Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 18

Hoe Koninkryksbedrywighede gefinansier word

Hoe Koninkryksbedrywighede gefinansier word

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Waarom en hoe Jehovah se volk die Koninkrykswerk finansieel ondersteun

1, 2. (a) Hoe het broer Russell ’n predikant geantwoord wat wou weet hoe die bedrywighede van die Bybelstudente bestuur word? (b) Wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

BY EEN geleentheid het ’n predikant van die Gereformeerde Kerk na broer Charles T. Russell gekom om uit te vind hoe die bedrywighede van die Bybelstudente bestuur word.

“Ons neem nooit kollektes op nie”, het broer Russell verduidelik.

“Hoe kry julle die geld?” het die predikant gevra.

“As ek jou die eenvoudige waarheid vertel, sal jy dit skaars kan glo”, het Russell geantwoord. “Wanneer mense hierin begin belangstel, vind hulle nie dat ’n kollektebord onder hulle neus gedruk word nie. Maar hulle sien dat daar wel uitgawes is. Hulle sê vir hulleself: ‘Hierdie saal kos geld . . . Hoe kan ek ietsie hiervoor bydra?’”

Die predikant het broer Russell ongelowig aangekyk.

“Ek praat die reine waarheid”, het Russell verder gesê. “Hulle vra my hierdie einste vraag: ‘Hoe kan ek ietsie hiervoor bydra?’ Wanneer iemand ’n seën ontvang en enige middele het, wil hy dit vir die Here gebruik. As hy nie die middele het nie, waarom moet ons hom dwing om iets te gee?” *

2 Broer Russell het inderdaad “die reine waarheid” gepraat. God se volk gee al lank vrywillige bydraes om ware aanbidding te ondersteun. In hierdie hoofstuk sal ons ’n paar skriftuurlike voorbeelde hiervan sowel as ons hedendaagse geskiedenis ondersoek. Terwyl ons kyk hoe Koninkryksbedrywighede vandag gefinansier word, kan elkeen van ons ons gerus afvra: ‘Hoe kan ek toon dat ek die Koninkryk ondersteun?’

‘Laat elkeen wat gewillig van hart is, ’n bydrae bring’

3, 4. (a) Watter vertroue het Jehovah in sy aanbidders? (b) Hoe het die Israeliete getoon dat hulle die bou van die tabernakel ondersteun?

3 Jehovah het vertroue in sy ware aanbidders. Hy weet dat hulle met graagte hulle toegewydheid deur vrywillige bydraes sal toon as hulle die geleentheid gegee word. Kyk na twee voorbeelde in Israel se geskiedenis.

4 Nadat Jehovah die Israeliete uit Egipte uitgelei het, het hy hulle aangesê om ’n draagbare tent, of tabernakel, vir aanbidding te bou. Die tabernakel en sy toebehore sou aansienlike middele vereis. Jehovah het Moses beveel om die volk die geleentheid te gee om die projek te ondersteun en het gesê: “Laat elkeen wat gewillig van hart is, dit as Jehovah se bydrae bring” (Eks. 35:5). Hoe het die volk, wat nog kort tevore “onder tirannie as slawe gebruik” is, gereageer? (Eks. 1:14). Hulle het die projek onvoorwaardelik ondersteun en gewillig afstand gedoen van goud, silwer en ander waardevolle voorwerpe—waarvan hulle die meeste waarskynlik by hulle voormalige eienaars, die Egiptenaars, gekry het (Eks. 12:35, 36). Die Israeliete het oorgenoeg gegee en moes “daarvan weerhou” word om nog enigiets te gee.—Eks. 36:4-7.

5. Hoe het die Israeliete gereageer toe Dawid hulle die geleentheid gegee het om tot die bou van die tempel by te dra?

5 Sowat 475 jaar later het Dawid van sy persoonlike besittings bygedra om die bou van die tempel, die eerste permanente sentrum van ware aanbidding op die aarde, te finansier. Toe het hy sy mede-Israeliete die geleentheid gegee om by te dra deur te vra: “Wie bied hom vrywillig aan om vandag sy hand met ’n geskenk vir Jehovah te vul?” In reaksie hierop het die volk “met ’n volkome hart vrywillige gawes aan Jehovah gegee” (1 Kron. 29:3-9). Dawid het die ware bron van hierdie bydraes erken deur in gebed vir Jehovah te sê: “Alles kom van u, en uit u hand het ons aan u gegee.”—1 Kron. 29:14.

