Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 11

Sedelike verfynings weerspieël God se heiligheid

Sedelike verfynings weerspieël God se heiligheid

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Hoe die Koning sy onderdane geleer het om God se sedelike standaarde te respekteer

Stel jou voor jy gaan by die poort in na die voorhof van Jehovah se groot geestelike tempel

1. Wat het Esegiël gesien wat ons met ontsag vervul?

SÊ NOU jy kon dieselfde ondervinding hê as wat die profeet Esegiël sowat 25 eeue gelede gehad het? Stel jou voor: Jy stap nader aan ’n ontsaglike, glansende tempelkompleks. ’n Magtige engel is daar om vir jou hierdie ontsagwekkende plek te wys! Jy loop op met die sewe trappe wat na een van die drie poorte lei. Hierdie ingange vervul jou met ontsag. Dit is omtrent 30 meter hoog. Binne die poorte sien jy kamers vir die wagte. Pragtige snywerk van palmbome versier die pilare.—Eseg. 40:1-4, 10, 14, 16, 22; 41:20.

2. (a) Wat beeld die tempel in die visioen af? (Sien ook die voetnoot.) (b) Wat kan ons leer uit kenmerke van die tempelpoorte?

2 Dit is die geestelike tempel wat Esegiël in ’n visioen gesien het. Hy het dit in soveel besonderhede beskryf dat sy verslag hoofstukke 40 tot 48 van sy profetiese boek vul. Hierdie tempel beeld Jehovah se reëling vir rein aanbidding af. Elke kenmerk is van toepassing op ons aanbidding in hierdie laaste dae. * Wat stel die hoë poorte voor? Dit herinner ons daaraan dat diegene wat deel word van Jehovah se reëling vir rein aanbidding, volgens God se verhewe en regverdige standaarde moet lewe. Selfs die snywerk van palmbome dui op iets soortgelyks, want palmbome word soms in die Bybel gebruik om opregtheid voor te stel (Ps. 92:12). En die kamers vir die wagte? Diegene wat nie goddelike standaarde respekteer nie, sal ongetwyfeld nie toegelaat word om hierdie pragtige, lewegewende weg van rein aanbidding te betree nie.—Eseg. 44:9.

3. Waarom moet Christus se volgelinge voortdurend gelouter word?

3 Hoe is Esegiël se visioen vervul? Soos ons in Hoofstuk 2 van hierdie boek gesien het, het Jehovah Christus gebruik om sy volk van 1914 tot vroeg in 1919 aan ’n spesiale louteringsproses te onderwerp. Was dit die einde van die loutering? Glad nie! Regdeur die afgelope eeu het Christus voortgegaan om Jehovah se heilige standaarde van gedrag te bevorder. Sy volgelinge moet dus voortdurend gelouter word. Waarom? Omdat Christus sy volgelinge uit hierdie sedelik verdorwe wêreld insamel en Satan nooit ophou om hulle te probeer terugsleep in die modder van onsedelikheid nie. (Lees 2 Petrus 2:20-22.) Kom ons ondersoek drie gebiede waarop ware Christene voortdurend gelouter, of verfyn, is. Ons sal eers ’n paar sedelike verfynings bespreek, dan ’n noodsaaklike voorsiening om die gemeente rein te hou en laastens die gesinsreëling.

Sedelike verfynings deur die jare heen

4, 5. Watter taktiek gebruik Satan al lank, en met watter sukses?

4 Jehovah se volk het nog altyd intens belanggestel in goeie, sedelike gedrag. Daarom het hulle duideliker instruksies oor die onderwerp verwelkom. Kyk na ’n paar voorbeelde.

5 Seksuele onsedelikheid. Dit was Jehovah se voorneme dat geslagsomgang tussen huweliksmaats iets reins en moois moet wees. Satan verlustig hom daarin om hierdie kosbare gawe uit die regte konteks te ruk deur dit te verdraai en in iets vuils te verander en dit te gebruik om Jehovah se volk in versoeking te bring sodat hulle God se guns verloor. Satan het hierdie taktiek in die dae van Bileam met tragiese sukses gebruik, en hy gebruik dit in hierdie laaste dae meer as ooit tevore.—Num. 25:1-3, 9; Op. 2:14.

6. Watter gelofte is in die Watch Tower gepubliseer, hoe is dit gebruik, en waarom het dit uiteindelik in onbruik verval? (Sien ook die voetnoot.)

