Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 12

Georganiseer om “die God van vrede” te dien

Georganiseer om “die God van vrede” te dien

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Jehovah organiseer sy volk progressief

1, 2. Watter verandering het Zion’s Watch Tower in Januarie 1895 ondergaan, en hoe het die broers daarop gereageer?

TOE die ywerige Bybelstudent John A. Bohnet sy eksemplaar van Zion’s Watch Tower van Januarie 1895 ontvang het, was hy verheug oor wat hy gesien het. Die tydskrif het ’n indrukwekkende nuwe voorblad gehad—’n prent van ’n vuurtoring wat bo ’n stormagtige see uittroon en sy ligstrale deur die donkerte beweeg. Die aankondiging in die tydskrif oor die nuwe ontwerp is “Ons nuwe baadjie” genoem.

2 Broer Bohnet was beïndruk en het ’n brief aan broer Russell gestuur. “Bly om te sien dat die WAGTORING op ’n modeparade is”, het hy geskryf. “Dit lyk mooi.” Nog ’n getroue Bybelstudent, John H. Brown, het oor die voorblad geskryf: “Dit is baie treffend. Hoe stewig is die toring se fondasie tog, terwyl daardie golwe en storms daarteen woed.” Hierdie nuwe voorblad was die eerste verandering wat ons broers daardie jaar gesien het—maar dit was nie die laaste nie. In November het hulle van nog ’n groot verandering te wete gekom. Interessant genoeg het dit ook met ’n stormagtige see te doen gehad.

3, 4. Watter probleem is in die Watch Tower van 15 November 1895 bespreek, en watter verreikende verandering is aangekondig?

3 ’n Breedvoerige artikel wat in die Watch Tower van 15 November 1895 verskyn het, het ’n probleem blootgelê: Stormagtige golwe van onenigheid het die vrede van die vereniging, of organisasie, van die Bybelstudente ontwrig. Daar was al hoe meer stryery onder die broers oor wie die leier in die plaaslike gemeente moet wees. Om die broers te help sien wat nodig is om hierdie verdelende gees van wedywering teë te werk, het die artikel die organisasie met ’n skip vergelyk. Toe het dit reguit erken dat diegene wat die leiding geneem het, versuim het om die skipagtige organisasie op stormagtige weer voor te berei. Wat was nodig?

4 Die artikel het daarop gewys dat ’n bekwame kaptein seker maak dat daar reddingsbaadjies op die skip is en dat die bemanning gereed is om die luike vas te skroef wanneer ’n storm aan die kom is. Net so moes diegene wat die leiding in die organisasie geneem het, seker maak dat al die gemeentes voorbereid is om stormagtige toestande die hoof te bied. Met die oog hierop het die artikel ’n verreikende verandering aangekondig wat onmiddellik in werking sou tree. Dit het gesê dat “ouer manne in elke groep gekies moet word” om “‘toesig te hou’ oor die kudde”.—Hand. 20:28.

5. (a) Waarom was die eerste ouermanreëling ’n tydige stap vorentoe? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

5 Hierdie eerste ouermanreëling was ’n tydige stap vorentoe in die proses om ’n stewige gemeentelike struktuur tot stand te bring. Dit het ons broers gehelp om deur die stormagtige golwe te stuur wat deur die Eerste Wêreldoorlog veroorsaak is. In die daaropvolgende dekades het verdere organisatoriese verbeterings God se volk beter toegerus om Jehovah te dien. Watter Bybelprofesie het hierdie verwikkeling voorspel? Watter organisatoriese veranderinge het jy al gesien? Hoe het jy daarby baat gevind?

“Ek sal vrede as jou opsieners aanstel”

6, 7. (a) Wat beteken Jesaja 60:17? (b) Waarop dui die vermelding van “opsieners” en “taakgewers”?

6 Soos ons in Hoofstuk 9 bespreek het, het Jesaja voorspel dat Jehovah sy volk met vermeerdering sou seën (Jes. 60:22). Maar Jehovah het belowe om selfs meer te doen. In dieselfde profesie het hy gesê: “In die plek van die koper sal ek goud bring, en in die plek van die yster sal ek silwer bring, en in die plek van die hout koper, en in die plek van die klippe yster; en ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers” (Jes. 60:17). Wat beteken hierdie profesie? Hoe is dit vandag op ons van toepassing?