6. Waarom is geld vandag nodig om die Koninkrykswerk uit te voer, en watter vrae ontstaan?

6 Dit was nie vir Moses of Dawid nodig om druk op God se volk te plaas om te gee nie. Die volk het eerder met ’n gewillige hart gegee. Wat van vandag? Ons weet goed dat die werk wat God se Koninkryk doen, geld vereis. Dit kos baie om Bybels en Bybellektuur te publiseer en te versprei, om vergaderplekke en takfasiliteite te bou en in stand te hou en om tydens rampe noodleniging aan medegelowiges te verleen. Daarom ontstaan belangrike vrae: Waar kom die nodige geld vandaan? Moet die Koning se volgelinge aangepor word om te gee?

‘Dit sal nooit bedel of mense om ondersteuning smeek nie’

7, 8. Waarom bedel Jehovah se volk nie om geld nie?

7 Broer Russell en sy metgeselle het geweier om die soort geldinsamelingskemas te gebruik wat so algemeen is in die kerke van die Christendom. In die tweede nommer van die Watch Tower onder die onderhofie “Wil julle ‘Zion’s Watch Tower’ hê?” het Russell gesê: “Ons glo dat JEHOVAH die ondersteuner van ‘Zion’s Watch Tower’ is, en solank dit die geval is, sal dit nooit bedel of mense om ondersteuning smeek nie. Wanneer Hy wat sê: ‘Die silwer is myne en die goud is myne’, nie die nodige geld voorsien nie, sal ons verstaan dat dit tyd is om op te hou om hierdie publikasie uit te gee” (Hag. 2:7-9). Meer as 130 jaar later floreer Die Wagtoring en die organisasie wat dit publiseer, nog steeds!

8 Jehovah se volk bedel nie om geld nie. Hulle stuur nie kollekteborde om of bedelbriewe uit nie. Hulle gebruik nie bingo, basaars of loterye om geld te maak nie. Hulle bly by wat die Watch Tower lank gelede gesê het: “Ons het dit nog nooit as gepas beskou om geld te vra vir die Here se werk, soos algemeen die gebruik is nie . . . Volgens ons is geld wat deur verskeie vorme van bedelary in die naam van ons Here ingesamel word, afstootlik, onaanneemlik vir hom en bring dit nie sy seën mee op die gewers of die werk wat verrig word nie.” *

“Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het”

9, 10. Wat is een rede waarom ons vrywillige bydraes gee?

9 As Koninkryksonderdane hoef ons vandag nie gedwing te word om te gee nie. Inteendeel, ons gebruik met graagte ons geld en ander middele om Koninkryksbedrywighede te ondersteun. Waarom is ons so gewillig om te gee? Kyk na drie redes.

10 Eerstens, ons gee vrywillige bydraes omdat ons Jehovah liefhet en wil doen “wat in sy oë welbehaaglik is” (1 Joh. 3:22). ’n Aanbidder wat vryelik uit die hart gee, behaag Jehovah beslis. Kom ons ondersoek die apostel Paulus se woorde oor hoe Christene moet gee. (Lees 2 Korintiërs 9:7.) ’n Ware Christen is nie ’n teësinnige of gedwonge gewer nie. Hy gee eerder omdat hy hom “in sy hart voorgeneem het” om dit te doen. * Dit wil sê, hy gee nadat hy nagedink het oor ’n behoefte en hoe hy daarin kan voorsien. So ’n gewer lê Jehovah na aan die hart, want “God het ’n blymoedige gewer lief”. Nog ’n vertaling sê: “God is lief vir dié wat daarvan hou om te gee.”

