Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 19

Bouwerk wat Jehovah tot eer strek

Bouwerk wat Jehovah tot eer strek

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Wêreldwye bouwerk bevorder Koninkryksbelange

1, 2. (a) Wat geniet Jehovah se knegte al lank? (b) Wat waardeer Jehovah innig?

JEHOVAH se lojale knegte geniet dit al lank om geboue op te rig wat sy naam tot eer strek. Die Israeliete het byvoorbeeld geesdriftig deelgeneem aan die bou van die tabernakel en het materiaal mildelik daarvoor bygedra.—Eks. 35:30-35; 36:1, 4-7.

2 Jehovah beskou die boumateriaal nie as die vernaamste ding wat hom tot eer strek nie, en dit is ook nie waaraan hy die grootste waarde heg nie (Matt. 23:16, 17). Wat Jehovah innig waardeer, die gawe wat hom die meeste tot eer strek, is die aanbidding van sy knegte, insluitende hulle gewillige gees en ywerige werk (Eks. 35:21; Mark. 12:41-44; 1 Tim. 6:17-19). Hierdie feit is betekenisvol. Waarom? Omdat geboue kom en gaan. Die tabernakel en die tempel bestaan byvoorbeeld nie meer nie. Maar al bestaan hierdie geboue nie meer nie, het Jehovah nie die vrygewigheid en harde werk van sy lojale knegte wat die bou daarvan ondersteun het, vergeet nie.—Lees 1 Korintiërs 15:58; Hebreërs 6:10.

3. Waarna sal ons in hierdie hoofstuk kyk?

3 Jehovah se hedendaagse knegte het ook hard gewerk om plekke van aanbidding te bou. En wat ons onder die leiding van ons Koning Jesus Christus verrig het, is werklik merkwaardig! Dit is duidelik dat Jehovah ons pogings geseën het (Ps. 127:1). In hierdie hoofstuk sal ons kyk na van die werk wat gedoen is en hoe dit Jehovah tot eer gestrek het. Ons sal ook kyk na die kommentare van party wat met die werk gehelp het.

Die bou van Koninkryksale

4. (a) Waarom het ons meer plekke van aanbidding nodig? (b) Waarom is verskeie takkantore saamgesmelt? (Sien die venster “ Die bou van takkantore en veranderende behoeftes”.)

4 Soos in Hoofstuk 16 bespreek is, vereis Jehovah dat ons vir aanbidding bymekaarkom (Heb. 10:25). Ons vergaderinge versterk nie net ons geloof nie, maar verhoog ook ons geesdrif vir die predikingswerk. Gedurende hierdie laaste dae gaan Jehovah voort om die werk te bespoedig. Gevolglik stroom honderdduisende elke jaar na sy organisasie (Jes. 60:22). Namate die aantal Koninkryksonderdane toeneem, neem die behoefte aan drukfasiliteite om Bybellektuur te vervaardig, ook toe. Ons het ook meer plekke van aanbidding nodig.

5. Waarom is die naam Koninkryksaal gepas? (Sien ook die venster “ Die Nuwe Lig-kerk”.)

5 Vroeg in die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se volk het die Bybelstudente begin besef dat dit belangrik is om hulle eie vergaderplekke te hê. Een van die eerste plekke van aanbidding is blykbaar in 1890 in Wes-Virginië, VSA, gebou. Teen die 1930’s het Jehovah se volk al ’n aantal sale gebou of opgeknap. Hierdie vergaderplekke het egter nog nie ’n kenmerkende naam gehad nie. Maar in 1935 het broer Rutherford Hawaii besoek, waar ’n saal sowel as ’n nuwe takkantoor gebou is. Toe broer Rutherford gevra is wat hierdie gebou genoem moet word, het hy geantwoord: “Dink julle nie dat ons dit ’n ‘Koninkryksaal’ moet noem nie, aangesien dit is wat ons doen, naamlik om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig?” (Matt. 24:14). Hierdie gepaste naam is kort voor lank nie net vir hierdie spesifieke saal gebruik nie, maar ook vir die meeste van die vergaderplekke van die gemeentes van Jehovah se volk regoor die wêreld.

