Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 9

Resultate van die predikingswerk​—‘Die lande is wit vir die oes’

Resultate van die predikingswerk​—‘Die lande is wit vir die oes’

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Jehovah het die saad van Koninkrykswaarheid laat groei

1, 2. (a) Waarom is die dissipels dronkgeslaan? (b) Van watter soort oes praat Jesus?

DIE dissipels is dronkgeslaan. Jesus het vir hulle gesê: “Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes.” Hulle kyk in die rigting waarin Jesus wys, maar hulle sien net lande wat nie wit is nie, maar groen—die kleur van jong garsplantjies. ‘Watter oes?’ wonder hulle waarskynlik. ‘Dit is nog maande voor die oestyd.’—Joh. 4:35.

2 Maar Jesus praat nie van ’n letterlike oes nie. Hy benut eerder hierdie geleentheid om sy dissipels twee belangrike lesse oor ’n geestelike oes te leer—’n oes van mense. Wat is hierdie lesse? Om uit te vind, sal ons die verslag van naderby bekyk.

’n Oproep tot optrede en ’n belofte van vreugde

3. (a) Wat het Jesus moontlik beweeg om te sê dat ‘die lande wit is vir die oes’? (Sien die voetnoot.) (b) Hoe het Jesus duidelik gemaak wat hy bedoel het?

3 Jesus se gesprek met sy dissipels het aan die einde van 30 HJ plaasgevind, naby die Samaritaanse dorp Sigar. Terwyl sy dissipels die dorp binnegegaan het, het Jesus agtergebly by ’n put waar hy oor geestelike waarhede gepraat het met ’n vrou wat gou besef het hoe belangrik sy leringe is. Toe die dissipels na Jesus toe teruggekom het, het die vrou haar na Sigar gehaas om haar bure te vertel van die verbasende dinge wat sy geleer het. Wat sy hulle vertel het, het groot belangstelling gewek, en baie van haar bure het gou na die put gekom om Jesus te ontmoet. Dit was moontlik op hierdie oomblik—terwyl Jesus verby die lande gekyk het en in die verte ’n skare Samaritane sien aankom het—dat hy gesê het: “Aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes.” * Om duidelik te maak dat hy nie van ’n letterlike oes gepraat het nie, maar van ’n geestelike oes, het Jesus toe bygevoeg: “Die een wat oes, . . . versamel . . . vrug vir die ewige lewe.”—Joh. 4:5-30, 36.

4. (a) Watter twee lesse oor die oes het Jesus sy dissipels geleer? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

4 Watter twee belangrike lesse oor die geestelike oes het Jesus sy dissipels geleer? Eerstens, die werk is dringend. Sy woorde dat “die lande . . . wit is vir die oes”, was vir sy volgelinge ’n oproep tot optrede. Om by sy dissipels tuis te bring presies hoe dringend die werk is, het Jesus bygevoeg: “Reeds ontvang die een wat oes, sy loon.” Ja, die oes het reeds begin—daar was geen tyd om te talm nie! Tweedens, die werkers is vreugdevol. Dié wat saai en dié wat oes, sou ‘saam bly wees’, het Jesus gesê (Joh. 4:35b, 36). Net soos Jesus ongetwyfeld bly was om te sien dat “baie van die Samaritane . . . geloof in hom gestel” het, sou sy dissipels groot vreugde ervaar terwyl hulle heelhartig aan die oes deelneem (Joh. 4:39-42). Hierdie eerste-eeuse verslag is vir ons van spesiale belang omdat dit toelig wat vandag gedurende die grootste geestelike oes van alle tye gebeur. Wanneer het hierdie hedendaagse oes begin? Wie neem daaraan deel? Wat is die resultate?

