Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 24

Jesus brei sy bediening in Galilea uit

Jesus brei sy bediening in Galilea uit

MATTEUS 4:23-25 MARKUS 1:35-39 LUKAS 4:42, 43

  • JESUS REIS MET VIER DISSIPELS DEUR GALILEA

  • SY PREDIKINGSWERK EN WONDERWERKE WORD ORAL BEKEND

Jesus het ’n besige dag met sy vier dissipels gehad. In die aand bring die mense van Kapernaum hulle siekes na hom toe sodat hy hulle kan genees. Jesus het min tyd vir homself gehad.

Dit is nog donker wanneer Jesus die volgende oggend vroeg opstaan en alleen buitentoe gaan. Hy vind ’n plek waar hy alleen kan wees en tot sy Vader kan bid. Maar Jesus is nie lank alleen nie. Wanneer ‘Simon en dié by hom’ besef dat Jesus nie daar is nie, gaan soek hulle na hom. Petrus neem dalk die inisiatief om dit te doen omdat Jesus ’n gas in sy huis is. – Markus 1:36; Lukas 4:38.

Wanneer hulle Jesus vind, sê Petrus: “Almal soek u” (Markus 1:37). Die mense van Kapernaum wil natuurlik hê dat Jesus daar moet bly. Hulle waardeer werklik wat hy gedoen het, en daarom “probeer [hulle] keer dat hy van hulle af weggaan” (Lukas 4:42). Maar het Jesus hoofsaaklik aarde toe gekom om mense wonderdadig te genees? En gaan hy sy werk net in Kapernaum doen? Wat sê hy hieroor?

Jesus antwoord sy dissipels: “Laat ons êrens anders gaan, na die dorpe hier naby, sodat ek ook daar kan preek, want dit is hoekom ek gekom het.” Om die waarheid te sê, Jesus sê selfs vir die mense wat wil hê dat hy moet bly: “Ek moet die goeie nuus van die Koninkryk van God ook aan ander stede bekend maak, want dit is waarvoor ek gestuur is.” – Markus 1:38; Lukas 4:43.

Ja, ’n belangrike rede waarom Jesus aarde toe gekom het, is om oor God se Koninkryk te preek. Daardie Koninkryk sal sy Vader se naam heilig en al die mensdom se probleme permanent oplos. Wanneer Jesus mense wonderdadig genees, bewys hy dat God hom gestuur het. Net so het Moses eeue tevore buitengewone werke gedoen om te bewys dat hy deur God gestuur is. – Eksodus 4:1-9, 30, 31.

Jesus verlaat dus Kapernaum om in ander stede te gaan preek, en sy vier dissipels gaan saam met hom. Hierdie vier is Petrus en sy broer Andreas, sowel as Johannes en sy broer Jakobus. Hulle is die vorige week genooi om Jesus se eerste reisende metgeselle te wees.

Jesus se predikingsreis deur Galilea met hierdie vier dissipels is ’n reusesukses! Om die waarheid te sê, nuus oor Jesus versprei oral. “Die nuus oor hom het deur die hele Sirië versprei,” na die gebied van die tien stede wat die Dekapolis genoem word, en na die gebied anderkant die Jordaanrivier (Matteus 4:24, 25). Groot skares van hierdie gebiede sowel as van Judea volg Jesus en sy dissipels. Baie van hulle bring mense na hom toe wat genees wil word. Jesus stel hulle nie teleur nie – hy genees die siekes en dryf demone uit mense uit.