6, 7. Wat het die bou van snelbou-Koninkryksale voorsien?

6 Teen die 1970’s het die behoefte aan Koninkryksale vinnig toegeneem. Gevolglik het broers in die Verenigde State ’n doeltreffende metode ontwikkel om aantreklike, praktiese geboue in net ’n paar dae op te rig. Teen 1983 is daar al sowat 200 van hierdie Koninkryksale in die Verenigde State en Kanada gebou. Om die werk gedoen te kry, het broers streekboukomitees begin saamstel. Hierdie metode het so goed gewerk dat die Bestuursliggaam dit in 1986 ’n amptelike reëling gemaak het, en teen 1987 was daar 60 Streekboukomitees (SBK’s) in die Verenigde State. * Teen 1992 was daar ook SBK’s in Argentinië, Australië, Duitsland, Frankryk, Japan, Mexiko, Spanje en Suid-Afrika. Die hardwerkende broers wat Koninkryksale en Byeenkomssale bou, verdien beslis ons ondersteuning, want die werk wat hulle doen, is deel van heilige diens.

7 Hierdie snelbou-Koninkryksale het ’n wonderlike getuienis voorsien aan die gemeenskappe waarin dit gebou is. ’n Koerant in Spanje het byvoorbeeld ’n artikel met die opskrif gehad: “Geloof versit berge.” Die koerant het aangaande die bou van so ’n Koninkryksaal in die dorp Martos gevra: “Hoe is dit moontlik dat vrywilligers uit verskillende dele [van Spanje], in hierdie huidige wêreld wat op selfsug gebaseer is, sonder selfsugtige beweegredes na Martos reis om ’n gebou op te rig wat alle rekords met betrekking tot spoed, voortreflikheid en organisasie gebreek het?” In antwoord op hierdie vraag het die artikel die woorde van een van die Getuievrywilligers aangehaal: “Die antwoord lê eenvoudig in die feit dat ons ’n volk is wat deur Jehovah geleer word.”

Bouwerk in lande met beperkte middele

8. Watter nuwe program het die Bestuursliggaam in 1999 goedgekeur, en waarom?

8 Teen die einde van die 20ste eeu het mense in lande waar die broers beperkte middele het, na Jehovah se organisasie gestroom. Die plaaslike gemeentes het alles in hulle vermoë gedoen om vergaderplekke te bou. Maar in party lande moes hulle bespotting en vooroordeel verduur omdat die plaaslike Koninkryksale baie eenvoudig was in vergelyking met ander plekke van aanbidding. In 1999 het die Bestuursliggaam egter ’n program goedgekeur om die bou van Koninkryksale in ontwikkelende lande te bespoedig. Geld uit welvarender lande is beskikbaar gestel sodat ’n “gelykmaking” kon plaasvind. (Lees 2 Korintiërs 8:13-15.) En broers en susters uit ander lande het aangebied om met die werk te help.

9. Watter taak het oorweldigend gelyk, maar wat is verrig?

9 Aanvanklik het dit na ’n oorweldigende taak gelyk. ’n Verslag in 2001 het aan die lig gebring dat meer as 18 300 Koninkryksale in 88 ontwikkelende lande nodig was. Maar met die steun van God se gees en ons Koning Jesus Christus is geen taak onmoontlik nie (Matt. 19:26). Binne sowat 15 jaar, van 1999 tot 2013, het God se volk 26 849 Koninkryksale as deel van hierdie program gebou. * Jehovah gaan voort om die predikingswerk te seën; gevolglik was daar in 2013 nog steeds ’n behoefte aan ongeveer 6 500 Koninkryksale in hierdie lande, en die behoefte neem elke jaar met honderde toe.

Die bou van Koninkryksale in lande met beperkte middele bied unieke uitdagings

10-12. Hoe het die bou van Koninkryksale Jehovah se naam tot eer gestrek?

