Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 21

God se Koninkryk verwyder sy vyande

God se Koninkryk verwyder sy vyande

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Die gebeure wat die oorlog van Armageddon voorafgaan

1, 2. (a) Wat lewer bewys dat ons Koning sedert 1914 regeer? (b) Wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

DIT was geloofversterkend om te kyk na wat God se Koninkryk te midde van sy vyande verrig het (Ps. 110:2). Ons Koning het ’n leër gewillige predikers op die been gebring. Hy het sy volgelinge geestelik en sedelik gereinig en gelouter. En ten spyte van al die pogings van die Koninkryk se vyande om ons te verdeel, geniet ons vandag wêreldwye eenheid. Dít en al die ander dinge wat die Koninkryk tot stand gebring het wat ons bespreek het, lewer oorweldigende bewys dat ons Koning sedert 1914 te midde van vyande van die Koninkryk regeer.

2 Die Koninkryk sal selfs verbasender dinge in die nabye toekoms doen. Dit sal “kom” om sy vyande ‘te verbrysel en ’n einde aan hulle te maak’ (Matt. 6:10; Dan. 2:44). Maar voordat daardie tyd aanbreek, sal ander betekenisvolle gebeure plaasvind. Watter gebeure? Etlike Bybelprofesieë beantwoord hierdie vraag. Kom ons ondersoek party van hierdie profesieë om te sien watter gebeure nog vir ons voorlê.

’n Gebeurtenis wat “skielike vernietiging” voorafgaan

3. Wat is die eerste verwikkeling waarop ons wag?

3 Die verklaring van vrede. In sy brief aan die Tessalonisense het die apostel Paulus die eerste verwikkeling beskryf waarop ons wag. (Lees 1 Tessalonisense 5:2, 3.) Paulus het in hierdie brief melding gemaak van “Jehovah se dag”, wat met die aanval op “Babilon die Grote” sal begin (Op. 17:5). Maar net voordat Jehovah se dag begin, sal nasies sê: “Vrede en veiligheid!” Hierdie uitdrukking kan na een verklaring of ’n reeks opmerkenswaardige verklarings verwys. Sal godsdiensleiers daarby betrokke wees? Aangesien hulle deel van die wêreld is, sal hulle moontlik saam met die nasies sê: “Daar is vrede!” (Jer. 6:14; 23:16, 17; Op. 17:1, 2). Hierdie verklaring van vrede en veiligheid sal ’n teken wees dat Jehovah se dag op hande is. Vyande van God se Koninkryk “sal hoegenaamd nie ontkom nie”.

4. Hoe help ’n begrip van die betekenis van Paulus se profesie oor die verklaring van vrede en veiligheid ons?

4 Hoe help ’n begrip van die betekenis van hierdie profesie ons? Paulus sê: “Julle is nie in die duisternis sodat daardie dag julle sal oorval soos vir diewe nie” (1 Tess. 5:3, 4). In teenstelling met mense oor die algemeen sien ons waarop huidige gebeure afstuur. Presies hoe sal hierdie profesie oor vrede en veiligheid vervul word? Ons moet wag en sien wat op die wêreldtoneel sal gebeur. Laat ons dus “wakker en nugter van verstand bly”.—1 Tess. 5:6; Sef. 3:8.

Die groot verdrukking begin

5. Wat sal die eerste fase van die “groot verdrukking” uitmaak?

5 Die aanval op godsdiens. Onthou dat Paulus geskryf het: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom.” Net soos ’n weerligstraal byna onmiddellik deur ’n donderslag gevolg word, sal die verklaring “Vrede en veiligheid!” oombliklik deur “skielike vernietiging” gevolg word. Wat sal vernietig word? Eerstens, “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, wat ook bekend staan as “die hoer” (Op. 17:5, 6, 15). Hierdie vernietiging van die Christendom en alle ander valse godsdiensorganisasies maak die eerste fase van die “groot verdrukking” uit (Matt. 24:21; 2 Tess. 2:8). Hierdie gebeurtenis sal baie mense onkant vang. Waarom? Omdat die hoer haarself tot op daardie stadium sal beskou as ’n “koningin” wat “nooit verdriet [sal] sien nie”. Maar sy sal skielik uitvind dat haar vertroue misplaas is. Sy sal gou verwyder word, asof “in een dag”.—Op. 18:7, 8