Die vervanging is ’n verandering, nie van iets slegs tot iets goeds nie, maar van iets goeds tot iets beters

7 Jesaja se profesie sê dat een materiaal met ’n ander vervang sou word. Maar let daarop dat die vervanging ’n verandering is, nie van iets slegs tot iets goeds nie, maar van iets goeds tot iets beters. Om koper met goud te vervang, is ’n verbetering, en dit is ook die geval met die ander materiale wat hier genoem word. Met hierdie illustrasie het Jehovah dus voorspel dat die toestand van sy volk stapsgewys sou verbeter. Na watter soort verbetering verwys die profesie? Deur “opsieners” en “taakgewers” te meld, het Jehovah aangedui dat daar geleidelike verbeterings sou wees in die manier waarop sy volk versorg en georganiseer word.

8. (a) Deur wie word die verbeterings wat in Jesaja se profesie gemeld word, teweeggebring? (b) Hoe vind ons by die verbeterings baat? (Sien ook die venster “ Hy het teregwysing nederig aanvaar”.)

8 Wie bring hierdie organisatoriese vooruitgang teweeg? Jehovah sê: ‘Ek sal goud bring, . . . ek sal silwer bring . . . en ek sal vrede aanstel.’ Ja, verbeterings in gemeentelike organisasie word teweeggebring, nie deur mensepogings nie, maar deur Jehovah self. En sedert Jesus as Koning gekroon is, het Jehovah hierdie verbeterings deur middel van sy Seun teweeggebring. Hoe vind ons by hierdie veranderinge baat? Dieselfde teks sê dat hierdie verbeterings “vrede” en “regverdigheid” tot gevolg sal hê. Wanneer ons God se leiding aanvaar en aanpassings maak, heers daar vrede onder ons en beweeg liefde vir regverdigheid ons om Jehovah, wat die apostel Paulus as “die God van vrede” beskryf het, te dien.—Fil. 4:9.

9. Wat is die regte grondslag vir orde en eenheid in die gemeente, en waarom?

9 Aangaande Jehovah het Paulus ook geskryf: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Kor. 14:33). Let op dat Paulus nie wanorde met orde gekontrasteer het nie, maar met vrede. Waarom? Dink hieraan: Orde op sigself het nie altyd vreedsame toestande tot gevolg nie. Byvoorbeeld, ’n groep soldate trek moontlik in ’n ordelike wyse op na die gevegsfront, maar hulle ordelike opmars lei tot oorlog, nie vrede nie. Gevolglik wil ons as Christene ’n belangrike feit in gedagte hou: Enige orde wat nie op vrede gegrond is nie, sal vroeër of later tot ’n einde kom. Daarenteen bevorder goddelike vrede die soort orde wat blywend is. Hoe dankbaar is ons tog dat ons organisasie gerig en gelouter word deur “die God wat vrede gee”! (Rom. 15:33). Godgegewe vrede vorm die grondslag vir die voordelige orde en die opregte eenheid wat ons in ons gemeentes regoor die wêreld so geniet en waardeer.—Ps. 29:11.

10. (a) Watter verbeterings het gedurende die vroeë jare in ons organisasie plaasgevind? (Sien die venster “ Hoe opsienerskap verbeter het”.) (b) Watter vrae sal nou bespreek word?

10 Die venster “ Hoe opsienerskap verbeter het” gee ’n oorsig van die voordelige en ordelike veranderinge wat gedurende die vroeë jare in ons organisasie plaasgevind het. Maar watter veranderinge ‘van koper tot goud’ het Jehovah in onlangser tye deur middel van ons Koning teweeggebring? Hoe het hierdie aanpassings in opsienerskap die vrede en eenheid van die gemeentes regoor die wêreld versterk? Hoe help dit jou om “die God van vrede” te dien?

Hoe Christus die gemeente lei

11. (a) Tot watter aanpassing in begrip het ’n studie van die Bybel gelei? (b) Wat was die broers van die bestuursliggaam vasbeslote om te doen?

11 Van 1964 tot 1971 het die bestuursliggaam toesig gehou oor ’n omvattende Bybelstudieprojek wat onder andere ondersoek het hoe die eerste-eeuse Christengemeente gefunksioneer het. * Wat organisatoriese struktuur betref, is daar gevind dat ’n liggaam van ouer manne, nie net een ouer man, of opsiener nie, in die eerste eeu oor elke gemeente toesig gehou het. (Lees Filippense 1:1; 1 Timoteus 4:14.) Toe hierdie punt beter verstaan is, het die bestuursliggaam besef dat hulle Koning, Jesus, hulle rig om verbeterings aan te bring in die organisatoriese struktuur van God se volk—en die broers van die bestuursliggaam was vasbeslote om die Koning se leiding te volg. Hulle het onmiddellik organisatoriese aanpassings gemaak om die ouermanreëling wat in die Bybel uiteengesit word, noukeuriger te volg. Wat is ’n paar aanpassings wat in die vroeë 1970’s gemaak is?