Ons kinders in Mosambiek hou ook daarvan om te gee

11. Wat beweeg ons om Jehovah ons allerbeste gawe te gee?

11 Tweedens, ons gee materiële bydraes as ’n manier om Jehovah te dank vir al ons seëninge. Kyk na ’n beginsel in die Mosaïese Wet wat ons help om ons hart te ondersoek. (Lees Deuteronomium 16:16, 17.) Wanneer Israelitiese mans die drie jaarlikse feeste bygewoon het, moes elkeen van hulle ’n gawe bring “ooreenkomstig die seën van Jehovah” wat hy hulle gegee het. Voordat hy ’n fees bygewoon het, moes elke man dus oor sy seëninge nadink en sy hart ondersoek sodat hy kon besluit wat die allerbeste gawe is wat hy kon bring. Wanneer óns nadink oor die talle maniere waarop Jehovah ons geseën het, beweeg dit ons ook om hom ons allerbeste gawe te gee. Ons heelhartige gawe, wat ons materiële bydraes insluit, is ’n weerspieëling van hoe groot ons waardering is vir die seëninge wat Jehovah op ons uitstort.—2 Kor. 8:12-15.

12, 13. Hoe toon ons vrywillige bydraes ons liefde vir die Koning, en hoeveel gee elkeen?

12 Derdens, deur middel van ons vrywillige bydraes toon ons ons liefde vir die Koning Jesus Christus. Hoe so? Let op wat Jesus op die laaste aand van sy aardse lewe vir sy dissipels gesê het. (Lees Johannes 14:23.) “As iemand my liefhet”, het Jesus gesê, “sal hy my woord bewaar.” Jesus se “woord” sluit sy opdrag in om die goeie nuus van die Koninkryk in die hele aarde te verkondig (Matt. 24:14; 28:19, 20). Ons bewaar hierdie “woord” deur alles in ons vermoë te doen—deur ons tyd, energie en materiële middele te gebruik—om die Koninkrykspredikingswerk te bevorder. Sodoende toon ons ons liefde vir die Messiaanse Koning.

13 Ja, as lojale Koninkryksonderdane is dit ons innige begeerte om te toon dat ons die Koninkryk ondersteun deur finansiële bydraes te gee. Hoe doen ons dit? Dit is ’n persoonlike besluit. Elkeen gee na die beste van sy vermoë. Maar baie van ons medegelowiges het min aardse besittings (Matt. 19:23, 24; Jak. 2:5). Hulle kan egter vertroosting put uit die wete dat Jehovah en sy Seun selfs klein bydraes wat uit ’n gewillige hart gegee word, waardeer.—Mark. 12:41-44.

Hoe word geld ontvang?

14. Wat het Jehovah se Getuies jare lank vir hulle lektuur gevra?

14 Jehovah se Getuies het jare lank ’n voorgestelde bydrae vir Bybellektuur gevra. Hierdie bydrae is so klein moontlik gehou sodat selfs mense wat dit nie breed gehad het nie, die lektuur kon ontvang. As dit gelyk het asof ’n huisbewoner belangstel, maar hy nie ’n bydrae kon gee nie, het Koninkryksverkondigers die lektuur natuurlik met graagte by hom gelaat. Hulle innige begeerte was om die lektuur in die hande van opregte mense te kry wat dit kon lees en daarby kon baat vind.

15, 16. (a) Watter aanpassing het die Bestuursliggaam in 1990 begin maak in die manier waarop ons ons lektuur aanbied? (b) Hoe word vrywillige bydraes gemaak? (Sien ook die venster “ Waarvoor word ons bydraes gebruik?”)

15 In 1990 het die Bestuursliggaam die manier waarop ons lektuur aanbied, begin aanpas. Sedert daardie jaar is daar in die Verenigde State glad nie meer ’n voorgestelde bydrae vir enige lektuur gevra nie. ’n Brief aan alle gemeentes in daardie land het verduidelik: “Tydskrifte en lektuur sal aan verkondigers en belangstellendes in die veld voorsien word sonder om ’n spesifieke bydrae te vra of dit eens voor te stel as ’n voorwaarde om die item te ontvang. . . . Enigiemand wat ’n bydrae wil gee om die onkoste van ons onderrigtingswerk te help dek, kan dit doen, maar hulle kan lektuur ontvang hetsy hulle ’n bydrae gee of nie.” Hierdie reëling het gehelp om die vrywillige en godsdienstige aard van ons werk duidelik te maak en te toon dat ons “nie smouse van die woord van God” is nie (2 Kor. 2:17). Mettertyd het die reëling van vrywillige bydraes by alle takkantore regoor die wêreld in werking getree.

