Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 22

Die Koninkryk voer God se wil op die aarde uit

Die Koninkryk voer God se wil op die aarde uit

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Die Koninkryk vervul al God se beloftes aangaande die mensdom en die aarde

1, 2. (a) Waarom kan dit soms moeilik wees om die Paradys as ’n werklikheid te beskou? (b) Wat kan ons help om ons geloof in God se beloftes te versterk?

’N GETROUE broer kom by die vergadering aan, moeg ná ’n stresvolle dag. Hy is sleg behandel deur ’n veeleisende baas, is bekommerd oor hoe om vir sy gesin te sorg en kwel hom oor ’n siekte wat sy vrou teister. Wanneer die musiek vir die openingslied begin, gee hy ’n sug van verligting—hy is bly om saam met sy broers en susters by die Koninkryksaal te wees. Die lied handel oor die hoop op die lewe in die Paradys, en die woorde spoor hom aan om hom hierdie hoop voor te stel, om homself daar te sien. Hy het nog altyd van hierdie lied gehou, en terwyl hy dit saam met sy gesin sing, vertroos hierdie hoop sy bekommerde hart.

2 Het jy al ooit so gevoel? Die meeste van ons het. Maar die lewe in hierdie ou stelsel kan dit vir ons baie moeilik maak om die komende Paradys as ’n werklikheid te beskou. Ons lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, en die wêreld is allesbehalwe ’n paradys (2 Tim. 3:1). Wat kan ons help om ons hoop as ’n werklikheid te beskou? Wel, hoe weet ons werklik dat God se Koninkryk binnekort oor die hele mensdom sal regeer? Kom ons bespreek ’n paar van Jehovah se profesieë waarvan sy eertydse volk die vervulling gesien het. Dan sal ons kyk hoe hierdie en soortgelyke profesieë vandag op opwindende wyse vervul word. Laastens, nadat dít ons geloof versterk het, sal ons ons aandag vestig op wat hierdie profesieë vir ons toekoms beteken.

Hoe Jehovah sy beloftes in die verre verlede vervul het

3. Watter belofte het die Joodse ballinge in Babilon vertroos?

3 Stel jou die lewe voor van die Jode wat in die sesde eeu VHJ in ballingskap in Babilon was. Baie het, soos hulle ouers, in ballingskap grootgeword, en die lewe was moeilik. Die Babiloniërs het hulle bespot weens hulle geloof in Jehovah (Ps. 137:1-3). Deur die dekades heen het lojale Jode vasgehou aan hierdie helder hoop: Jehovah het belowe om sy volk na hulle tuisland terug te bring. Jehovah het gesê dat toestande daar wonderlik sou wees. Hy het die herstelde land van Juda selfs vergelyk met die tuin van Eden—’n paradys! (Lees Jesaja 51:3.) Hierdie beloftes was ongetwyfeld bedoel om God se volk gerus te stel en enige twyfelgedagtes wat hulle gekwel het, uit die weg te ruim. Hoe so? Kyk na ’n paar spesifieke profesieë.

4. Hoe het Jehovah die Jode verseker dat hulle veilig sou wees in hulle tuisland?

4 Veiligheid. Hierdie ballinge sou terugkeer, nie na ’n letterlike paradys nie, maar na ’n verafgeleë land wat 70 jaar lank woes gelê het, ’n land wat min van hulle al gesien het. Leeus was destyds algemeen in Bybellande, asook wolwe, luiperds en ander roofdiere. ’n Gesinshoof het dalk gewonder: ‘Hoe sal ek my vrou en kinders veilig hou? Wat van die skape en die beeste—hoe sal ek hulle beskerm?’ Sulke bekommernisse sou net natuurlik gewees het. Dink nou aan God se belofte in Jesaja 11:6-9 en aan hoe vertroostend dit moes gewees het. (Lees.) Met hierdie pragtige poëtiese woorde het Jehovah die ballinge verseker dat hulle en hulle vee veilig sou wees. Die leeu sou strooi eet in die sin dat dit nie die Jode se beeste sou verslind nie. Die getroues sou geen rede hê om bang te wees vir sulke roofdiere nie. Jehovah het belowe dat sy volk veilig sou wees in die herstelde land van Juda, selfs in die wildernis en in die woude.—Eseg. 34:25.

5. Watter profesieë het die terugkerende ballinge gehelp om te vertrou dat Jehovah oorvloedig in hulle behoeftes sou voorsien?