12. (a) Watter aanpassing is in verband met die bestuursliggaam gemaak? (b) Beskryf hoe die Bestuursliggaam nou georganiseer is. (Sien die venster “ Hoe die Bestuursliggaam na Koninkryksbelange omsien.”)

12 Die eerste aanpassing was in verband met die bestuursliggaam self. Tot op daardie stadium het hierdie groep gesalfde broers uit die sewe lede van die direksie van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië bestaan. Maar in 1971 is die bestuursliggaam van 7 tot 11 lede vergroot en was hulle nie meer deel van die direksie nie. Die lede het mekaar as gelyke beskou en het die voorsitterskap jaarliks in alfabetiese volgorde begin roteer.

13. (a) Watter reëling het 40 jaar lank bestaan? (b) Wat het die Bestuursliggaam in 1972 gedoen?

13 Die volgende aanpassing het elke gemeente geraak. Hoe? Van 1932 tot 1972 is toesig oor die gemeente hoofsaaklik deur een broer behartig. Tot 1936 is hierdie aangestelde broer die diensleier genoem. Daarna is die naam verander na groepskneg, toe na gemeentekneg en uiteindelik na gemeenteopsiener. Hierdie aangestelde broers het ywerig na die geestelike welsyn van die kudde omgesien. Die gemeenteopsiener het gewoonlik besluite namens die gemeente geneem sonder om ander knegte in die gemeente te raadpleeg. Maar in 1972 het die Bestuursliggaam die weg gebaan vir ’n geskiedkundige verandering. Wat het hierdie verandering behels?

14. (a) Watter nuwe reëling het op 1 Oktober 1972 in werking getree? (b) Hoe pas die koördineerder van ’n liggaam van ouer manne die raad in Filippense 2:3 toe?

14 In plaas daarvan dat een broer in elke gemeente as die gemeenteopsiener dien, sou ander broers wat aan die skriftuurlike vereistes voldoen, nou ook teokraties aangestel word om as Christen- ouer manne te dien. Saam sou hulle ’n liggaam van ouer manne vorm wat oor die plaaslike gemeente toesig hou. Hierdie nuwe ouermanreëling het op 1 Oktober 1972 in werking getree. Vandag beskou die koördineerder van ’n liggaam van ouer manne homself nie as belangriker as die ander ouer manne nie, maar “as ’n mindere” (Luk. 9:48). Wat ’n seën is sulke nederige broers tog vir die wêreldwye broederskap!—Fil. 2:3.

Dit is duidelik dat ons Koning, met versiendheid, sy volgelinge op die regte tyd van die nodige herders voorsien het

15. (a) Watter voordele het die reëling om ’n liggaam van ouer manne in elke gemeente te hê, meegebring? (b) Wat toon dat ons Koning met versiendheid opgetree het?

15 Die reëling om verantwoordelikheid in die gemeente onder lede van ’n liggaam van ouer manne te verdeel, was ’n groot verbetering. Kyk na hierdie drie voordele: Die eerste en vernaamste is dat die reëling alle ouer manne help—ongeag hoe groot hulle gemeentelike verantwoordelikhede is—om altyd daarvan bewus te wees dat Jesus die Hoof van die gemeente is (Ef. 5:23). Die tweede voordeel is, soos Spreuke 11:14 sê: “Daar is redding in die veelheid van raadgewers.” Wanneer ouer manne mekaar raadpleeg oor sake wat die geestelike welsyn van die gemeente raak en mekaar se voorstelle in ag neem, help dit hulle om besluite in ooreenstemming met Bybelbeginsels te neem (Spr. 27:17). Jehovah seën hierdie besluite, en dit lei tot sukses. Die derde voordeel is dat die organisasie in die toenemende behoefte aan toesig en herderswerk in die gemeentes kan voorsien omdat meer bekwame broers as ouer manne dien (Jes. 60:3-5). Dink net—die aantal gemeentes regoor die wêreld het van oor die 27 000 in 1971 tot meer as 113 000 in 2013 toegeneem! Dit is duidelik dat ons Koning, met versiendheid, sy volgelinge op die regte tyd van die nodige herders voorsien het.—Miga 5:5.

‘Word voorbeelde vir die kudde’

16. (a) Watter verantwoordelikheid het ouer manne? (b) Hoe het die Bybelstudente Jesus se vermaning beskou om ‘as herders toesig te hou oor die skape’?