16 Hoe word vrywillige bydraes gemaak? In Koninkryksale van Jehovah se Getuies is daar bydraebussies op onopvallende plekke. Mense kan hierdie bussies gebruik of kan bydraes regstreeks stuur aan een van die regspersone wat deur Jehovah se Getuies gebruik word. Elke jaar sit ’n artikel in Die Wagtoring uiteen hoe sulke vrywillige bydraes gemaak kan word.

Hoe word die geld gebruik?

17-19. Verduidelik hoe bydraes gebruik word vir (a) die wêreldwye werk, (b) die wêreldwye Koninkryksaalbouwerk en (c) plaaslike gemeentelike uitgawes.

17 Wêreldwye werk. Fondse word gebruik om die onkoste in verband met die wêreldwye predikingswerk te dek. Dit sluit die uitgawes in om lektuur vir wêreldwye verspreiding te vervaardig, om takkantore en Bethelhuise te bou en in stand te hou en om verskillende teokratiese skole te hou. Daarbenewens word geld gebruik om na sendelinge, reisende opsieners en spesiale pioniers om te sien. Ons bydraes word ook gebruik om tydens rampe noodleniging aan medegelowiges te verleen. *

18 Wêreldwye Koninkryksaalbouwerk. Fondse word ook gebruik om gemeentes te help om ’n Koninkryksaal te bou of op te knap. Namate nog bydraes inkom, kan verdere fondse beskikbaar gestel word om nog gemeentes te help. *

19 Plaaslike gemeentelike uitgawes. Fondse word gebruik om die bedryfs- en instandhoudingskoste van die Koninkryksaal te dek. Die ouer manne kan aanbeveel dat van die geld aan die plaaslike takkantoor gestuur word ter bevordering van die wêreldwye werk. In sulke gevalle sal die ouer manne ’n resolusie aan die gemeente voorlê. As dit aanvaar word, sal die voorgestelde bedrag gestuur word. Die broer wat na die gemeenterekeninge omsien, stel elke maand ’n finansiële verslag saam, wat aan die gemeente voorgelees word.

20. Hoe kan jy Jehovah met jou “waardevolle dinge” eer?

20 Wanneer ons dink aan alles wat by die uitvoering van die wêreldwye Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk betrokke is, beweeg dit ons om ‘Jehovah met ons waardevolle dinge te eer’ (Spr. 3:9, 10). Ons waardevolle dinge sluit ons fisiese, verstandelike en geestelike bates in. Ons wil hierdie dinge beslis ten volle in die Koninkrykswerk gebruik. Maar onthou dat ons waardevolle dinge ook ons materiële bates insluit. Laat ons vasbeslote wees om te gee wat ons kan, wanneer ons kan. Ons vrywillige bydraes strek Jehovah tot eer en toon dat ons die Messiaanse Koninkryk ondersteun.

^ par. 10 The Watch Tower, 15 Julie 1915, bladsye 218-219.

^ par. 8 Die Watch Tower, 1 Augustus 1899, bladsy 201.

^ par. 10 Een geleerde sê dat die Griekse term wat met “voorgeneem” weergegee word, “die gedagte oordra van ’n besluit wat vooraf geneem is”. Hy voeg by: “Hoewel dit spontane vreugde meebring om te gee, moet dit nog steeds beplan en stelselmatig gedoen word.”—1 Kor. 16:2.

^ par. 17 Sien Hoofstuk 20 vir meer inligting oor die noodlenigingsbediening.

^ par. 18 Sien Hoofstuk 19 vir besonderhede oor die Koninkryksaalbouwerk.