6 Om Satan se pogings teë te werk, het die Watch Tower van 15 Junie 1908 ’n gelofte gepubliseer wat hierdie verbintenis ingesluit het: “Wanneer ek alleen saam met ’n lid van die teenoorgestelde geslag is, sal ek my te alle tye en op alle plekke presies dieselfde gedra as wat ek in die openbaar sou doen.” * Hoewel die gelofte nie ’n vereiste was nie, het baie dit afgelê en hulle name gestuur om in Zion’s Watch Tower gepubliseer te word. Jare later is daar tereg besef dat hierdie gelofte, al het dit talle gehelp, net ’n ritueel geword het; dit het dus in onbruik verval. Maar die hoë sedelike beginsels wat dit verteenwoordig het, is altyd gehandhaaf.

7. Watter probleem het The Watch Tower in 1935 aangespreek, en watter standaard het dit bevestig?

7 Maar Satan se aanvalle het net toegeneem. The Watch Tower van 1 Maart 1935 het ’n groeiende probleem onder God se volk reguit aangespreek. Party het blykbaar gedink dat deelname aan die bediening hulle op die een of ander manier daarvan vrystel om Jehovah se sedelike standaarde in hulle privaat lewe te handhaaf. The Watch Tower het ronduit gesê: “’n Mens moet onthou dat deelname aan die getuieniswerk nie die enigste vereiste is nie. Jehovah se Getuies is sy verteenwoordigers, en hulle het die verpligting om Jehovah en sy koninkryk op ’n gepaste wyse te verteenwoordig.” Die artikel het toe duidelike raad oor die huwelik en seksuele sedes gegee en God se volk sodoende gehelp om te “vlug vir die hoerery”.—1 Kor. 6:18.

8. Waarom het Die Wagtoring die volledige betekenis van die Griekse woord vir seksuele onsedelikheid herhaaldelik beklemtoon?

8 In onlangser dekades het Die Wagtoring herhaaldelik die regte definisie beklemtoon van die woord wat in die Griekse Geskrifte vir seksuele onsedelikheid gebruik word—por·neiʹa. Die betekenis is nie beperk tot die daad van geslagsomgang nie. Por·neiʹa sluit eerder ’n groot verskeidenheid onsedelike dade in, wat gewoonlik al die wellustige dade behels wat in bordele beoefen word. Christus se volgelinge word sodoende beskerm teen die plaag van seksuele verdorwenheid wat soveel mense in vandag se wêreld in sy greep het.—Lees Efesiërs 4:17-19.

9, 10. (a) Watter sedelike kwessie het The Watch Tower in 1935 aangeroer? (b) Wat is die Bybel se gebalanseerde beskouing van die gebruik van alkohol?

9 Drankmisbruik. The Watch Tower van 1 Maart 1935 het nog ’n sedelike kwessie geopper: “Daar is ook opgemerk dat party onder die invloed van alkohol aan die veldbediening deelneem en ander pligte in die organisasie nakom. Onder watter omstandighede word die gebruik van wyn in die Skrif goedgekeur? Sou dit gepas wees om wyn in so ’n mate te gebruik dat dit ’n mens se diens in die Here se organisasie beïnvloed?”

10 Die antwoord het die gebalanseerde beskouing van alkoholiese drank bespreek wat in God se Woord gevind word. Die Bybel veroordeel nie die gebruik van wyn en ander alkoholiese drank in matigheid nie, maar dit veroordeel dronkenskap ten sterkste (Ps. 104:14, 15; 1 Kor. 6:9, 10). Wat deelname aan heilige diens onder die invloed van alkohol betref, word God se knegte al lank herinner aan die verslag van Aäron se seuns, wat deur God tereggestel is omdat hulle onwettige vuur op God se altaar geoffer het. Kort daarna openbaar die verslag wat waarskynlik daartoe gelei het dat hierdie mans so ’n ongepaste daad verrig het, want God het ’n wet gegee wat al die priesters belet het om alkohol te gebruik terwyl hulle hulle heilige pligte verrig (Lev. 10:1, 2, 8-11). Uit gehoorsaamheid aan hierdie onderliggende beginsel maak Christus se volgelinge seker dat hulle nie onder die invloed van alkohol is terwyl hulle heilige diens verrig nie.