16 Reeds in die vroeë dae van die Bybelstudente het die ouer manne verstaan dat hulle ’n verantwoordelikheid het om medegelowiges te help om knegte van God te bly. (Lees Galasiërs 6:10.) In 1908 het ’n artikel in die Watch Tower Jesus se vermaning bespreek: “Hou as herder toesig oor my skapies” (Joh. 21:15-17). Die artikel het vir ouer manne gesê: “Dit is baie belangrik dat die Heer se opdrag in verband met die kudde ons baie na aan die hart lê, dat ons dit tereg beskou as ’n groot voorreg om die Here se volgelinge te voed en te versorg.” In 1925 het The Watch Tower weer die belangrikheid daarvan beklemtoon dat ouer manne as herders moet dien deur hulle te vermaan: “Die kerk van God is sy eiendom, . . . en hy sal almal wat die voorreg het om hulle broers te dien, tot verantwoording roep.”

17. Hoe is opsieners gehelp om bekwame herders te word?

17 Hoe het Jehovah se organisasie ouer manne gehelp om hulle vaardighede as herders van ‘yster tot silwer’ te verander? Deur opleiding te voorsien. In 1959 is die eerste Koninkryksbedieningskool vir opsieners gehou. Een klassessie het gehandel oor die onderwerp “Gee persoonlike aandag”. Hierdie verantwoordelike broers is aangespoor om “’n rooster op te stel om verkondigers by die huis te besoek”. Die sessie het verskeie maniere bespreek waarop herders hierdie besoeke opbouend kan maak. In 1966 het ’n bygewerkte Koninkryksbedieningskool begin. Dit het die onderwerp “Die belangrikheid van die herderswerk” bespreek. Wat was die hoofpunt van hierdie klassessie? Diegene wat die leiding neem, “moet help om liefdevolle sorg aan die kudde van God te voorsien, terwyl hulle nie versuim om gepaste aandag aan hulle gesin en aan die veldbediening te gee nie”. In onlangse jare is nog skole vir ouer manne gehou. Wat was die resultaat van die voortgesette opleiding wat Jehovah se organisasie voorsien het? Vandag is daar duisende bekwame broers in die Christengemeente wat as geestelike herders dien.

Koninkryksbedieningskool in die Filippyne, 1966

18. (a) Watter gewigtige verantwoordelikheid is aan ouer manne toevertrou? (b) Waarom het Jehovah en Jesus hardwerkende ouer manne lief?

18 Christen- ouer manne is deur Jehovah, deur middel van ons Koning, Jesus, daar gestel om ’n gewigtige taak te verrig. Wat is dit? Om God se skape deur die mees kritieke tyd in die mensegeskiedenis te lei (Ef. 4:11, 12; 2 Tim. 3:1). Jehovah en Jesus het hardwerkende ouer manne baie lief omdat hierdie broers ag slaan op die skriftuurlike vermaning: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is . . . , gewillig . . . , gretig . . . , deur voorbeelde vir die kudde te word” (1 Pet. 5:2, 3). Kom ons bespreek twee van die talle maniere waarop Christenherders voorbeelde vir die kudde is en grootliks tot die vrede en vreugde in die gemeente bydra.

Hoe ouer manne vandag as herders toesig hou oor die kudde van God

19. Hoe voel ons oor ouer manne wat saam met ons in die bediening werk?

19 Eerstens, ouer manne werk saam met lede van die gemeente. Die Evangelieskrywer Lukas het oor Jesus gesê: “Hy [het] van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak. En die twaalf was saam met hom” (Luk. 8:1). Net soos Jesus saam met sy apostels gepreek het, werk voorbeeldige ouer manne vandag sy aan sy met hulle medegelowiges in die predikingswerk. Hulle besef dat hulle sodoende grootliks tot die heilsame gees van die gemeente bydra. Hoe voel gemeentelede oor sulke ouer manne? Jeannine, ’n suster in haar laat 80’s, sê: “Wanneer ek saam met ’n ouer man velddiens doen, gee dit my ’n gulde geleentheid om met hom te gesels en hom beter te leer ken.” Steven, ’n broer in sy middel-30’s, sê: “Wanneer ’n ouer man saam met my in die deur-tot-deur-bediening werk, wys dit vir my dat hy my wil help. Dit maak my baie bly om hierdie hulp te ontvang.”

Soos ’n herder na ’n verlore skaap soek, probeer ouer manne diegene vind wat kontak met die gemeente verloor het

20, 21. Hoe kan ouer manne die herder in Jesus se gelykenis navolg? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook die venster “ Produktiewe weeklikse besoeke”.)