6. Wie of wat sal “Babilon die Grote” aanval?

6 Wie of wat sal “Babilon die Grote” aanval? ’n “Wilde dier” met “tien horings”. Die boek Openbaring dui aan dat hierdie wilde dier na die Verenigde Nasies (VN) verwys. Die tien horings stel alle hedendaagse politieke magte voor wat hierdie “skarlakenkleurige wilde dier” ondersteun (Op. 17:3, 5, 11, 12). Hoe verwoestend sal die aanval wees? Die nasies van die VN sal die hoer se rykdom plunder, haar verslind en “haar heeltemal met vuur verbrand”.—Lees Openbaring 17:16. *

7. Hoe is Jesus se woorde in Matteus 24:21, 22 in die eerste eeu HJ vervul, en hoe sal dit in die toekoms vervul word?

7 Die dae word verkort. Ons Koning het geopenbaar wat op hierdie stadium gedurende die groot verdrukking sal gebeur. Jesus het gesê: “Weens die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” (Lees Matteus 24:21, 22.) Jesus se woorde is in 66 HJ op klein skaal vervul toe Jehovah die aanval van die Romeinse leër op Jerusalem “verkort” het (Mark. 13:20). Dit het dit vir Christene in Jerusalem en Judea moontlik gemaak om gered te word. Wat sal dan op wêreldskaal gedurende die komende groot verdrukking gebeur? Jehovah sal, deur middel van ons Koning, die Verenigde Nasies se aanval op godsdiens “verkort” sodat die ware godsdiens nie saam met valse godsdiens vernietig sal word nie. Terwyl alle valse godsdiensorganisasies uitgewis sal word, sal die enigste ware godsdiens dus behoue bly (Ps. 96:5). Kom ons kyk nou watter gebeure ná hierdie deel van die groot verdrukking sal plaasvind.

Gebeure wat Armageddon voorafgaan

8, 9. Na watter verskynsels het Jesus moontlik verwys, en hoe sal mense reageer op wat hulle sien?

8 Jesus se profesie oor die laaste dae dui daarop dat etlike betekenisvolle verwikkelinge sal plaasvind gedurende die tyd wat Armageddon voorafgaan. Die eerste twee gebeure wat ons sal bespreek, word albei in die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas gemeld.—Lees Matteus 24:29-31; Mark. 13:23-27; Luk. 21:25-28.

9 Hemelse verskynsels. Jesus het voorspel: “Die son [sal] verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal uit die hemel val.” Mense sal hulle beslis nie tot die godsdiensleiers wend vir lig nie—hulle sal nie meer as ligdraers beskou word nie. Het Jesus ook na bonatuurlike verskynsels in die hemel verwys? Miskien (Jes. 13:9-11; Joël 2:1, 30, 31). Hoe sal mense reageer op wat hulle sien? Hulle sal “angs” ondervind omdat hulle “radeloos is” (Luk. 21:25; Sef. 1:17). Ja, vyande van God se Koninkryk—van ‘konings tot slawe’—sal “flou word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat . . . kom” en sal naarstig skuiling soek. Maar hulle sal geen skuilplek vind waar hulle aan die toorn van ons Koning kan ontkom nie.—Luk. 21:26; 23:30; Op. 6:15-17.

10. Watter oordeel sal Jesus uitspreek, en hoe sal ondersteuners en teenstanders van God se Koninkryk daarop reageer?

10 Oordeel word uitgespreek. Alle vyande van God se Koninkryk sal dan ’n gebeurtenis moet aanskou wat hulle angs sal vergroot. Jesus het gesê: “Hulle [sal] die Seun van die mens met groot krag en heerlikheid in wolke sien kom” (Mark. 13:26). Hierdie bonatuurlike vertoon van krag sal ’n teken wees dat Jesus gekom het om oordeel uit te spreek. In ’n ander deel van dieselfde profesie oor die laaste dae gee Jesus meer besonderhede oor die oordeel wat dan uitgespreek sal word. Ons vind hierdie inligting in die gelykenis van die skape en die bokke. (Lees Matteus 25:31-33, 46.) Lojale ondersteuners van God se Koninkryk sal as “skape” geoordeel word en sal ‘hulle kop oplig’ omdat hulle besef dat hulle ‘verlossing nader kom’ (Luk. 21:28). Maar teenstanders van die Koninkryk sal as “bokke” geoordeel word en sal “hulleself in weeklag slaan” omdat hulle besef dat “ewige vernietiging” op hulle wag.—Matt. 24:30; Op. 1:7.