Ons Koning neem die leiding in die grootste oes van alle tye

5. Wie neem die leiding in die wêreldwye oes, en hoe toon Johannes se visioen dat die werk dringend is?

5 In ’n visioen wat aan die apostel Johannes gegee is, openbaar Jehovah dat hy Jesus aangestel het om die leiding te neem in ’n wêreldwye oes van mense. (Lees Openbaring 14:14-16.) In hierdie visioen word Jesus uitgebeeld met ’n kroon en ’n sekel. Die “goue kroon op [Jesus se] kop” bevestig sy posisie as heersende Koning. En die “skerp sekel in sy hand” bevestig sy rol as Oesinsamelaar. Deur ’n engel te laat sê dat ‘die oes van die aarde heeltemal ryp is’, beklemtoon Jehovah dat die werk dringend is. Ja, ‘die uur het gekom om te maai’—daar is geen tyd om te talm nie! In reaksie op God se bevel: “Steek u sekel in”, steek Jesus sy sekel in, en die aarde word gemaai—dit wil sê, mense van die aarde word geoes. Hierdie opwindende visioen herinner ons daaraan dat “die lande” weer eens “wit is vir die oes”. Help hierdie visioen ons om vas te stel wanneer hierdie wêreldwye oes begin het? Ja!

6. (a) Wanneer het “die oestyd” begin? (b) Wanneer het die eintlike “oes van die aarde” begin? Verduidelik.

6 Aangesien Jesus, die Oesinsamelaar, in Johannes se visioen in Openbaring hoofstuk 14 met ’n kroon op sy kop uitgebeeld word (vers 14), het sy aanstelling as Koning in 1914 reeds plaasgevind (Dan. 7:13, 14). Die een of ander tyd daarna word Jesus beveel om met die oes te begin (vers 15). Dieselfde volgorde van gebeure word gesien in Jesus se gelykenis oor die koringoes, waar hy sê: “Die oes is ’n voleinding van ’n stelsel van dinge.” Die oestyd en die voleinding van hierdie stelsel van dinge het dus op dieselfde tyd begin—in 1914. Die eintlike oeswerk het later “in die oestyd” begin (Matt. 13:30, 39). As ons vanuit ons tyd terugkyk, kan ons sien dat die oes begin het ’n paar jaar nadat Jesus as Koning begin heers het. Van 1914 tot die vroeë deel van 1919 het Jesus eers ’n reinigingswerk onder sy gesalfde volgelinge gedoen (Mal. 3:1-3; 1 Pet. 4:17). Toe, in 1919, het “die oes van die aarde” begin. Jesus het sonder versuim die pas aangestelde getroue slaaf gebruik om ons broers te help besef hoe dringend die predikingswerk is. Kyk wat gebeur het.

7. (a) Watter ondersoek het ons broers help besef hoe dringend die predikingswerk is? (b) Wat is ons broers aangespoor om te doen?

7 In Julie 1920 het The Watch Tower gesê: “Uit ’n ondersoek van die Skrif blyk dit dat die kerk ’n groot voorreg gegee is om ’n boodskap oor die koninkryk bekend te maak.” Byvoorbeeld, Jesaja se profetiese woorde het die broers help besef dat die Koninkryksnuus wêreldwyd verkondig moet word (Jes. 49:6; 52:7; 61:1-3). Hulle het nie geweet hoe hulle so ’n werk sou kon verrig nie, maar hulle het vertrou dat Jehovah dit vir hulle moontlik sou maak. (Lees Jesaja 59:1.) Weens hierdie duideliker begrip van die dringendheid van die predikingswerk is ons broers aangespoor om hulle bedrywighede te verskerp. Hoe het die broers gereageer?

8. Watter twee feite oor die predikingswerk het ons broers in 1921 gesnap?

8 In Desember 1921 het The Watch Tower aangekondig: “Dít was die beste jaar tot nog toe; en meer mense het die boodskap van die waarheid gedurende 1921 gehoor as in enige vorige jaar.” Die tydskrif het bygevoeg: “Daar is nog baie wat gedoen moet word. . . . Laat ons dit met ’n vreugdevolle hart doen.” Let op hoe die broers dieselfde twee belangrike feite oor die predikingswerk gesnap het wat Jesus by sy apostels tuisgebring het: Die werk is dringend, en die werkers is vreugdevol.

9. (a) Wat het Die Wagtoring in 1955 oor die oeswerk gesê, en waarom? (b) Watter wêreldwye toename in verkondigers was daar gedurende die afgelope 50 jaar? (Sien die tabel “ Wêreldwye vermeerdering”.)