11. Waarom was dit vir God se volk ’n seën om ’n beter begrip van alkoholisme te verkry?

11 In onlangser dekades is Christus se volgelinge verder geseën met ’n beter begrip van alkoholisme, ’n toestand wat die volgehoue, verslawende misbruik van alkohol behels. Danksy tydige geestelike voedsel is baie gehelp om hierdie toestand op gepaste wyse te hanteer en weer beheer oor hulle lewe te kry. Nog baie ander is gehelp om die probleem heeltemal te vermy. Niemand hoef toe te laat dat drankmisbruik hulle beroof van hulle waardigheid, hulle gesin en, bowenal, hulle voorreg om aan die rein aanbidding van Jehovah deel te neem nie.

“Ons kan ons nie voorstel dat ons Here na tabakrook geruik het of enigiets verontreinigends in sy mond gesit het nie.”​—C. T. Russell

12. Hoe het Christus se knegte die gebruik van tabak beskou selfs voordat die laaste dae begin het?

12 Die gebruik van tabak. Christus se knegte het die gebruik van tabak begin ontmoedig selfs voordat die laaste dae begin het. ’n Aantal jare gelede het ’n bejaarde broer, Charles Capen, vertel van sy eerste ontmoeting met Charles Taze Russell laat in die 19de eeu. Capen, wat toe 13 was, en drie van sy broers was op die trap van die Bybelhuis in Allegheny, Pennsilvanië. Terwyl Russell verbygestap het, het hy gevra: “Rook julle? Ek ruik tabakrook.” Hulle het hom verseker dat hulle nie rook nie. Daar het sekerlik by hulle geen twyfel bestaan oor sy beskouing van die onderwerp nie. In die Watch Tower van 1 Augustus 1895 het broer Russell oor 2 Korintiërs 7:1 gesê: “Ek kan nie sien hoe ’n Christen se gebruik van tabak in enige vorm God tot eer sal strek, of [die Christen self] sal bevoordeel nie. . . . Ons kan ons nie voorstel dat ons Here na tabakrook geruik het of enigiets verontreinigends in sy mond gesit het nie.”

13. Watter sedelike verfyning was daar in 1973?

13 In 1935 het The Watch Tower tabak “die vuil onkruid” genoem en gesê dat niemand wat dit kou of rook, ’n lid van die Bethelgesin kan bly of as ’n verteenwoordiger van God se organisasie in die pionierwerk of die reisende bediening kan dien nie. In 1973 was daar ’n verdere sedelike verfyning. Die Wagtoring van 15 Augustus het verduidelik dat geen Getuie van Jehovah ’n goeie naam in die gemeente kan behou terwyl hy hierdie dodelike, verontreinigende en liefdelose gebruik beoefen nie. Diegene wat geweier het om die misbruik van tabak te staak, moes uitgesit word. * Ja, Christus het nog ’n belangrike stap gedoen om sy volgelinge te louter.

14. Wat is God se standaard in verband met bloed, en hoe het die gebruik van bloedoortappings algemeen geword?

14 Die misbruik van bloed. In Noag se dag het God gesê dat dit verkeerd is om bloed te eet. Hy het hierdie standpunt bevestig in die Wet wat hy aan die nasie Israel gegee het, en hy het die Christengemeente ook beveel om “hulle te onthou . . . van bloed” (Hand. 15:20, 29; Gen. 9:4; Lev. 7:26). Maar dit is nie verbasend dat Satan in hedendaagse tye ’n manier gevind het om baie mense te kry om hierdie goddelike standaard te verontagsaam nie. In die 19de eeu het dokters met die oortapping van bloed geëksperimenteer, maar nadat bloedgroepe ontdek is, het die gebruik al hoe algemener geword. Vanaf 1937 is bloed in bloedbanke versamel en bewaar, en toe het die Tweede Wêreldoorlog die gebruik grootliks bevorder. Kort voor lank het oortappings regoor die wêreld algemeen geword.

15, 16. (a) Watter standpunt het Jehovah se Getuies ten opsigte van bloedoortappings ingeneem? (b) Watter ondersteuning is aan Christus se volgelinge voorsien in verband met oortappings en bloedlose behandeling, en met watter resultate?

15 Reeds in 1944 het Die Wagtoring getoon dat ’n persoon wat ’n bloedoortapping ontvang, in werklikheid bloed eet. Die volgende jaar is hierdie skriftuurlike standpunt bevestig en verder verduidelik. Teen 1951 is ’n lys vrae en antwoorde gepubliseer om God se volk te help om met mediese deskundiges te redeneer. Christus se getroue volgelinge het regoor die wêreld ’n moedige standpunt ingeneem, dikwels ondanks bespotting, vyandigheid en selfs vervolging. Maar Christus het voortgegaan om sy organisasie te beweeg om die nodige ondersteuning te voorsien. Gedetailleerde en goed nagevorste brosjures en artikels is gepubliseer.