11. Wat moet ons in gedagte hou terwyl ons komende gebeure bespreek?

11 Nadat Jesus sy oordeel oor “al die nasies” uitgespreek het, moet daar nog etlike betekenisvolle gebeure plaasvind voordat die oorlog van Armageddon uitbreek (Matt. 25:32). Ons sal twee van hierdie gebeure bespreek: die aanval van Gog en die versameling van gesalfdes. Terwyl ons hierdie twee gebeure ondersoek, moet ons in gedagte hou dat God se Woord nie openbaar presies wanneer hierdie gebeure sal plaasvind nie. Trouens, dit is waarskynlik dat hulle mekaar in sekere mate sal oorvleuel.

12. Watter volskaalse aanval sal Satan teen die Koninkryk loods?

12 ’n Volskaalse aanval. Gog van Magog sal die oorblywende gesalfdes en hulle metgeselle, die ander skape, aanval. (Lees Esegiël 38:2, 11.) Hierdie aanval teen gevestigde Koninkryksheerskappy sal Satan se laaste geveg wees in ’n oorlog wat hy sedert sy uitwerping uit die hemel teen die gesalfde oorblyfsel voer (Op. 12:7-9, 17). Veral vandat daar begin is om die gesalfdes in die herstelde Christengemeente bymekaar te bring, het Satan hulle geestelike voorspoed probeer vernietig—maar tevergeefs (Matt. 13:30). Maar wanneer alle valse godsdiensorganisasies uit die weg geruim is en God se volk skynbaar ‘sonder muur, grendels en deure woon’, sal Satan dit as ’n gulde geleentheid beskou. Hy sal sy goddelose trawante aanhits om ’n volskaalse aanval teen die ondersteuners van die Koninkryk te loods.

13. Hoe sal Jehovah ten behoewe van sy volk ingryp?

13 Esegiël beskryf wat sal gebeur. Die profesie sê aangaande Gog: “Jy sal beslis uit jou plek kom, uit die mees afgeleë dele van die noorde, jy en baie volke saam met jou wat almal op perde ry, ’n groot vergadering, ja, ’n talryke krygsmag. En jy sal sekerlik teen my volk . . . optrek, soos wolke om die land te bedek” (Eseg. 38:15, 16). Hoe sal Jehovah op hierdie skynbaar onkeerbare inval reageer? “My woede [sal] in my neus opkom”, sê Jehovah. “Ek sal . . . ’n swaard . . . oproep.” (Eseg. 38:18, 21; lees Sagaria 2:8.) Jehovah sal ten behoewe van sy knegte op die aarde ingryp. Hierdie ingryping is die oorlog van Armageddon.

14, 15. Watter ander gebeurtenis sal die een of ander tyd ná die begin van Satan se volskaalse aanval plaasvind?

14 Voordat ons bespreek hoe Jehovah sy volk gedurende die oorlog van Armageddon sal verdedig, sal ons ’n oomblik neem om nog ’n betekenisvolle gebeurtenis te ondersoek. Dit sal die een of ander tyd tussen die begin van Satan se volskaalse aanval en die begin van Jehovah se ingryping by Armageddon plaasvind. Soos ons in paragraaf 11 gesien het, is hierdie tweede gebeurtenis die versameling van die laastes van die gesalfde oorblyfsel.

15 Die versameling van gesalfdes. Matteus sowel as Markus het Jesus se woorde oor die “uitverkorenes”—geesgesalfde Christene—opgeteken as deel van ’n reeks gebeure wat voor die begin van Armageddon sal plaasvind. (Sien paragraaf 7.) Jesus het aangaande homself as Koning voorspel: “Dan sal hy die engele uitstuur en sy uitverkorenes bymekaarmaak uit die vier windstreke, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel” (Mark. 13:27; Matt. 24:31). Na watter versameling verwys Jesus hier? Hy praat nie van die finale verseëling van die oorblyfsel van gesalfde Christene, wat net voor die begin van die groot verdrukking sal plaasvind nie (Op. 7:1-3). Jesus verwys eerder na ’n gebeurtenis wat gedurende die komende groot verdrukking sal plaasvind. Blykbaar sal gesalfdes wat nog op die aarde is, op die een of ander stadium ná die begin van Satan se volskaalse aanval op God se volk in die hemel bymekaargemaak word.

16. Watter aandeel sal die verrese gesalfdes aan die oorlog van Armageddon hê?

16 Hoe hou hierdie versameling van die gesalfde oorblyfsel verband met die volgende gebeurtenis, Armageddon? Die tyd van die versameling dui aan dat al die gesalfdes in die hemel sal wees voordat God se oorlog van Armageddon begin. In die hemel sal die 144 000 medeheersers van Christus gesag ontvang om saam met Jesus “’n ysterstaf” van vernietiging teen al die vyande van God se Koninkryk te gebruik (Op. 2:26, 27). Dan sal die verrese gesalfdes, tesame met magtige engele, Christus, die Stryder-Koning, volg wanneer hy optrek teen die “talryke krygsmag” van vyande wat op die punt staan om hulle prooi—Jehovah se volk—aan te val (Eseg. 38:15). Wanneer hierdie hewige konfrontasie plaasvind, het die oorlog van Armageddon begin!—Op. 16:16.