9 Gedurende die 1930’s, nadat die broers verstaan het dat ’n groot menigte ander skape op die Koninkryksboodskap sou reageer, het hulle hulle selfs meer op die predikingswerk toegespits (Jes. 55:5; Joh. 10:16; Op. 7:9). Die resultaat? Die aantal verkondigers van die Koninkryksboodskap het toegeneem van 41 000 in 1934 tot 500 000 in 1953! Die Wagtoring van 15 Februarie 1955 het tereg gesê: “Dit is Jehovah se gees en die krag van sy Woord wat hierdie groot wêreldwye oes . . . tot stand gebring het.” *Sag. 4:6.

 

WÊRELDWYE VERMEERDERING

Land

1962

1987

2013

Australië

15 927

46 170

66 023

Brasilië

26 390

216 216

756 455

Frankryk

18 452

96 954

124 029

Italië

6 929

149 870

247 251

Japan

2 491

120 722

217 154

Mexiko

27 054

222 168

772 628

Nigerië

33 956

133 899

344 342

Filippyne

36 829

101 735

181 236

VSA

289 135

780 676

1 203 642

Zambië

30 129

67 144

162 370

 

TOENEMENDE AANTAL BYBELSTUDIES

1950

234 952

1960

646 108

1970

1 146 378

1980

1 371 584

1990

3 624 091

2000

4 766 631

2010

8 058 359

Die resultaat van die oes​—Voorspel in treffende illustrasies

10, 11. Watter aspekte van die saad se groei word in die gelykenis van die mosterdsaad beklemtoon?

10 In sy Koninkryksgelykenisse het Jesus in treffende taal die resultaat van die oeswerk voorspel. Kom ons kyk na die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg. Ons sal hoofsaaklik kyk na die vervulling daarvan gedurende die tyd van die einde.

11 Die gelykenis van die mosterdsaad. ’n Man plant ’n mosterdsaad. Dan groei dit tot ’n boom waarin voëls skuiling vind. (Lees Matteus 13:31, 32.) Watter aspekte van die groei van die saad word in hierdie gelykenis beklemtoon? (1) Die omvang van die groei is verbasend. “Die kleinste van al die sade” word ’n boom met “groot takke” (Mark. 4:31, 32). (2) Die groei is verseker. “Wanneer [die saad] gesaai is, kom dit op.” Jesus sê nie: “Kom dit dalk op” nie. Nee, hy sê: “Kom dit op.” Die groei is onkeerbaar. (3) Die groeiende boom lok besoekers en voorsien blyplek. “Die voëls van die hemel kom” en vind ‘blyplek onder sy skaduwee’. Hoe is hierdie drie aspekte op die hedendaagse geestelike oes van toepassing?

12. Hoe is die gelykenis van die mosterdsaad op vandag se oes van toepassing? (Sien ook die tabel “ Toenemende aantal Bybelstudies”.)

12 (1) Die omvang van die groei: Die gelykenis beklemtoon die groei van die Koninkryksboodskap en die Christengemeente. Sedert 1919 word ywerige oeswerkers in die herstelde Christengemeente ingesamel. Destyds was die werkers min, maar die getal het vinnig toegeneem. Trouens, die groei vanaf die vroeë 1900’s tot vandag is merkwaardig (Jes. 60:22). (2) Versekering: Die groei van die Christengemeente is onkeerbaar. Ongeag hoeveel lae rotsagtige teenstand God se vyande op die klein saadjie geplaas het, dit het aangehou groei—en alle struikelblokke weggestoot (Jes. 54:17). (3) Blyplek: “Die voëls van die hemel” wat blyplek in die boom vind, beeld miljoene regskapenes in sowat 240 lande af wat op die Koninkryksboodskap gereageer het deur deel van die Christengemeente te word (Eseg. 17:23). Daar ontvang hulle geestelike voedsel, verkwikking en beskerming.—Jes. 32:1, 2; 54:13.

Die gelykenis van die mosterdsaad toon dat diegene in die Christengemeente blyplek en beskerming geniet (Sien paragrawe 11, 12)

13. Watter aspekte van die groei word in die gelykenis van die suurdeeg beklemtoon?

13 Die gelykenis van die suurdeeg. Nadat ’n vrou ’n bietjie suurdeeg by ’n groot hoeveelheid meel gevoeg het, deursuur die suurdeeg die hele massa. (Lees Matteus 13:33.) Watter aspekte van die groei word in hierdie gelykenis beklemtoon? Kom ons kyk na twee. (1) Die groei veroorsaak verandering. Die suurdeeg versprei “totdat die hele massa deursuur” is. (2) Die groei is deurdringend. Die suurdeeg deursuur al “drie groot mate meel”—die hele massa. Hoe is hierdie twee aspekte op die hedendaagse geestelike oes van toepassing?