16 In 1979 het party ouer manne hospitale begin besoek om dokters te help om beter te verstaan wat ons standpunt is, wat die skriftuurlike redes daarvoor is en watter beskikbare alternatiewe daar vir bloed is. In 1980 het ouer manne in 39 stede in die Verenigde State gespesialiseerde opleiding in hierdie werk ontvang. Later het die Bestuursliggaam die stigting van Hospitaalskakelkomitees regoor die wêreld goedgekeur. Het hierdie pogings oor die jare heen enige resultate opgelewer? Vandag werk tienduisende mediese deskundiges—insluitende dokters, chirurge en narkotiseurs—met Getuiepasiënte saam en toon hulle respek vir ons keuse van bloedlose behandeling. Al hoe meer hospitale voorsien bloedlose behandeling, en party beskou dit selfs as die hoogste standaard van mediese sorg. Is dit nie opwindend om te dink aan die maniere waarop Jesus sy volgelinge beskerm het teen Satan se pogings om hulle te besmet nie?—Lees Efesiërs 5:25-27.

Al hoe meer hospitale voorsien bloedlose behandeling, en party beskou dit selfs as die hoogste standaard van mediese sorg

17. Hoe kan ons toon dat ons die manier waardeer waarop Christus sy volgelinge louter?

17 Ons kan ons gerus afvra: ‘Waardeer ons die manier waarop Christus sy volgelinge louter en ons oplei om by Jehovah se verhewe sedelike standaarde te bly?’ Laat ons dan in gedagte hou dat Satan altyd daarop uit is om ons van Jehovah en Jesus te vervreem deur ons respek vir goddelike sedes te ondermyn. Om hierdie invloed teë te werk, voorsien Jehovah se organisasie voortdurend liefdevolle waarskuwings en herinneringe oor die onsedelike weë van hierdie wêreld. Laat ons op die uitkyk bly vir sulke nuttige raad, daarop ag slaan en dit gehoorsaam.—Spr. 19:20.

Die gemeente word teen sedelike smaad beskerm

18. Watter duidelike herinnering gee Esegiël se visioen ons in verband met diegene wat doelbewus teen God se standaarde in opstand kom?

18 ’n Tweede gebied waarop sedelike verfyning plaasgevind het, behels die stappe wat gedoen word om die gemeente rein te hou. Ongelukkig bly nie almal wat Jehovah se gedragstandaarde aanvaar en hulle aan God toewy, lojaal by hulle besluit nie. Party se gesindheid verander later, en hulle kom doelbewus in opstand teen hierdie standaarde. Wat moet omtrent hulle gedoen word? Ons vind ’n aanduiding in Esegiël se visioen van die geestelike tempel wat aan die begin van hierdie hoofstuk bespreek is. Dink aan daardie hoë poorte. Binne elke ingang was daar kamers vir die wagte. Die wagte het die tempel bewaak, blykbaar om te voorkom dat ‘onbesnedenes van hart’ dit binnegaan (Eseg. 44:9). Dit is ’n duidelike herinnering dat rein aanbidding ’n voorreg is wat slegs verleen word aan diegene wat volgens Jehovah se rein gedragstandaarde probeer lewe. Net so is die voorreg om met mede-Christene in aanbidding te assosieer, vandag nie vir almal beskikbaar nie.

19, 20. (a) Hoe het Christus sy volgelinge geleidelik gehelp om die manier waarop gevalle van ernstige oortreding hanteer word, te verfyn? (b) Wat is drie redes waarom onberouvolle oortreders uitgesit moet word?

19 Reeds in 1892 het die Watch Tower gesê dat dit “ons plig is om diegene wat, direk of indirek, ontken dat Christus hom as ’n losprys [’n ooreenstemmende prys] vir almal gegee het, (as Christene) uit te sit”. (Lees 2 Johannes 10.) In 1904 het die boek The New Creation erken dat diegene wat volhou met verkeerde gedrag, ’n groot gevaar inhou omdat hulle die gemeente kan verderf. Destyds het die hele gemeente aan “kerkverhore” deelgeneem om gevalle van ernstige oortreding te ondersoek. Dit het egter selde gebeur. In 1944 het Die Wagtoring getoon dat slegs verantwoordelike broers sulke sake moet hanteer. In 1952 is ’n Bybelse prosedure vir die hantering van regterlike sake in Die Wagtoring uiteengesit, wat ’n vername rede beklemtoon het waarom onberouvolles uitgesit moet word—om die gemeente rein te hou.