Die voleinding van die groot verdrukking

Die oorlog van Armageddon begin!

17. Wat sal gedurende Armageddon met “die bokke” gebeur?

17 Die voltrekking van oordeel. Die oorlog van Armageddon sal die voleinding van die groot verdrukking beteken. Dan sal Jesus ’n bykomende taak aanvaar. Hy sal nie net die Regter van “al die nasies” wees nie, maar hy sal ook die Teregsteller van nasies word—dit wil sê van al die mense wat hy vroeër as “bokke” geoordeel het (Matt. 25:32, 33). Ons Koning sal ‘die nasies met ’n skerp lang swaard slaan’. Ja, alle bokagtiges—van “konings” tot “slawe”—“sal weggaan, die ewige vernietiging in”.—Op. 19:15, 18; Matt. 25:46.

18. (a) Hoe sal die omstandighede van “die skape” verander? (b) Hoe sal Jesus sy oorwinning voltooi?

18 Hoe sal die omstandighede van diegene wat Jesus as “skape” geoordeel het, tog verander! In plaas daarvan om byna vertrap te word deur Satan se ontsaglike leër van “bokke”, sal “’n groot menigte” skynbaar weerlose “skape” die vyand se aanval oorleef en “uit die groot verdrukking kom” (Op. 7:9, 14). Dan sal Jesus, nadat hy alle menslike vyande van God se Koninkryk oorwin en verwyder het, Satan en sy demone in die afgrond slinger. Daar sal hulle duisend jaar lank gehou word in ’n onbedrywige toestand soortgelyk aan die dood.—Lees Openbaring 6:2; 20:1-3.

Hoe om ons voor te berei

19, 20. Hoe kan ons die les toepas wat vervat is in die woorde in Jesaja 26:20 en 30:21?

19 Hoe kan ons ons voorberei vir die aardskuddende gebeure wat voorlê? Die Wagtoring het ’n paar jaar gelede gesê: “Oorlewing sal van gehoorsaamheid afhang.” Waarom is dit die geval? Die antwoord word gevind in ’n waarskuwing wat Jehovah aan die gevange Jode in eertydse Babilon gegee het. Jehovah het voorspel dat Babilon oorwin sou word. Maar wat moes God se volk doen om hulle vir hierdie gebeurtenis voor te berei? Jehovah het gesê: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers in en sluit jou deure agter jou toe. Verberg jou vir net ’n oomblik, totdat die veroordeling verbygaan” (Jes. 26:20). Let op die werkwoorde in hierdie vers: “kom”, “gaan in”, “sluit”, “verberg”—almal is bevele. Die Jode wat op hierdie bevele ag geslaan het, sou in hulle huise gebly het, weg van die verowerende soldate in die strate. Hulle oorlewing het dus van gehoorsaamheid aan Jehovah se instruksies afgehang. *

20 Watter les leer ons hieruit? Soos in die geval van daardie eertydse knegte van God, sal ons oorlewing van die komende gebeure afhang van ons gehoorsaamheid aan Jehovah se instruksies (Jes. 30:21). Ons ontvang hierdie instruksies deur middel van die gemeentereëling. Daarom wil ons leer om die leiding wat ons ontvang, met ons hele hart te gehoorsaam (1 Joh. 5:3). As ons dit nou doen, sal ons meer geneig wees om in die toekoms gewillig gehoorsaam te wees en sal ons gevolglik die beskerming van ons Vader, Jehovah, en ons Koning, Jesus, ontvang (Sef. 2:3). Hierdie goddelike beskerming sal ons in staat stel om self te sien hoe God se Koninkryk sy vyande heeltemal verwyder. Wat ’n onvergeetlike gebeurtenis sal dit tog wees!

^ par. 6 Dit lyk redelik dat die vernietiging van “Babilon die Grote” hoofsaaklik verwys na die vernietiging van die godsdiensinstellings, nie na ’n volskaalse slagting van alle godsdienstige mense nie. Gevolglik sal die meeste van Babilon se voormalige aanhangers hierdie vernietiging oorleef en sal hulle hulle dan waarskynlik, ten minste openlik, van godsdiens probeer afsonder, soos aangedui word in Sagaria 13:4-6.

^ par. 19 Vir meer inligting, sien Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I, bladsye 282-283.