybel op te bou. Vandag word ’n studie-uitgawe en ’n publieke uitgawe van Die Wagtoring uitgegee. Die teikengehoor van die studie-uitgawe is die “huisknegte”—dit wil sê, die “klein kuddetjie” sowel as die “ander skape” (Matt. 24:45; Joh. 10:16). * Die publieke uitgawe word spesifiek saamgestel vir diegene wat nog nie die waarheid ken nie, maar wat respek vir die Bybel en vir God het (Hand. 13:16). Die Ontwaak! is toegespits op diegene wat min van die Bybel en die ware God, Jehovah, weet.—Hand. 17:22, 23.

13. Wat omtrent ons tydskrifte is vir jou merkwaardig? (Bespreek die tabel “ Wêreldrekords vir publikasies”.)

13 Teen die begin van 2014 is daar elke maand meer as 44 miljoen eksemplare van die Ontwaak! en sowat 46 miljoen eksemplare van Die Wagtoring uitgegee. Die Ontwaak! is in nagenoeg 100 tale vertaal, en Die Wagtoring in meer as 200, wat dit die mees vertaalde en wyds verspreide tydskrifte ter wêreld gemaak het! Dit is beslis merkwaardig, maar dit moet ons nie verbaas nie. Hierdie tydskrifte bevat die boodskap wat Jesus gesê het in die hele bewoonde aarde verkondig sou word.—Matt. 24:14.

14. Wat het ons ywerig bevorder, en waarom?

14 Die Bybel. In 1896 het broer Russell en sy metgeselle die naam verander van die korporasie wat hulle gebruik het om lektuur te publiseer sodat dit die woord Bybel ingesluit het; dit is die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap genoem. Hierdie verandering was gepas, want die Bybel was nog altyd die belangrikste hulpmiddel in die verspreiding van die goeie nuus van die Koninkryk (Luk. 24:27). In ooreenstemming met die wetlike korporasie se naam het God se knegte die verspreiding en die lees van die Bybel ywerig bevorder. Byvoorbeeld, in 1926 het ons The Emphatic Diaglott, ’n vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte deur Benjamin Wilson, op ons eie perse gedruk. Vanaf 1942 het ons sowat 700 000 eksemplare van die volledige King James Version gedruk en versprei. Net twee jaar later het ons die American Standard Version, wat Jehovah se naam op 6 823 plekke gebruik, begin druk. Teen 1950 het ons meer as 250 000 eksemplare versprei.

15, 16. (a) Wat waardeer jy omtrent die Nuwe Wêreld-vertaling? (Bespreek die venster “ Bybelvertaling word bespoedig”.) (b) Hoe kan jy Jehovah toelaat om jou hart te raak?

15 In 1950 is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Engels vrygestel. Die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif is in 1961 in een bundel in Engels vrygestel. In Afrikaans is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in 1994 vrygestel, en die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in 2001. Hierdie vertaling vereer Jehovah deur sy naam te herstel op die plekke waar dit in die oorspronklike Hebreeuse teks voorgekom het. Die goddelike naam kom ook 237 keer in die hoofteks van die Christelike Griekse Geskrifte voor. Om te verseker dat die Nuwe Wêreld-vertaling so akkuraat en leesbaar moontlik is, is dit al etlike kere hersien, laas in 2013. Teen 2013 is daar al meer as 201 miljoen eksemplare van die Nuwe Wêreld-vertaling, in sy geheel of gedeeltelik, in 121 tale gedruk.

16 Hoe het party gereageer toe hulle die Nuwe Wêreld-vertaling in hulle eie taal gelees het? ’n Nepalese man het gesê: “Vir baie was die ou Nepalese vertaling wat ons gehad het, moeilik om te verstaan, aangesien dit klassieke taal gebruik het. Maar nou kan ons die Bybel soveel beter verstaan, want dit gebruik die omgangstaal.” Toe ’n vrou in die Sentraal-Afrikaanse Republiek die vertaling in Sango begin lees het, het sy begin huil en gesê: “Dit is die taal van my hart.” Soos hierdie vrou, kan elkeen van ons Jehovah toelaat om ons hart te raak deur elke dag sy Woord te lees.—Ps. 1:2; Matt. 22:36, 37.

Dankbaar vir die hulpmiddele en opleiding

17. Hoe kan jy toon dat jy die hulpmiddele en opleiding wat jy ontvang, waardeer, en wat sal dan die gevolg wees?

17 Waardeer jy die hulpmiddele en progressiewe opleiding wat die Koning Jesus Christus ons gegee het? Maak jy tyd om die lektuur te lees wat God se organisasie voorsien, en gebruik jy dit om ander te help? Dan sal jy saamstem met die woorde van suster Opal Betler, wat op 4 Oktober 1914 gedoop is. Opal het gesê: “Oor die jare heen het ek en my man [Edward] die grammofoon en die getuieniskaarte gebruik. Ons het met boeke, boekies en tydskrifte van huis tot huis gepreek. Ons het aan kampanjes en optogte deelgeneem en gedrukte aankondigings versprei. Later is ons opgelei om herbesoeke te doen en Bybelstudies in die huise van belangstellendes te hou. Dit was ’n besige en vreugdevolle lewe.” Jesus het belowe dat sy onderdane besig sou wees om te saai, te oes en hulle saam te verheug. Miljoene mense soos Opal kan getuig dat hierdie belofte waar is.—Lees Johannes 4:35, 36.

18. Watter voorreg het ons?

18 Baie mense wat nog nie knegte van die Koning is nie, beskou God se volk dalk as “ongeleerde en gewone” mense (Hand. 4:13). Maar dink net! Die Koning het sy doodgewone volk ’n uitgewersreus laat word, wat van die mees vertaalde en wyds verspreide publikasies in die geskiedenis uitgee! Nog belangriker, hy het ons opgelei en beweeg om hierdie hulpmiddele te gebruik om die goeie nuus aan mense van alle nasies bekend te maak. Wat ’n voorreg het ons tog om saam met Christus te werk om saad van waarheid te plant en dissipels te oes!

^ par. 2 In die afgelope dekade alleen het Jehovah se volk meer as 20 miljard Bybelpublikasies vervaardig. Daarbenewens is ons webwerf, jw.org, nou beskikbaar vir die meer as 2,7 miljard mense regoor die wêreld wat toegang tot die Internet het.

^ par. 9 Van die ander Bybelstudiehulpe wat verkondigers gehelp het om Bybelwaarheid aan ander te leer, is Die harp van God (uitgegee in 1921), “Laat God waaragtig wees” (uitgegee in 1946), Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe (uitgegee in 1982) en Kennis wat tot die ewige lewe lei (uitgegee in 1995).

^ par. 12 Vir ’n bespreking van ons duideliker begrip van wie die “huisknegte” is, sien die artikel “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf?” paragraaf 13, in Die Wagtoring van 15 Julie 2013