5 Oorvloed. Daar was dalk ander bekommernisse. ‘Sal ek my gesin in die herstelde tuisland van kos kan voorsien? Waar sal ons woon? Sal daar enige werk wees, en sal dit beter wees as die sieldodende geswoeg van die lewe in ballingskap onder die oorheersing van ons veroweraars?’ Deur middel van geïnspireerde profesieë het Jehovah hierdie vrae ook liefdevol beantwoord. Jehovah het belowe dat sy gehoorsame volk sou vind dat die reën betroubaar is; gevolglik sou die grond ’n oorvloed brood, “vet en olierig”, oplewer (Jes. 30:23). Wat verblyf en sinvolle werk betref, het Jehovah aangaande sy volk belowe: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie” (Jes. 65:21, 22). Ja, die lewe sou in baie opsigte wonderlik wees in vergelyking met hulle ballingskap in heidense Babilon. Maar wat van hulle ernstigste probleme—dié wat in die eerste plek tot hulle ballingskap gelei het?

6. Aan watter soort gesondheidsprobleme het God se volk lank gely, en waarvan het Jehovah die terugkerende ballinge verseker?

6 Geestelike gesondheid. God se volk het lank voor hulle ballingskap geestelik siek geword. Deur die profeet Jesaja het Jehovah van sy volk gesê: “Die hele kop is siek, en die hele hart is aangetas” (Jes. 1:5, NW). Hulle was geestelik blind en doof, want hulle het hulle ore bly toestop vir Jehovah se raad en hulle oë bly sluit vir die verligting wat hy gebied het (Jes. 6:10; Jer. 5:21; Eseg. 12:2). As dieselfde probleme die terugkerende ballinge sou teister, watter veiligheid kon hulle dan hê? Sou hulle nie net weer Jehovah se guns verloor nie? Hoe gerusstellend was Jehovah se belofte tog: “In dié dag sal die dowes beslis die woorde van die boek hoor, en uit die donker en uit die duisternis sal selfs die oë van die blindes sien” (Jes. 29:18). Ja, Jehovah sou sy gelouterde, berouvolle volk geestelik genees. Solank hulle ontvanklik en gehoorsaam bly, sou hy lewegewende leiding en verligting voorsien.

7. Hoe is die beloftes wat God aan sy volk in ballingskap gegee het, vervul, en waarom behoort daardie vervulling ons geloof te versterk?

7 Het Jehovah sy beloftes nagekom? Die antwoord word deur die geskiedenis voorsien. Die Jode wat na hulle tuisland teruggekeer het, is geseën met veiligheid, oorvloed en geestelike gesondheid. Byvoorbeeld, Jehovah het hulle beskerm teen naburige nasies wat sterker en talryker as hulle was. Roofdiere het nie die Jode se vee verslind nie. Hierdie Jode het wel net ’n beperkte vervulling gesien van die profesieë oor ’n paradys wat manne soos Jesaja, Jeremia en Esegiël opgeteken het—maar die vervulling wat God se volk gesien het, was opwindend en presies wat hulle op daardie stadium nodig gehad het. As ons peins oor wat Jehovah destyds vir sy volk gedoen het, sal dit ons geloof versterk. As die eerste, beperkte vervulling van hierdie profesieë opwindend was, hoe sal die groter vervulling dan wees? Dink aan wat Jehovah in ons tyd vir ons gedoen het.

Hoe Jehovah sy beloftes in ons tyd begin vervul het

8. Watter soort “land” het God sy hedendaagse volk gegee?

8 Jehovah se volk maak nie vandag ’n letterlike nasie uit nie, en hulle woon ook nie in een fisiese land nie. Gesalfde Christene maak eerder ’n geestelike nasie uit, “die Israel van God” (Gal. 6:16). Hulle metgeselle, die “ander skape”, sluit by hulle aan in ’n geestelike “land”, ’n bedrywigheidsfeer waarin hulle Jehovah God in eenheid aanbid. Hierdie aanbidding is hulle lewenswyse (Joh. 10:16; Jes. 66:8). En watter soort “land” het Jehovah ons gegee? Dit is ’n geestelike paradys. Hier word God se beloftes oor toestande soos dié in Eden op ’n wonderlike geestelike wyse vervul. Kyk na ’n paar voorbeelde.

9, 10. (a) Hoe word die profesie in Jesaja 11:6-9 vandag vervul? (b) Watter bewys van vrede vind ons onder God se volk?

