Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Brief van die Bestuursliggaam

’n Brief van die Bestuursliggaam

Liewe mede-Koninkryksverkondiger

STEL jou voor dat jy ’n lid van die Brooklynse Bethelgesin is. Dit is Vrydagoggend 2 Oktober 1914. Jy sit op jou gewone plek vir ontbyt en wag vir broer C.T. Russell om te kom. Skielik gaan die deur van die eetsaal oop, en broer Russell loop in. Soos gewoonlik gaan staan hy vir ’n oomblik en groet hy die Bethelgesin vrolik: “Goeie môre, almal.” Maar in plaas daarvan om onmiddellik op sy plek aan die hoof van die tafel te gaan sit, klap hy sy hande en maak hy ’n opwindende aankondiging: “Die Heidense Tye het geëindig; hulle konings se dae is verby!” Jy kan skaars jou vreugde beteuel—jy wag al so lank vir hierdie oomblik! Tesame met die res van die Bethelgesin verwelkom jy hierdie opwindende nuus met langdurige, geesdriftige applous.

Baie dekades het verloop sedert daardie treffende verklaring van broer Russell. Wat het die Koninkryk sedertdien tot stand gebring? Baie! Deur middel van die Koninkryksreëling het Jehovah sy volk—wat van net ’n paar duisend in 1914 tot byna agtmiljoen vandag toegeneem het—progressief gelouter en opgelei. Op hoeveel maniere het jy persoonlik by hierdie opleiding baat gevind?

Vandag hoor ons ons broers dikwels sê: “Jehovah se hemelse strydwa is aan die beweeg!” en dit is waar. Maar die feit is dat die hemelse strydwa, wat die onsigbare deel van Jehovah se organisasie voorstel, sedert 1914 baie vinnig beweeg, soos ’n noukeurige studie van hierdie publikasie sal toon. Met die doel om die goeie nuus wêreldwyd te verkondig, het Koninkryksverkondigers ’n verskeidenheid vindingryke metodes gebruik, insluitende koerante, inligtingsoptogte, skyfie-en-rolprentvertonings, getuieniskaarte, grammofone, die radio en selfs die Internet.

Danksy Jehovah se seën op die werk is ons nou in staat om aantreklike Bybellektuur in meer as 670 tale te publiseer en dit vir almal sonder koste aan te bied. Selfopofferende vrywilligers help met die bou van Koninkryksale, Byeenkomssale en takfasiliteite, in welvarende lande sowel as in lande met beperkte middele. En wanneer ’n ramp plaasvind, snel liefdevolle broers en susters dié in die rampgebiede te hulp, wat bewys dat hulle werklik ‘gebore is vir die tyd wanneer daar benoudheid is’.—Spr. 17:17.

Soms beraam die geestelikes en ander teenstanders “moeilikheid deur verordening”, maar dit is geloofversterkend om te sien hoe hulle onbesonne pogings keer op keer eerder op “die vooruitgang van die goeie nuus” uitloop.—Ps. 94:20; Fil. 1:12.

Dit is vir ons ’n eer om saam met julle, ons mede-“huisknegte”, te dien. Wees asseblief verseker dat ons julle almal baie liefhet. Ons bid dat die inhoud van hierdie publikasie julle sal help om julle geestelike erfenis meer as ooit tevore te waardeer.—Matt. 24:45.

Ons wens jou alles van die beste toe.

Jou broers

Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies