Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 4

Maria – Swanger maar ongetroud

Maria – Swanger maar ongetroud

MATTEUS 1:18-25 LUKAS 1:56

  • JOSEF VIND UIT DAT MARIA SWANGER IS

  • MARIA WORD JOSEF SE VROU

Maria is in die vierde maand van haar swangerskap. Onthou dat sy aan die begin van haar swangerskap haar familielid Elisabet besoek het, wat in die heuwels van Judea in die suide van die land woon. Maar nou is Maria weer terug by haar huis in Nasaret. Binnekort sal almal uitvind dat sy swanger is. Stel jou net voor hoe stresvol hierdie situasie vir haar is!

Wat die situasie erger maak, is die feit dat Maria verloof is aan Josef, ’n plaaslike timmerman. En sy weet dat ’n vrou wat aan ’n man verloof is maar gewillige seksuele omgang met ’n ander man het, volgens God se Wet aan Israel met klippe doodgegooi moet word (Deuteronomium 22:23, 24). Maar al was Maria nie seksueel onsedelik nie, wonder sy seker hoe sy haar swangerskap aan Josef kan verduidelik en wat gaan gebeur.

Maria was drie maande lank weg, en daarom kan ons seker wees dat Josef haar baie graag wil sien. Wanneer Maria by hom kom, vertel sy hom heel moontlik dat sy swanger is. Sy probeer haar bes om te verduidelik dat sy deur middel van God se heilige gees swanger geword het. Maar jy kan jou net voorstel hoe moeilik dit vir Josef is om haar te glo en dit te verstaan.

Josef weet dat Maria ’n goeie vrou is en dat sy ’n uitstekende reputasie het. En hy is baie lief vir haar. Maar al verduidelik sy wat gebeur het, lyk dit vir Josef asof sy ’n ander man se kind verwag. Josef wil nie hê dat sy met klippe doodgegooi of in die openbaar verneder moet word nie, en daarom besluit hy om in die geheim van haar te skei. In daardie dae is mense wat verloof was, as getroud beskou, en ’n egskeiding was nodig om ’n verlowing te verbreek.

Later, terwyl Josef nog oor hierdie dinge dink, raak hy aan die slaap. Jehovah se engel verskyn in ’n droom aan hom en sê: “Moenie bang wees om jou vrou, Maria, huis toe te neem nie, want sy het swanger geword deur heilige gees. Sy sal geboorte gee aan ’n seun, en jy moet hom Jesus noem, want hy sal sy volk van hulle sondes red.” – Matteus 1:20, 21.

Wanneer Josef wakker word, is hy so bly dat hy dinge nou beter verstaan! Hy doen dadelik wat die engel vir hom gesê het. Hy neem Maria na sy huis toe. Hierdie openbare optrede is in werklikheid ’n huwelikseremonie, wat almal laat weet dat Josef en Maria nou getroud is. Maar Josef het nie seksuele omgang met Maria terwyl sy swanger met Jesus is nie.

Maande later moet Josef en Maria, wat hoog swanger is, regmaak vir ’n reis wat hulle sal wegneem van hulle huis in Nasaret. Waarheen moet hulle gaan noudat dit amper tyd is vir Maria om geboorte te gee?