9 Veiligheid. In die profesie wat in Jesaja 11:6-9 opgeteken is, vind ons ’n pragtige beskrywing van harmonie en vrede—tussen wilde diere aan die een kant en mense met hulle mak diere aan die ander kant. Het hierdie beskrywing vandag ’n geestelike vervulling? Ja! In vers 9 sien ons waarom hierdie diere geen kwaad sal doen of verderf sal aanrig nie: “Want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.” Verander “kennis van Jehovah” die gedrag van diere? Nee, dit is mense wat verander word wanneer hulle die Allerhoogste God leer ken en leer om sy vreedsame weë na te volg. Daarom kan ons vandag in ons geestelike paradys ’n hartverblydende vervulling van hierdie profesie sien. Onder Koninkryksheerskappy leer Christus se volgelinge om hulle wreedaardige, dierlike eienskappe af te lê en in vrede en harmonie met hulle geestelike broers en susters te lewe.

10 In hierdie publikasie het ons byvoorbeeld die kwessie van Christelike neutraliteit bespreek—die skriftuurlike grondslag vir ons begrip sowel as die vervolging wat God se volk weens hulle neutrale standpunt verduur het. Is dit nie merkwaardig nie dat daar in hierdie gewelddadige wêreld ’n groot “nasie” mense is wat weier om aan enige geweld deel te neem selfs al word hulle met die dood gedreig? Wat ’n merkwaardige bewys is dit tog dat die onderdane van die Messiaanse Koning inderdaad die soort vrede geniet wat deur Jesaja beskryf word! Jesus het gesê dat sy volgelinge uitgeken sou word aan die liefde wat hulle onder mekaar het (Joh. 13:34, 35). In die gemeente gebruik Christus sy “getroue en verstandige slaaf” geduldig om alle ware Christene te leer om vreedsaam, liefdevol en saggeaard te wees.—Matt. 24:45-47.

11, 12. Watter soort hongersnood heers vandag in die wêreld, maar hoe het Jehovah ’n oorvloed aan sy volk voorsien?

11 Oorvloed. In die wêreld heers daar ’n geestelike hongersnood. Die Bybel het gewaarsku: “‘Kyk! Daar kom dae’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah, ‘en ek sal ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van Jehovah te hoor’” (Amos 8:11). Ly die burgers van God se Koninkryk ook honger? Jehovah het die volgende kontras tussen sy volk en sy vyande voorspel: “My knegte sal eet, maar julle sal honger ly. Kyk! My knegte sal drink, maar julle sal dors wees. Kyk! My knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan” (Jes. 65:13). Het jy die vervulling van hierdie woorde gesien?

12 Geestelike voorsienings vloei na ons soos ’n rivier wat al hoe breër en al hoe dieper word. Al ons Bybelpublikasies—sowel as opnames en video’s, ons vergaderinge en byeenkomste en die materiaal wat op ons webwerf gepubliseer word—vorm ’n voortdurende vloed van geestelike voedsel in hierdie wêreld wat geestelik honger ly (Eseg. 47:1-12; Joël 3:18). Is jy nie verheug om die vervulling van Jehovah se beloftes van oorvloed in jou daaglikse lewe te sien nie? Maak jy seker dat jy jou gereeld by Jehovah se tafel voed?

Ons gemeentes help ons om geestelik goed gevoed, veilig en gesond te wees

13. Hoe het jy die vervulling gesien van Jehovah se belofte dat blinde oë geopen en dowe ore ontsluit sal word?

13 Geestelike gesondheid. Geestelike blindheid en doofheid is vandag ’n pandemie (2 Kor. 4:4). Maar Christus genees gebreke en siektes regoor die wêreld. Het jy al gesien hoe blinde oë geopen en dowe ore ontsluit word? As jy gesien het hoe mense tot ’n juiste kennis van die waarheid van God se Woord kom en hulle rug keer op die godsdiensleuens wat hulle vroeër blind en doof gemaak het vir die waarheid, het jy die vervulling van hierdie belofte gesien: “In dié dag sal die dowes beslis die woorde van die boek hoor, en uit die donker en uit die duisternis sal selfs die oë van die blindes sien” (Jes. 29:18). Honderdduisende mense regoor die wêreld word elke jaar op hierdie wyse geestelik genees. Elke persoon wat Babilon die Grote verlaat en by ons aansluit om in ons geestelike paradys te aanbid, is lewende bewys dat Jehovah se beloftes bewaarheid word!

14. Bepeinsing oor watter bewyse sal ons geloof versterk?

14 Elke hoofstuk van hierdie boek bevat kragtige bewyse dat Christus sy volgelinge in hierdie tyd van die einde in ’n ware geestelike paradys ingebring het. Laat ons voortdurend peins oor al die maniere waarop ons vandag in hierdie paradys geseën word. As ons dit doen, sal ons geloof in Jehovah se beloftes vir die toekoms al hoe sterker word.

