Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die weg, die waarheid, die lewe

Die weg, die waarheid, die lewe

Jy hou waarskynlik daarvan om goeie nuus te kry. En daar is definitief baie goeie nuus vir jou en jou geliefdes.

Hierdie goeie nuus is in die Bybel, ’n boek wat die Skepper van die heelal, Jehovah God, jare gelede laat skryf het. In hierdie publikasie sal ons op vier Bybelboeke fokus wat baie goeie nuus vir ons almal het. Die name van hierdie boeke is die name van die manne wat God gebruik het om hierdie boeke te skryf – Matteus, Markus, Lukas en Johannes.

Baie mense ken hierdie vier boeke as die vier Evangelies. Al vier hierdie boeke praat oor die goeie nuus van Jesus – dat God deur middel van hom die mensdom gaan red en dat hy as Koning van God se hemelse Koninkryk ewige seëninge sal bring vir almal wat geloof in hom het. – Markus 10:17, 30; 13:13.

HOEKOM VIER BOEKE?

Jy wonder dalk hoekom God vier verslae oor Jesus se lewe en leringe laat skryf het.

Daar is voordele om vier verskillende verslae te hê oor wat Jesus gesê en gedoen het. Om dit te illustreer, stel jou voor dat vier manne naby ’n welbekende onderwyser staan. Die man wat voor die onderwyser staan het ’n belastingkantoor. Die een aan die regterkant is ’n dokter. Die man wat aan die linkerkant staan, is ’n visserman en ’n baie goeie vriend van die onderwyser. En die vierde man wat agter staan en luister, is jonger as die ander manne. Al vier is eerlike manne, en elkeen het iets spesifieks waarin hy belangstel. As elkeen ’n verslag skryf oor wat die onderwyser sê en doen, sal elke verslag waarskynlik verskillende details of gebeure daarin hê. As ons al vier verslae lees, sal ons ’n volledige prentjie kry van wat die onderwyser gesê en gedoen het. Hierdie illustrasie wys watter voordele dit het om vier verskillende verslae oor die lewe van die Groot Leermeester, Jesus, te hê.

Kom ons gaan aan met die illustrasie, die man met die belastingkantoor skryf sy verslag met Jode in gedagte, so die leringe en gebeure in sy verslag skryf hy op so ’n manier wat hulle sal help. Die dokter fokus op hoe die onderwyser die siekes gesond maak, so hy los party van die dinge uit wat die man met die belastingkantoor neergeskryf het of hy skryf dit in ’n ander volgorde. Die goeie vriend fokus op die onderwyser se gevoelens en eienskappe. Die jonger man se verslag is korter en meer tot die punt. Maar elkeen se verslag is akkuraat. Hierdie illustrasie wys hoe dit ons help om al vier verslae oor Jesus se lewe te hê, want dit help ons om sy aktiwiteite, leringe en persoonlikheid beter te verstaan.

Mense praat dalk van ‘die Evangelie van Matteus’ of ‘Johannes se Evangelie’. Dit is nie verkeerd nie, want elkeen het “goeie nuus oor Jesus Christus” (Markus 1:1). Maar eintlik is al vier boeke saam net een evangelie, of goeie nuus, oor Jesus.

Baie mense wat God se Woord studeer, het die gebeure en feite wat in Matteus, Markus, Lukas en Johannes gekry word, met mekaar vergelyk en gekyk hoe dit bymekaar pas. In omtrent 170 HJ het die Siriese skrywer Tatianus probeer om dit te doen. Hy het besef dat hierdie vier boeke akkuraat en geïnspireer is, en hy het die Diatessaron saamgestel, ’n volledige verslag van Jesus se lewe en bediening.

Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe doen iets soortgelyks, maar dit is meer akkuraat en volledig. Dit is moontlik omdat ons nou die vervulling van baie van Jesus se profesieë en illustrasies beter verstaan. Dit help ons om die dinge wat hy gesê en gedoen het, asook die volgorde waarin dit gebeur het, beter te verstaan. Argeologiese ontdekkings het ook gehelp om sekere details beter te verstaan en om dinge uit die skrywer se oogpunt te sien. Maar natuurlik kan niemand dogmaties wees oor die volgorde van hoe dinge gebeur het nie. Maar Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe verduidelik dit op ’n redelike en logiese manier.

DIE WEG, DIE WAARHEID, DIE LEWE

Terwyl jy hierdie boek lees en geniet, probeer om die hoofboodskap vir jou en jou geliefdes in gedagte te hou. Onthou dat Jesus Christus self vir die apostel Tomas gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” – Johannes 14:6.

Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe sal jou help om te sien hoe Jesus definitief “die weg” is. Net deur hom is dit moontlik om met Jehovah in gebed te praat. En net deur middel van hom kan ons ’n goeie verhouding met God hê. – Johannes 16:23; Romeine 5:8.

Jesus is “die waarheid”. Alles wat Jesus gedoen en gesê het, het ooreengestem met die waarheid. Hy het baie profesieë vervul, wat deur middel van hom “‘ja’ geword” het (2 Korintiërs 1:20; Johannes 1:14). Sulke profesieë help ons om sy hoofrol in die uitwerking van God se wil te sien. – Openbaring 19:10.

En Jesus Christus is “die lewe”. Toe hy sy volmaakte lewe en bloed gegee het as ’n losprys, het hy dit vir ons moontlik gemaak om “die werklike lewe”, die “ewige lewe”, te kry (1 Timoteus 6:12, 19; Efesiërs 1:7; 1 Johannes 1:7). Hy sal ook wys dat hy “die lewe” is vir miljoene mense wat gesterf het, maar wat opgewek sal word met die hoop om vir ewig in die Paradys te lewe. – Johannes 5:28, 29.

Ons almal moet Jesus se rol in God se wil verstaan en waardeer. Ons hoop dat jy dit sal geniet om meer te leer oor Jesus – “die weg en die waarheid en die lewe”.