10 Hoe het die bou van hierdie nuwe Koninkryksale Jehovah se naam tot eer gestrek? ’n Verslag van die takkantoor in Zimbabwe het gesê: “Binne ’n maand nadat ’n nuwe Koninkryksaal gebou is, verdubbel die bywoningsyfer by die vergaderinge gewoonlik.” In baie lande huiwer mense blykbaar om met ons te assosieer totdat ons ’n geskikte plek van aanbidding het. Maar wanneer ’n Koninkryksaal gebou word, raak dit gou te klein en is nog ’n Koninkryksaal nodig. Maar dit is nie net die voorkoms van die geboue wat mense tot Jehovah aantrek nie. Die opregte Christelike liefde wat getoon word deur dié wat die sale bou, beïnvloed ook die manier waarop mense sy organisasie beskou. Kyk na ’n paar voorbeelde.

11 Indonesië. Toe ’n man wat die bou van ’n Koninkryksaal dopgehou het, uitvind dat al die werkers vrywilligers is, het hy gesê: “Julle is absoluut verbasend! Ek het gesien hoe elkeen van julle heelhartig en met vreugde werk, al word julle nie betaal nie. Ek dink dat daar geen ander godsdiensorganisasie soos julle s’n is nie!”

12 Die Oekraïne. ’n Vrou wat elke dag by ’n Koninkryksaalbouprojek verbygeloop het, het tot die slotsom gekom dat die werkers Jehovah se Getuies is en dat die gebou ’n Koninkryksaal sou wees. Sy het gesê: “My suster wat ’n Getuie geword het, het my van Jehovah se Getuies vertel. Toe ek hierdie bouwerk sien, het ek besluit dat ek ook deel van hierdie geestelike gesin wil wees. Hier het ek liefde in aksie gesien.” Hierdie vrou het ’n Bybelstudie aanvaar en is in 2010 gedoop.

13, 14. (a) Wat het jy geleer uit die reaksie van ’n egpaar nadat hulle die bedrywighede by ’n Koninkryksaalbouterrein dopgehou het? (b) Wat kan jy doen om te verseker dat julle plek van aanbidding Jehovah se naam tot eer strek?

13 Argentinië. ’n Egpaar het die opsiener van ’n Koninkryksaalbouterrein genader. Die man het gesê: “Ons het julle bouwerk fyn dopgehou, en . . . ons het besluit dat ons in hierdie plek omtrent God wil leer.” Hy het toe gevra: “Wat moet ons doen om te kwalifiseer om vergaderinge hier by te woon?” Die egpaar het die aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar, op voorwaarde dat die hele gesin daaraan kan deelneem. Die broers het hierdie voorwaarde met graagte aanvaar.

14 Jy het dalk nie die voorreg gehad om te help met die bou van die Koninkryksaal waar julle vergader nie, maar jy kan nog steeds grootliks daartoe bydra dat julle plaaslike plek van aanbidding Jehovah se naam tot eer strek. Byvoorbeeld, jy kan jou Bybelstudente, herbesoeke en ander lede van die publiek geesdriftig nooi om saam met jou vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon. Jy het ook die geleentheid om te help om julle plek van aanbidding skoon te maak en in stand te hou. Met goeie beplanning kan jy dalk ’n bydrae gee vir die instandhouding van julle Koninkryksaal of vir die bou van hierdie plekke van aanbidding in ander dele van die wêreld. (Lees 1 Korintiërs 16:2.) Al hierdie bedrywighede dra daartoe by dat Jehovah se naam geloof word.

Werkers wat “hulle gewillig aanbied”

15-17. (a) Wie doen baie van die bouwerk? (b) Wat het jy geleer uit die kommentare van die egpare wat aan internasionale bouprojekte gewerk het?

