Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 2

Jesus word voor sy geboorte vereer

Jesus word voor sy geboorte vereer

LUKAS 1:34-56

  • MARIA BESOEK HAAR FAMILIELID ELISABET

Die engel Gabriël sê vir die jong vrou Maria dat sy geboorte sal gee aan ’n seun wat Jesus genoem sal word en wat vir ewig as Koning sal regeer. Dan vra Maria hom: “Hoe sal dit kan gebeur? Want ek het nie seksuele omgang met ’n man nie.” – Lukas 1:34.

Gabriël antwoord: “Heilige gees en krag van die Allerhoogste sal oor jou kom. Daarom sal die een wat gebore word, heilig wees en God se Seun genoem word.” – Lukas 1:35.

Gabriël wil Maria moontlik help om sy boodskap te aanvaar, en hy sê verder: “Elisabet jou familielid het ook swanger geword met ’n seun, op haar oudag. Daar is gedink dat sy onvrugbaar is, maar sy is nou al ses maande swanger, want niks sal vir God onmoontlik wees nie.” – Lukas 1:36, 37.

Dit is duidelik dat Maria Gabriël se woorde glo, want sy sê: “Kyk! Jehovah se slavin! Mag alles wat u gesê het, met my gebeur.” – Lukas 1:38.

Ná Gabriël se besoek maak Maria reg om by Elisabet te gaan kuier. Elisabet woon saam met haar man, Sagaria, in die heuwels van Judea naby Jerusalem. Vanaf Maria se huis in Nasaret kan hierdie reis dalk drie of vier dae lank wees.

Uiteindelik kom Maria by Sagaria se huis aan. Sy gaan in die huis in en groet Elisabet. Op daardie oomblik kom heilige gees oor Elisabet, en sy sê vir Maria: “Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die kind aan wie jy geboorte sal gee! Hoekom ontvang ek dan hierdie voorreg, dat die ma van my Here na my toe kom? Want toe ek hoor hoe jy my groet, het die baba in my baarmoeder gespring van vreugde.” – Lukas 1:42-44.

Maria is baie dankbaar en sê uit haar hart: “My siel loof Jehovah, en my gees kan nie anders nie as om oor te loop van vreugde teenoor God, my Redder, omdat hy die nederige posisie van sy slavin gesien het. Van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, want die Magtige het groot dade vir my gedoen.” Dit is duidelik dat Maria alle eer aan God gee, al het sy hierdie groot voorreg ontvang. Sy sê: “Heilig is sy naam. Hy het van geslag tot geslag genade betoon aan dié wat hom vrees.” – Lukas 1:46-50.

Maria loof God verder met die volgende geïnspireerde profetiese woorde: “Met sy arm het hy magtige dade gedoen. Hy het die hoogmoediges uitmekaargedryf. Hy het magtige manne van trone afgestoot en dié met ’n nederige posisie belangrik gemaak. Hy het dié wat honger is, met goeie dinge versadig, en hy het dié wat rykdom gehad het, met leë hande weggestuur. Hy het sy kneg Israel kom help en so bewys dat hy onthou het om genade te betoon aan Abraham en sy nageslag, tot in ewigheid, net soos hy aan ons voorvaders belowe het.” – Lukas 1:51-55.

Maria bly omtrent drie maande lank by Elisabet en help Elisabet heel moontlik gedurende die laaste weke van haar swangerskap. Dit is wonderlik dat hierdie twee getroue vroue, wat albei met God se hulp ’n kind gaan hê, bymekaar kan wees gedurende hierdie tyd in hulle lewe!

En let op dat Jesus selfs voor sy geboorte vereer is. Elisabet het hom “my Here” genoem, en die oomblik toe Elisabet Maria sien, het die kind in haar baarmoeder “gespring van vreugde”. Soos ons sal sien, is dit heeltemal anders as die manier waarop ander mense Maria en haar ongebore kind later behandel.