“Laat u koninkryk kom”

15. Waarom kan ons seker wees dat die aarde ’n paradys sal word?

15 Dit is al lank Jehovah se voorneme om die hele aarde ’n paradys te maak. Hy het Adam en Eva in ’n paradystuin geplaas, en hy het hulle die opdrag gegee om die aarde met hulle nakomelinge te vul en om na al die diere om te sien (Gen. 1:28). Maar Adam en Eva het Satan se opstandige voorbeeld gevolg en onvolmaaktheid, sonde en die dood oor al hulle nakomelinge gebring. Tog het God se voorneme nooit verander nie. Wat hy sê, word altyd ten volle vervul. (Lees Jesaja 55:10, 11.) Ons kan dus seker wees dat die nakomelinge van Adam en Eva hierdie aarde sal vul, dit sal onderwerp en liefdevol na Jehovah se skepping in ’n aardwye paradys sal omsien. Dan sal die profesieë oor ’n lewe in paradystoestande wat oorspronklik aan die Joodse ballinge gegee is, ten volle vervul word! Kyk na die volgende voorbeelde.

16. Hoe beskryf die Bybel die veiligheid wat ons in die Paradys sal geniet?

16 Veiligheid. Uiteindelik sal die hartverblydende beskrywing in Jesaja 11:6-9 selfs in letterlike sin ten volle vervul word. Mans, vroue en kinders sal veilig wees ongeag waar hulle op die aarde gaan. Geen skepsel, hetsy mens of dier, sal enige gevaar inhou nie. Stel jou ’n tyd voor wanneer jy hierdie hele planeet sal beskou as jou tuiste, waar jy in algehele veiligheid in die riviere, mere en seë kan swem, oor die berge kan trek en die graslande kan deurkruis. En wanneer dit nag word, sal jy jou nie hoef te bekommer nie. Die woorde van Esegiël 34:25 sal bewaarheid word, sodat dit vir God se volk selfs moontlik sal wees om ‘in veiligheid in die wildernis te woon en in die woude te slaap’.

17. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah oorvloedig in ons behoeftes sal voorsien wanneer die Koninkryk oor die hele aarde regeer?

17 Oorvloed. Stel jou ’n tyd voor wanneer dinge soos armoede, ondervoeding, hongersnood of welsynsorganisasies iets van die verlede sal wees. Die geestelike oorvloed wat God se volk vandag geniet, is ’n waarborg dat die Messiaanse Koning sy onderdane in elke opsig sal voed. Toe Jesus op die aarde was, het hy op klein skaal getoon dat hy hierdie beloftes kan vervul, want hy het duisende honger mense met net ’n paar brode en visse gevoed (Matt. 14:17, 18; 15:34-36; Mark. 8:19, 20). Wanneer God se Koninkryk oor die hele aarde regeer, sal profesieë soos die volgende in letterlike sin vervul word: “Hy sal beslis die reën gee vir jou saad waarmee jy die grond besaai, en as die opbrengs van die grond, brood, wat vet en olierig sal word. Jou vee sal in dié dag op ’n uitgestrekte weiveld wei.”—Jes. 30:23.

18, 19. (a) Wat beteken die profesie in Jesaja 65:20-22 vir jou? (b) In watter sin sal ons dae “soos die dae van ’n boom” wees?

18 Vandag kan baie mense hulle skaars voorstel dat hulle ’n gerieflike huis of bevredigende, sinvolle werk kan hê. In hierdie verdorwe stelsel voel baie dat hulle lank en hard werk met min voordeel vir hulle en hulle gesin, terwyl die rykes en gieriges al die vrugte pluk. Stel jou voor hoe dit sal wees wanneer hierdie profesie wêreldwyd vervul word: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie. Want die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom; en die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut.”—Jes. 65:20-22.

19 Wat beteken dit dat ons dae “soos die dae van ’n boom” sal wees? Wanneer jy langs ’n yslike boom staan, vervul dit jou nie met ontsag as jy dink aan hoe lank daardie boom al bestaan nie—miskien al van lank voordat jou oupagrootjie gebore is? Jy dink dalk daaraan dat hierdie boom, as jy in jou huidige onvolmaakte toestand bly, waarskynlik langer as jy sal lewe en dat dit sy lang, vreedsame bestaan nog sal voortsit nadat jy ’n blote herinnering geword het. Hoe liefdevol is dit tog van Jehovah om ons te verseker dat ons dae in die komende Paradys lank en vreedsaam sal wees! (Ps. 37:11, 29). Die dag sal kom wanneer selfs bome wat lank lewe, vir ons so verganklik sal wees soos gras, wat kom en gaan terwyl ons vir ewig bly lewe!