14. Hoe is die gelykenis van die suurdeeg op vandag se oes van toepassing?

14 (1) Verandering: Die suurdeeg stel die Koninkryksboodskap voor, en die groot hoeveelheid meel beeld die mensdom af. Net soos suurdeeg ’n verandering in meel teweegbring nadat die twee vermeng is, bring die Koninkryksboodskap ’n verandering teweeg in die harte van mense nadat hulle hierdie boodskap aangeneem het (Rom. 12:2). (2) Deurdringend: Die verspreiding van die suurdeeg stel die verspreiding van die Koninkryksboodskap voor. Suurdeeg versprei deur die deeg totdat dit die hele massa deurdring het. Net so het die Koninkryksboodskap “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” versprei (Hand. 1:8). Hierdie aspek van die gelykenis gee ook te kenne dat die Koninkryksboodskap selfs in lande waar ons werk verbied is, sal versprei, hoewel ons predikingsbedrywighede in hierdie dele van die aarde dalk grotendeels onopgemerk bly.

15. Hoe word die woorde in Jesaja 60:5, 22 vervul? (Sien ook die vensters “ Jehovah het dit moontlik gemaak” en “ Hoe ‘die geringe ’n magtige nasie’ geword het.”)

15 Sowat 800 jaar voordat Jesus hierdie gelykenisse vertel het, het Jehovah die omvang van die hedendaagse geestelike oes en die vreugde wat hierdie oes sou veroorsaak, deur middel van Jesaja in treffende taal voorspel. * Jehovah beskryf mense wat “van ver af” na sy organisasie stroom. Hy sê vir ’n “vrou”, wat vandag deur die gesalfde oorblyfsel op die aarde verteenwoordig word: “Jy [sal] dit sien en beslis straal, en jou hart sal bewe en verruim word, want die skatte van die see sal hom tot jou wend; die rykdom van die nasies sal na jou toe kom” (Jes. 60:1, 4, 5, 9). Hoe waar is hierdie woorde tog! Knegte van Jehovah wat hom al lank dien, straal vandag beslis van vreugde omdat hulle sien hoe die aantal Koninkryksverkondigers in hulle land van net ’n paar tot derduisende toegeneem het.

Waarom alle knegte van Jehovah rede tot vreugde het

16, 17. Wat is een rede waarom “die een wat saai en die een wat oes, saam bly” is? (Sien ook die venster “ Hoe twee traktate twee harte in die Amasone geraak het”.)

16 Jy sal onthou dat Jesus vir sy apostels gesê het: “Die een wat oes, . . . versamel . . . vrug vir die ewige lewe, sodat die een wat saai en die een wat oes, saam bly kan wees” (Joh. 4:36). Hoe is ons “saam bly” oor die wêreldwye oes? Op etlike maniere. Kom ons kyk na drie.

17 Eerstens, ons is bly om Jehovah se rol in die werk te sien. Wanneer ons die Koninkryksboodskap verkondig, saai ons saad (Matt. 13:18, 19). Wanneer ons iemand help om ’n dissipel van Christus te word, versamel ons vrug. En ons almal ervaar groot vreugde wanneer ons met ontsag aanskou hoe Jehovah Koninkryksaad laat ‘uitspruit en grootword’ (Mark. 4:27, 28). Van die saad wat ons uitstrooi, spruit later uit en word deur ander geoes. Jy het dalk al ’n soortgelyke ondervinding gehad as Joan, ’n Christensuster in Brittanje wat 60 jaar gelede gedoop is. Sy het gesê: “Ek het al persone ontmoet wat vir my gesê het dat ek ’n saadjie in hulle hart geplant het toe ek jare gelede vir hulle gepreek het. Sonder dat ek dit geweet het, het ander Getuies later die Bybel met hulle gestudeer en hulle gehelp om knegte van Jehovah te word. Ek is baie bly dat die saadjie wat ek geplant het, gegroei het en geoes is.”—Lees 1 Korintiërs 3:6, 7

