Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 12

Jesus word gedoop

Jesus word gedoop

MATTEUS 3:13-17 MARKUS 1:9-11 LUKAS 3:21, 22 JOHANNES 1:32-34

  • JESUS WORD GEDOOP EN GESALF

  • JEHOVAH SÊ DAT JESUS SY SEUN IS

Ongeveer ses maande nadat Johannes begin preek het, kom Jesus, wat nou omtrent 30 jaar oud is, na hom toe by die Jordaanrivier. Hoekom? Dit is nie net omdat hy Johannes wil besoek of wil sien hoe sy werk vorder nie. Nee, Jesus kom om Johannes te vra om hom te doop.

’n Mens kan verstaan dat Johannes dit nie wil doen nie. Hy sê: “Ek is die een wat deur u gedoop moet word, en u kom na my toe?” (Matteus 3:14). Johannes weet dat Jesus God se spesiale Seun is. Johannes se ma, Elisabet, het hom sekerlik vertel dat hy van vreugde in haar baarmoeder gespring het toe Maria, wat met Jesus swanger was, by haar kom kuier het. En hy sou ook gehoor het van die engel se aankondiging oor Jesus se geboorte en van die engele wat aan die herders verskyn het die nag toe Jesus gebore is.   

Johannes weet dat hy mense doop wat berou het oor hulle sondes. Maar Jesus het nie sonde nie. Al wil Johannes hom nie doop nie, dring Jesus aan: “Laat dit hierdie keer so wees, want dit is goed dat ons op hierdie manier alles doen wat regverdig is.” – Matteus 3:15.

Waarom is dit gepas dat Jesus gedoop word? Jesus word nie gedoop as ’n simbool van berou oor sondes nie. Sy doop wys eerder dat hy hom aanbied om sy Vader se wil te doen (Hebreërs 10:5-7). Jesus was tot nou toe ’n timmerman, maar nou is dit tyd vir hom om met die bediening te begin waarvoor sy hemelse Vader hom aarde toe gestuur het. Dink jy Johannes verwag dat iets buitengewoons sal gebeur wanneer hy Jesus doop?

Wel, Johannes sê later: “Hy wat my gestuur het om in water te doop, het vir my gesê: ‘Die een op wie jy die gees sien neerdaal en op wie dit bly, dit is hy wat in heilige gees doop’” (Johannes 1:33). Daarom verwag Johannes dat God se gees sal kom op iemand wat hy doop. Wanneer Jesus uit die water opkom, is Johannes dalk nie verbaas om te sien hoe “God se gees soos ’n duif neerdaal en op [Jesus] kom” nie. – Matteus 3:16

Maar meer as dit gebeur wanneer Jesus gedoop word. ‘Die hemel het oopgegaan’ vir hom. Wat beteken dit? Dit beteken blykbaar dat Jesus alles oor sy voormenslike lewe in die hemel onthou wanneer hy gedoop word. Jesus onthou ook sy lewe as ’n geesseun van Jehovah, insluitende die waarhede wat hy by God in die hemel geleer het voordat hy aarde toe gekom het.

By Jesus se doop sê ’n stem uit die hemel ook: “Dit is my geliefde Seun, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Wie se stem is dit? Dit kan nie Jesus se stem wees nie, want hy is daar by Johannes. Dit is God se stem. Dit is duidelik dat Jesus God se Seun is. Hy is nie God nie.

Dit is belangrik om te weet dat Jesus ’n menslike seun van God is, net soos die eerste mens, Adam, was. Nadat die dissipel Lukas Jesus se doop beskryf het, skryf hy: “Jesus was omtrent 30 jaar oud toe hy met sy werk begin het. Die mense het hom geken as die seun van Josef, die seun van Heli, . . . die seun van Dawid, . . . die seun van Abraham, . . . die seun van Noag, . . . die seun van Adam, die seun van God.” – Lukas 3:23-38.

Jesus is ’n menslike “seun van God”, net soos Adam was. Met Jesus se doop begin hy ’n nuwe verhouding met God en word hy God se geestelike Seun. Daarom kan Jesus nou goddelike waarheid aan ander leer en hulle die weg na die lewe wys. Jesus begin ’n lewensweg wat uiteindelik daartoe sal lei dat hy sy menslike lewe opoffer vir die sondige mensdom.