20 In die dekades sedertdien het Christus sy volgelinge gehelp om duideliker uiteen te sit hoe ernstige gevalle van oortreding hanteer moet word en om dit te verfyn. Christen- ouer manne word goed opgelei om regterlike sake op Jehovah se manier te behartig, deur ’n goeie balans tussen geregtigheid en barmhartigheid te handhaaf. Vandag kan ons duidelik sien dat daar ten minste drie redes is waarom ’n onberouvolle oortreder uit die gemeente gesit moet word: (1) om Jehovah se naam vry van smaad te hou, (2) om die gemeente teen die verderflike invloed van ernstige sonde te beskerm en (3) om ’n oortreder tot berou te beweeg, indien moontlik.

21. In watter opsig is die uitsettingsreëling ’n seën vir God se volk?

21 Kan jy sien hoe die uitsettingsreëling ’n seën vir Christus se hedendaagse volgelinge is? In eertydse Israel het oortreders dikwels ’n verderflike invloed op die nasie begin uitoefen—soms was daar selfs meer van hulle as dié wat Jehovah liefgehad het en probeer doen het wat reg is. Die nasie het dus dikwels Jehovah se naam oneer aangedoen en sy guns verloor (Jer. 7:23-28). Maar vandag handel Jehovah met ’n gemeenskap van geestelike mans en vroue. Omdat verstokte oortreders uit ons midde verwyder word, kan hulle nie wapens in Satan se hand word om die gemeente en die rein posisie daarvan verdere skade te berokken nie. Hulle invloed word eerder tot ’n minimum beperk. Ons is dus seker dat ons as ’n groep Jehovah se guns sal behou. Onthou, Jehovah het belowe: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie” (Jes. 54:17). Gee ons ons lojale ondersteuning aan die ouer manne, wat die swaar las dra om regterlike sake te hanteer?

Verheerlik die Een aan wie elke gesin sy naam te danke het

22, 23. Waarom is ons dankbaar teenoor ons mede-Christene wat aan die begin van die 20ste eeu gelewe het, maar watter bewys is daar dat groter balans nodig was ten opsigte van die gesin?

22 ’n Derde gebied waarop Christus se volgelinge baat gevind het by voortdurende loutering, het te doen met die huwelik en die gesinslewe. Is ons beskouing van die gesin deur die jare heen verfyn? Ja. Byvoorbeeld, wanneer ons lees van God se knegte wat aan die begin van die 20ste eeu gelewe het, kan ons nie anders as om beïndruk te wees met hulle selfopofferende gees nie. Ons is baie dankbaar vir die manier waarop hulle hulle heilige diens bo alle ander dinge in die lewe gestel het. Maar ons kan terselfdertyd maklik sien dat groter balans nodig was. Hoe so?

23 Broers het dikwels toewysings in die bediening of die reisende werk aanvaar wat hulle maande lank ver van die huis geneem het. Mense is soms baie sterker afgeraai om te trou as wat die Skrif regverdig, terwyl betreklik min gesê is oor hoe om sterk Christenhuwelike te bou. Is dit vandag nog die geval onder Christus se volgelinge? Glad nie!

Teokratiese toewysings moenie ten koste van gesinsverpligtinge aanvaar word nie

24. Hoe het Christus sy getroue volk gehelp om ’n meer gebalanseerde beskouing van die huwelik en die gesin te verkry?

24 Vandag moet teokratiese toewysings nie ten koste van gesinsverpligtinge aanvaar word nie. (Lees 1 Timoteus 5:8.) Verder het Christus verseker dat sy getroue volgelinge op die aarde ’n bestendige stroom nuttige, gebalanseerde skriftuurlike raad oor die huwelik en die gesinslewe ontvang (Ef. 3:14, 15). In 1978 is die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou uitgegee. Ongeveer 18 jaar later is die boek Die geheim van gesinsgeluk gepubliseer. En Die Wagtoring bevat baie artikels om egpare te help om skriftuurlike beginsels in hulle verhouding toe te pas.

25-27. Hoe is daar deur die jare heen al hoe meer aandag aan die behoeftes van kinders van verskillende ouderdomme geskenk?