15 Baie van die werk om Koninkryksale, Byeenkomssale en takfasiliteite te bou, word deur plaaslike broers en susters gedoen. Maar hulle word dikwels gehelp deur broers en susters uit ander lande met ondervinding in bouwerk. Party van hierdie vrywilligers het hulle sake so gereël dat hulle etlike weke aan ’n internasionale projek kan werk. Ander het hulle beskikbaar gestel om jare lank te dien en gaan van een boutoewysing na die ander.

Timo en Lina Lappalainen (Sien paragraaf 16)

16 Internasionale bouwerk bied unieke uitdagings, maar bring ook bevredigende belonings mee. Timo en Lina het byvoorbeeld na lande in Asië, Europa en Suid-Amerika gereis om met die bou van Koninkryksale, Byeenkomssale en takkantore te help. Timo sê: “Ek het die afgelope 30 jaar omtrent elke twee jaar ’n ander toewysing ontvang.” Lina, wat 25 jaar gelede met Timo getrou het, sê: “Ek het saam met Timo in tien verskillende lande gedien. Dit verg baie energie en tyd om aan nuwe kos, ’n nuwe klimaat, ’n nuwe taal en ’n nuwe predikingsgebied gewoond te raak en om nuwe vriende te maak.” * Was dit die moeite werd? “Die uitdagings”, sê Lina, “het tot ons grootste seëninge gelei. Ons het Christelike liefde en gasvryheid ontvang en Jehovah se liefdevolle sorg vir ons ondervind. Ons het ook die vervulling gesien van Jesus se belofte aan sy dissipels wat in Markus 10:29, 30 opgeteken is. Ons het geestelike broers, susters en moeders honderdvoudig ontvang.” Timo sê: “Dit verskaf ons groot bevrediging om ons vaardighede te gebruik vir die allerbeste doel, naamlik om te help met die uitbreiding van die Koning se besittings.”

17 Darren en Sarah, wat met bouprojekte in Afrika, Asië, Europa, Sentraal-Amerika, Suid-Amerika en die Stille Suidsee gehelp het, voel dat hulle meer ontvang het as wat hulle gegee het. Ten spyte van die uitdagings wat hulle die hoof moes bied, sê Darren: “Dit was ’n voorreg om saam met broers uit verskillende dele van die aarde te werk. Ek het gesien dat die liefde wat ons almal vir Jehovah het, soos ’n band is wat om die hele aarde loop en ons almal verenig.” Sarah sê: “Ek het soveel by broers en susters uit verskillende kulture geleer! Die opofferings wat hulle maak om Jehovah te dien, beweeg my om voort te gaan om my beste te gee.”

18. Hoe word die profesie in Psalm 110:1-3 vervul?

18 Koning Dawid het voorspel dat onderdane van God se Koninkryk hulle ondanks die uitdagings waarvoor hulle te staan sou kom, ‘gewillig sou aanbied’ om Koninkryksbelange te bevorder. (Lees Psalm 110:1-3.) Almal wat betrokke is by werk ter ondersteuning van die Koninkryk, het ’n aandeel aan die vervulling van hierdie profetiese woorde (1 Kor. 3:9). Die groot aantal takkantore, honderde Byeenkomssale en tienduisende Koninkryksale regoor die wêreld voorsien tasbare bewys dat God se Koninkryk ’n werklikheid is en nou regeer. Wat ’n voorreg het ons tog om die Koning Jesus Christus te dien in ’n werk wat Jehovah tot eer strek—iets wat Hy ryklik verdien!

^ par. 6 In 2013 is meer as 230 000 vrywilligers goedgekeur om saam met die 132 SBK’s in die Verenigde State te werk. In daardie land het hierdie komitees elke jaar die bou van omtrent 75 nuwe Koninkryksale gekoördineer en met die opknapping of herstel van ongeveer 900 sale gehelp.

^ par. 9 Hierdie syfer sluit nie die talle Koninkryksale in wat gebou is in lande wat nie onder hierdie program val nie.

^ par. 16 Internasionale knegte en vrywilligers bring die meeste van hulle tyd op die bouterrein deur, maar hulle ondersteun ook oor die naweek of in die aand die plaaslike gemeentes in die predikingswerk.