20. Hoe sal dit vir lojale Koninkryksonderdane moontlik wees om volmaakte gesondheid te geniet?

20 Volmaakte gesondheid. Vandag werp siekte en die dood hulle donker skaduwee oor elke aspek van hierdie wêreld. In sekere sin is ons almal siek—besmet met ’n dodelike siekte wat sonde genoem word. Die enigste genesing is Christus se losprysoffer (Rom. 3:23; 6:23). Gedurende die Duisendjarige Heerskappy sal Jesus en sy medeheersers die voordele van hierdie offerande ten volle aanwend en alle spore van sonde van getroue mense verwyder. Jesaja se profesie sal in die volste sin vervul word: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie. Die volk wat in die land woon, sal vergifnis van hulle oortreding ontvang het” (Jes. 33:24). Stel jou ’n tyd voor wanneer niemand blind of doof is of enige gebrek het nie. (Lees Jesaja 35:5, 6.) Geen siekte sal vir Jesus te moeilik wees om te genees nie—hetsy fisies, geestelik of emosioneel. Lojale Koninkryksonderdane sal volmaakte gesondheid geniet!

21. Wat sal van die dood word, en waarom is hierdie belofte vir jou vertroostend?

21 Maar wat van die algemene uiteinde van siekte, die onvermydelike gevolg van sonde—die dood? Dit is ons “laaste vyand”, die een vyand waarvoor alle onvolmaakte mense vroeër of later moet swig (1 Kor. 15:26). Maar is die dood vir Jehovah so ’n gedugte teenstander? Let op wat Jesaja voorspel het: “Hy sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee” (Jes. 25:8). Kan jy jou daardie tyd voorstel? Daar sal geen begrafnisse, geen begraafplase, geen trane van droefheid meer wees nie! Inteendeel, daar sal trane van vreugde wees wanneer Jehovah sy opwindende belofte vervul om die dooies op te wek! (Lees Jesaja 26:19.) Uiteindelik sal tallose wonde wat deur die dood veroorsaak is, genees.

22. Wat sal gebeur wanneer die Messiaanse Koninkryk God se wil op die aarde volbring het?

22 Teen die einde van die Millennium sal die Koninkryk God se wil op die aarde volbring het, en Christus sal die heerskappy aan sy Vader oorhandig (1 Kor. 15:25-28). Die mensdom, wat uiteindelik volmaak sal wees, sal gereed wees om ’n finale toets te ondergaan wanneer Satan uit sy afgrond van onbedrywigheid vrygelaat word. Daarna sal Christus hierdie veragtelike slang en al sy ondersteuners finaal verbrysel (Gen. 3:15; Op. 20:3, 7-10). Maar almal wat Jehovah lojaal liefhet, sal ’n wonderlike vooruitsig hê. Geen woorde kan dit waarskynlik beter beskryf as dié van ’n geïnspireerde uitdrukking nie. Dit is die belofte dat getroues “die glorieryke vryheid van die kinders van God” sal hê.—Rom. 8:21.

Die Koninkryk sal al Jehovah se beloftes aangaande die mensdom en die aarde vervul

23, 24. (a) Waarom is die vervulling van God se beloftes seker? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?

23 Hierdie beloftes is nie gegrond op blote verwagtinge, wense of drome nie. Die vervulling van Jehovah se beloftes is seker! Waarom? Dink aan die woorde van Jesus wat ons in die eerste hoofstuk van hierdie boek bespreek het. Hy het sy volgelinge geleer om tot Jehovah te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matt. 6:9, 10). God se Koninkryk is nie die produk van iemand se verbeelding nie. Dit is ’n werklikheid! Dit regeer nou in die hemel. Dit vervul nou al ’n eeu lank Jehovah se beloftes op maniere wat ons duidelik in die Christengemeente kan sien. Ons kan dus seker wees dat al Jehovah se beloftes vervul sal word wanneer God se Koninkryk kom om volle mag ten opsigte van die aarde uit te oefen!

24 Ons weet dat God se Koninkryk sal kom. Ons weet dat elke belofte van Jehovah vervul sal word. Waarom? Omdat GOD SE KONINKRYK REGEER! Die vraag wat elkeen van ons ons moet afvra, is: ‘Regeer die Koninkryk oor my?’ Laat ons alles in ons vermoë doen om nou as lojale onderdane van hierdie Koninkryk te lewe sodat ons vir ewig by die volmaakte, regverdige heerskappy daarvan kan baat vind!