18. Watter rede tot vreugde word in 1 Korintiërs 3:8 gemeld?

18 Tweedens, ons bly vreugdevolle werkers wanneer ons Paulus se woorde in gedagte hou: “Elkeen sal sy eie beloning volgens sy eie arbeid ontvang” (1 Kor. 3:8). Die beloning word gegee volgens die werk, nie volgens die resultate van daardie werk nie. Hoe bemoedigend is hierdie versekering tog vir diegene wat in gebiede preek waar daar min belangstelling is! Elke Getuie wat heelhartig aan die saaiwerk deelneem, ‘dra veel vrug’ in God se oë en het dus rede tot vreugde.—Joh. 15:8; Matt. 13:23.

19. (a) Hoe hou Jesus se profesie in Matteus 24:14 verband met ons vreugde? (b) Wat moet ons in gedagte hou, al slaag ons nie daarin om self ’n dissipel te maak nie?

19 Derdens, ons is verheug dat ons werk profesie vervul. Kyk na Jesus se antwoord aan sy apostels toe hulle gevra het: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” Hy het vir hulle gesê dat een aspek van hierdie teken ’n wêreldwye predikingswerk sou wees. Het hy van die dissipelmaakwerk gepraat? Nee. Hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis” (Matt. 24:3, 14). Die verkondiging van die Koninkryk—die saai van saad—is dus ’n aspek van die teken. Terwyl ons die goeie nuus van die Koninkryk verkondig, hou ons dus in gedagte dat ons, al slaag ons nie daarin om ’n dissipel te maak nie, wel daarin slaag om “’n getuienis” te gee. * Ja, ongeag hoe mense reageer, ons help om Jesus se profesie te vervul en het die eer om as “God se medewerkers” te dien (1 Kor. 3:9). Wat ’n goeie rede tot vreugde is dit tog!

“Van die opgang van die son . . . tot sy ondergang”

20, 21. (a) Hoe word die woorde van Maleagi 1:11 vervul? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen in verband met die oeswerk, en waarom?

20 In die eerste eeu het Jesus sy apostels help besef dat die oeswerk dringend is. Vanaf 1919 het Jesus sy hedendaagse dissipels dieselfde waarheid help snap. Gevolglik het God se volk hulle bedrywighede verskerp. Die oeswerk was in werklikheid onkeerbaar. Soos voorspel deur die profeet Maleagi, word die predikingswerk vandag “van die opgang van die son . . . tot sy ondergang” gedoen (Mal. 1:11). Ja, van sonsopkoms tot sonsondergang—van die ooste tot die weste, ongeag waar hulle op die aarde is—werk dié wat saai en dié wat oes, saam en is hulle saam bly. En van sonsopkoms tot sonsondergang—van die oggend tot die aand, oftewel heeldag—werk ons met ’n gevoel van dringendheid.

21 Wanneer ons vandag oor sowat 100 jaar terugkyk en sien hoe ’n klein groepie van God se knegte “’n magtige nasie” geword het, loop ons hart beslis oor van vreugde (Jes. 60:5, 22). Mag hierdie vreugde en ons liefde vir Jehovah, “die Heer van die oes”, elkeen van ons beweeg om ons deel te bly doen om die grootste oes van alle tye te voltooi!—Luk. 10:2.

^ par. 3 Jesus se opmerking dat ‘die lande wit is vir die oes’, kon verwys het na die wit klere wat die skare Samaritane dalk gedra het toe Jesus hulle sien aankom het.

^ par. 9 Om meer te leer van hierdie jare en die daaropvolgende dekades, spoor ons jou aan om bladsye 425-520 van die boek Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk te lees, wat handel oor die resultate wat die oeswerk van 1919 tot 1992 opgelewer het.

^ par. 15 Vir meer besonderhede oor hierdie interessante profesie, sien Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II, bladsye 303-320.

^ par. 19 Hierdie belangrike waarheid is reeds deur die vroeë Bybelstudente verstaan. Zion’s Watch Tower van 15 November 1895 het gesê: “Al kan net ’n bietjie koring ingesamel word, kan ’n oorvloedige getuienis van die waarheid ten minste gegee word. . . . Almal kan die evangelie verkondig.”