25 En wat van die jonges? Deur die jare heen is daar al hoe meer aandag aan hulle behoeftes geskenk. Jehovah se organisasie voorsien al lank goeie dinge vir kinders van verskillende ouderdomme, maar wat vroeër net ’n waterstraaltjie was, het nou ’n sterk, bestendige stroom geword. Byvoorbeeld, die rubriek “Jeugbybelstudie” het van 1919 tot 1921 in The Golden Age verskyn. Toe is die brosjure The Golden Age ABC in 1920 uitgegee, en daarna die boek Kinders in 1941. In die 1970’s is die boeke Luister na die Groot Onderwyser, Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut en My boek met Bybelverhale voorsien. In 1982 het die reeks “Jongmense vra” in die Ontwaak! begin verskyn, wat gelei het tot die boek Jongmense vra—Antwoorde wat werk, wat in 1989 uitgegee is.

Daar was groot vreugde toe die brosjure My Bybellesse by hierdie streekbyeenkoms in Duitsland vrygestel is

26 Vandag het ons twee moderne Jongmense vra-boeke, en die reeks word op ons webwerf, jw.org, voortgesit. Ons het ook die boek Leer by die Groot Onderwyser. Daar is baie materiaal op ons webwerf vir jongmense, insluitende Bybelkarakterkaarte, Bybelstudie-aktiwiteite vir ouer en jonger kinders, raaisels, video’s en Bybelse prenteverhale, asook Bybellesse vir kinders van drie jaar en jonger. Dit is duidelik dat Christus se beskouing van kinders nie verander het sedert hy die jong kinders in die eerste eeu in sy arms geneem het nie (Mark. 10:13-16). Hy wil hê dat die jonges onder ons geliefd en geestelik versadig moet voel.

27 Jesus wil ook hê dat kinders teen gevare beskerm moet word. Namate hierdie sedelik verdorwe wêreld al hoe dieper in verdorwenheid sink, word die plaag van kindermishandeling al hoe algemener. Duidelike en reguit inligting word dus gepubliseer om ouers te help om hulle kinders teen hierdie bose gebruik te beskerm. *

28. (a) Wat is nodig as ons aan rein aanbidding wil deelneem, soos toegelig word deur Esegiël se tempelvisioen? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?

28 Is dit nie opwindend om te peins oor hoe Christus aangehou het om sy volgelinge te louter en hulle opgelei het om Jehovah se verhewe sedelike standaarde te respekteer, daarvolgens te lewe en daarby baat te vind nie? Dink weer aan die tempel wat Esegiël in sy visioen gesien het. Dink aan die hoë poorte. Hierdie tempel is weliswaar nie ’n fisiese plek nie, maar ’n geestelike plek. Maar is dit vir ons ’n werklikheid? Ons gaan dit nie binne deur net na ’n Koninkryksaal te gaan, ’n Bybel oop te maak of ’n deurklokkie in die bediening te lui nie. Dít is fisiese dade wat te doen het met tasbare dinge. ’n Huigelaar kan hierdie dinge doen sonder om ooit Jehovah se tempel binne te gaan. Maar as ons hierdie dinge doen en terselfdertyd volgens Jehovah se verhewe sedelike standaarde lewe en met die regte hartstoestand aan rein aanbidding deelneem, het ons hierdie allerheiligste plek—die reëling vir die rein aanbidding van Jehovah God—binnegegaan en dien ons daar! Laat ons hierdie kosbare voorreg altyd koester. Laat ons ook altyd ons bes doen om Jehovah se heiligheid te weerspieël deur sy regverdige standaarde te handhaaf!

^ par. 2 In 1932 het Deel 2 van die boek Regverdiging getoon dat die Bybelprofesieë oor die herstel van God se volk tot hulle tuisland ’n hedendaagse vervulling gehad het, nie op vleeslike Israel nie, maar op geestelike Israel. Hierdie profesieë wys na die herstel van rein aanbidding. Die Wagtoring van 1 Maart 1999 het verduidelik dat Esegiël se tempelvisioen so ’n herstellingsprofesie is en dus gedurende die laaste dae ’n belangrike geestelike vervulling het.

^ par. 6 Volgens die gelofte is ’n man en vrou verbied om alleen saam in ’n kamer te wees tensy die deur wawyd oop was—of tensy hulle huweliksmaats of familielede was. Hierdie gelofte is etlike jare lank elke dag gedurende Oggendaanbidding by Bethel opgesê.

^ par. 13 Die misbruik van tabak sluit in die rook of kou daarvan of die kweek daarvan vir sulke doeleindes.

^ par. 27 Sien byvoorbeeld hoofstuk 32 van Leer by die Groot Onderwyser; sien ook die voorbladreeks, Beskerm jou kinders!, in die Ontwaak! van Oktober 2007.