Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 25

Medelye met ’n melaatse man

Medelye met ’n melaatse man

MATTEUS 8:1-4 MARKUS 1:40-45 LUKAS 5:12-16

  • JESUS GENEES ’N MELAATSE MAN

Terwyl Jesus en sy vier dissipels “deur die hele Galilea in hulle sinagoges” preek, hoor mense oral van die wonderlike dinge wat Jesus doen (Markus 1:39). Die nuus van Jesus se bedrywighede bereik ’n stad waar daar ’n melaatse man is. Die dokter Lukas beskryf hom as ’n man “vol melaatsheid” (Lukas 5:12). Wanneer hierdie vreeslike siekte sy gevorderde stadium bereik, vermink dit stadig verskillende dele van die liggaam.

Hierdie melaatse man is dus in ’n verskriklike toestand, en volgens die Wet moet hy ver van ander af wegbly. En wanneer mense naby is, moet hy “Onrein, onrein!” uitroep. Op hierdie manier keer hy dat hulle te na aan hom kom en aangesteek word (Levitikus 13:45, 46). Maar wat doen hierdie melaatse man nou? Hy nader Jesus en val met sy gesig na die grond toe en smeek hom: “Here, as u net wil, kan u my gesond maak.” – Matteus 8:2.

Watter groot geloof het hierdie man tog in Jesus! En hoe jammerlik moet sy siekte hom tog laat lyk! Hoe gaan Jesus reageer? Wat sou jy gedoen het as jy daar was? Jesus het medelye met die man, en daarom steek hy sy hand uit en raak hy aan hom. Jesus sê vir hom: “Ek wil! Word gesond” (Matteus 8:3). Al is dit vir party moeilik om te glo, verdwyn die siek man se melaatsheid onmiddellik.

Sou jy graag ’n koning wou hê wat so medelydend en bekwaam is soos Jesus? Die manier waarop hy hierdie melaatse man behandel, verseker ons dat die volgende Bybelprofesie vervul sal wees wanneer Jesus Koning oor die hele aarde is: “Hy sal jammer voel vir die hulpelose en die arme, en hy sal die lewens van die armes red” (Psalm 72:13). Ja, Jesus sal dan sy hartsbegeerte vervul om almal te help wat swaarkry.

Onthou dat Jesus se bediening groot opwinding onder die mense veroorsaak het, selfs voordat hy hierdie melaatse man genees het. Nou gaan mense hoor van hierdie wonderwerk wat hy gedoen het. Maar Jesus wil nie hê dat mense geloof in hom moet stel net as gevolg van wat hulle gehoor het nie. Hy ken die profesie wat sê dat hy “nie sy stem in die straat [sal] laat hoor nie”, dit wil sê op die een of ander sensasionele manier nie (Jesaja 42:1, 2). Daarom beveel Jesus die melaatse man wat genees is: “Moet vir niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en offer die gawe wat Moses voorgeskryf het.” – Matteus 8:4.

Maar soos jy jou kan voorstel, is die man so bly om genees te wees dat hy nie die wonderwerk geheim kan hou nie. Hy gaan vertel die nuus oral. Dit interesseer die mense nog meer en maak hulle nuuskieriger. Dit raak so erg dat Jesus nie openlik in ’n stad kan ingaan nie, en daarom bly hy ’n ruk lank op afgeleë plekke waar niemand bly nie. Tog kom mense van oral om deur hom geleer en genees te word.