20 Tweedens, Jehovah se organisasie het ouer manne opgelei om besorgdheid te toon oor diegene wat kontak met die gemeente verloor het (Heb. 12:12). Waarom moet ouer manne diegene help wat geestelik swak is, en hoe moet hulle dit doen? Jesus se gelykenis van ’n herder en ’n verlore skaap voorsien die antwoorde. (Lees Lukas 15:4-7.) Wanneer die herder in die gelykenis agterkom dat ’n skaap weg is, soek hy na die verlore skaap asof dit sy enigste skaap is. Hoe volg Christen- ouer manne vandag die voorbeeld van hierdie herder? Net soos die verlore skaap kosbaar bly in die oë van die herder, bly diegene wat kontak met God se volk verloor het, kosbaar in die oë van die ouer manne. Hulle beskou iemand wat geestelik swak is, as ’n verlore skaap—nie as ’n verlore saak nie. Wat meer is, net soos die herder besluit om “die een wat verlore is, [te] gaan soek totdat hy dit vind”, neem ouer manne die inisiatief om die swakkes te vind en te help.

21 Wat doen die herder in die gelykenis wanneer hy die skaap vind? Hy tel dit liefdevol op, ‘sit dit op sy skouers’ en dra dit terug na die kudde. Net so kan ’n ouer man se blyke van opregte belangstelling iemand wat geestelik swak is, liefdevol oprig en hom help om na die gemeente terug te keer. Dit is wat gebeur het met Victor, ’n broer in Afrika wat opgehou het om met die gemeente te assosieer. Hy vertel: “Gedurende die agt jaar dat ek onbedrywig was, het die ouer manne my voortdurend probeer help.” Wat het hom veral geraak? Hy verduidelik: “Eendag het John, ’n ouer man wat saam met my by die Pionierdiensskool was, die tyd geneem om my te besoek en my ’n paar foto’s te wys wat hy gedurende die skool van ons geneem het. Dit het soveel wonderlike herinneringe teruggebring dat ek begin smag het na die vreugde wat ek gehad het toe ek Jehovah gedien het.” Kort ná John se besoek het Victor na die gemeente teruggekeer. Vandag dien hy weer as ’n pionier. Ja, liefdevolle Christen- ouer manne dra grootliks tot ons vreugde by.—2 Kor. 1:24. *

Beter toesig versterk die eenheid onder God se volk

22. Hoe versterk regverdigheid en vrede die eenheid van die Christengemeente? (Sien ook die venster “ Ons was verstom”.)

22 Soos vroeër gemeld is, het Jehovah voorspel dat regverdigheid en vrede bestendig sou toeneem onder God se volk (Jes. 60:17). Albei hierdie eienskappe versterk die eenheid van die gemeentes. Hoe? Wat regverdigheid betref, “God is een Jehovah” (Deut. 6:4). Sy regverdige standaarde verskil nie van gemeentes in een land tot gemeentes in ’n ander land nie. Nee, hy het net een standaard van reg en verkeerd, en dit bly dieselfde vir “al die gemeentes van die heiliges” (1 Kor. 14:33). ’n Gemeente sal dus net floreer wanneer God se standaarde toegepas word. Wat vrede betref, wil ons Koning nie net hê dat ons vrede in die gemeente moet geniet nie, maar ook dat ons vredemakers moet wees (Matt. 5:9). Daarom ‘streef ons die dinge na wat vrede bevorder’. Ons neem die inisiatief om geskille op te los wat soms onder ons ontstaan (Rom. 14:19). Só dra ons tot die vrede sowel as die eenheid van ons gemeente by.—Jes. 60:18.

23. Wat geniet ons vandag as Jehovah se knegte?

23 In November 1895, toe die Watch Tower die eerste ouermanreëling aangekondig het, het die verantwoordelike broers ook ’n opregte begeerte uitgespreek. Wat was dit? Hulle het gewens en gebid dat hierdie nuwe organisatoriese reëling God se volk sou help om “gou die eenheid van die geloof te bewerkstellig”. Wanneer ons oor die dekades terugkyk, is ons dankbaar om te sien dat die geleidelike verfynings in opsienerskap wat Jehovah deur ons Koning teweeggebring het, inderdaad ons eenheid van aanbidding versterk het (Ps. 99:4). Gevolglik is al Jehovah se knegte regoor die aarde vandag verheug terwyl ons “in dieselfde gees” wandel, “dieselfde voetstappe” volg en die “God van vrede” “skouer aan skouer” dien.—2 Kor. 12:18; lees Sefanja 3:9.

^ par. 11 Die resultate van hierdie omvattende navorsing is in die naslaanwerk Aid to Bible Understanding gepubliseer.

^ par. 21 Sien die artikel “Christen- ouer manne—‘Medewerkers vir ons vreugde’”, in Die Wagtoring van 15 Januarie 2013.