Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 9

Jesus word groot in Nasaret

Jesus word groot in Nasaret

MATTEUS 13:55, 56 MARKUS 6:3

  • JOSEF EN MARIA SE GESIN WORD GROTER

  • JESUS LEER ’N AMBAG

Jesus word groot in Nasaret, ’n klein en onbelangrike stad. Dit is noord van Judea, in die heuwelagtige gebied wat Galilea genoem word, wes van die See van Galilea.

Wanneer Jesus omtrent twee jaar oud is, bring Josef en Maria hom van Egipte af hierheen. Dit lyk asof hy op hierdie tydstip hulle enigste kind is, maar later word sy halfbroers, Jakobus, Josef, Simon en Judas, gebore. Josef en Maria het ook dogters – Jesus se halfsusters. Ja, Jesus het ten minste ses jonger broers en susters.

Jesus het natuurlik ook ander familielede. Ons weet reeds van Elisabet en haar seun, Johannes. Hy woon ver daarvandaan in die suide, in Judea. Salome, wat blykbaar Maria se suster en Jesus se tannie is, woon naby hulle in Galilea. Salome se man is Sebedeus, en hulle twee seuns, Jakobus en Johannes, is blykbaar Jesus se neefs. Ons weet nie of Jesus baie tyd saam met hierdie seuns deurbring terwyl hulle grootword nie, maar later word hulle baie goeie vriende. Hulle word ook twee van Jesus se apostels.

Josef moet baie hard werk om vir sy groot gesin te sorg. Hy is ’n timmerman. Josef maak Jesus as sy eie seun groot, en daarom word Jesus “die timmerman se seun” genoem (Matteus 13:55). Josef leer Jesus om ook ’n timmerman te wees, en hy leer vinnig. Dit is waarom mense later oor Jesus sê: “Is hy dan nie die timmerman nie?” – Markus 6:3.

Die aanbidding van Jehovah is die belangrikste ding in Josef en sy gesin se lewe. Uit gehoorsaamheid aan God se Wet onderrig Josef en Maria hulle kinders geestelik ‘wanneer hulle in hulle huis sit en wanneer hulle op die pad loop en wanneer hulle gaan lê en wanneer hulle opstaan’ (Deuteronomium 6:6-9). Daar is ’n sinagoge in Nasaret. Ons kan seker wees dat Josef sy gesin gereeld soontoe neem om daar te aanbid. Daar word later gesê dat Jesus “volgens sy gewoonte op die Sabbatdag” na die sinagoge gegaan het (Lukas 4:16). Die gesin geniet dit ook baie om gereeld na Jehovah se tempel in Jerusalem te gaan.