Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 3

Iemand word gebore om die weg voor te berei

Iemand word gebore om die weg voor te berei

LUKAS 1:57-79

  • JOHANNES DIE DOPER WORD GEBORE EN KRY SY NAAM

  • SAGARIA VOORSPEL JOHANNES SE TOEKOMSTIGE ROL

Dit is amper tyd vir Elisabet om haar baba te kry. Haar familielid Maria het drie maande lank by haar gebly. Nou is dit tyd vir Maria om te groet en die lang pad noord na haar huis in Nasaret aan te pak. Oor omtrent ses maande sal sy ook aan ’n seun geboorte gee.

Kort nadat Maria daar weg is, word Elisabet se baba gebore. Almal is baie bly dat die geboorte goed afgeloop het en dat Elisabet en die baba albei gesond is! Wanneer Elisabet haar babaseuntjie vir haar bure en familie wys, is hulle saam met haar opgewonde.

God se Wet aan Israel het gesê dat ’n babaseuntjie op die agtste dag ná sy geboorte besny moet word en ’n naam gegee moet word (Levitikus 12:2, 3). Party voel dat Sagaria se seun dieselfde naam as hy moet hê. Maar Elisabet sê: “Nee! Hy sal Johannes genoem word” (Lukas 1:60). Onthou dat die engel Gabriël gesê het dat hierdie baba se naam Johannes moet wees.   

Die bure en hulle familie stem nie saam nie en sê: “Nie een van jou familielede het hierdie naam nie” (Lukas 1:61). Deur middel van gebare vra hulle vir Sagaria wat hy wil hê sy seun se naam moet wees. Sagaria vra vir ’n skryfbordjie en skryf: “Johannes is sy naam.” – Lukas 1:63.

Dan gebeur ’n wonderwerk, en Sagaria kan weer praat. Jy onthou dalk dat hy sy vermoë om te praat, verloor het omdat hy nie die engel Gabriël geglo het toe hy gesê het dat Elisabet ’n seun sou hê nie. Maar noudat Sagaria weer kan praat, is sy bure baie verbaas en wonder hulle: “Wat sal hierdie jong kindjie word wanneer hy groot is?” (Lukas 1:66). Hulle sien God se hand in die manier waarop Johannes sy naam gekry het.

Dan kom heilige gees oor Sagaria, en hy sê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, want hy het aandag geskenk aan sy volk en vir hulle verlossing gebring. Hy het aan ons ’n horing van redding gegee uit die huis van sy kneg Dawid” (Lukas 1:68, 69). Die woorde “horing van redding” verwys na die Here Jesus, wat nog gebore moet word. Sagaria sê dat God deur middel van hierdie persoon “ons van vyande [sal] red en ons dan die voorreg [sal] gee om sonder vrees heilige diens aan hom te verrig, sodat ons ons hele lewe lank lojaal en regverdig voor hom kan wees”. – Lukas 1:74, 75.

Sagaria voorspel in verband met sy seun: “Maar jy, jong kindjie, jy sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor Jehovah uit gaan om sy weg voor te berei. Jy sal sy volk vertel dat hulle gered kan word deur vergifnis van hulle sondes, as gevolg van die genade wat ons God so liefdevol betoon. Hierdie genade van bo sal wees soos die lig wat teen dagbreek skyn, om lig te gee aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood sit, en om ons voete te lei op die weg van vrede” (Lukas 1:76-79). Wat ’n aanmoedigende profesie!

Teen hierdie tyd het Maria, wat blykbaar nog nie getroud is nie, by haar huis in Nasaret aangekom. Wat sal met haar gebeur wanneer ’n mens kan sien dat sy swanger is?