Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 26

“Jou sondes is vergewe”

“Jou sondes is vergewe”

MATTEUS 9:1-8 MARKUS 2:1-12 LUKAS 5:17-26

  • JESUS VERGEWE ’N VERLAMDE MAN SE SONDES EN GENEES HOM

Mense van oral het nou van Jesus gehoor. Baie reis selfs na afgesonderde plekke om te hoor hoe hy mense leer en om sy wonderwerke te sien. Maar ná ’n paar dae keer hy terug na Kapernaum, waar die meeste van sy bedrywighede plaasvind. Die nuus dat hy terug is, versprei vinnig deur hierdie stad, wat langs die See van Galilea is. As gevolg hiervan kom baie mense na die huis waar hy is. Party is Fariseërs en onderrigters van die Wet wat van oral in Galilea en Judea gekom het, insluitende Jerusalem.

‘So baie mense kom bymekaar dat daar nie meer plek is nie, nie eers by die deur nie, en hy begin die woord van God aan hulle bekend maak’ (Markus 2:2). Maar dan gebeur iets merkwaardigs – iets wat duidelik toon dat Jesus die mag het om die oorsaak van menselyding weg te neem en om wie hy ook al wil, gesond te maak.

Terwyl Jesus die mense in die stampvol kamer leer, bring vier mans ’n verlamde man op ’n draagbed na hom toe. Hulle wil hê dat Jesus hulle vriend moet genees. Maar as gevolg van die skare kan hulle hom nie “tot by Jesus bring nie” (Markus 2:4). Dink net hoe teleurstellend dit moet wees. Hulle klim op die plat dak van die huis en maak ’n opening deur die teëls. Dan laat sak hulle die draagbed met die verlamde man deur die opening.

Maak hierdie onderbreking Jesus kwaad? Nee, glad nie! Hy is baie beïndruk deur hulle geloof en sê vir die verlamde man: “Jou sondes is vergewe” (Matteus 9:2). Maar kan Jesus regtig sondes vergewe? Die skrifgeleerdes en Fariseërs neem aanstoot en redeneer: “Hoekom praat hierdie man so? Hy laster. Niemand behalwe God kan sondes vergewe nie.” – Markus 2:7.

Jesus weet wat hulle dink en sê vir hulle: “Hoekom dink julle hierdie dinge? Wat is makliker? Om vir die verlamde man te sê: ‘Jou sondes is vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en tel jou bed op en loop’?” (Markus 2:8, 9). Ja, op grond van die offerande wat Jesus later gaan bring, kan hy die man se sondes vergewe.

Dan wys Jesus vir die skare, insluitende dié wat hom kritiseer, dat hy die gesag het om sondes op die aarde te vergewe. Hy draai na die verlamde man en beveel hom: “Ek sê vir jou: Staan op, tel jou bed op en gaan na jou huis toe.” Die man tel onmiddellik sy draagbed op en loop uit voor almal wat daar is. Die mense is verstom! Hulle loof God en roep uit: “Ons het nog nooit so iets gesien nie”! – Markus 2:11, 12.

Dit is interessant dat Jesus sondes met siektes verbind en dat die vergifnis van sondes met fisiese gesondheid verbind kan word. Die Bybel leer dat ons eerste ouer, Adam, gesondig het en dat ons almal die gevolge van sonde oorgeërf het, naamlik siekte en die dood. Maar onder die heerskappy van God se Koninkryk sal Jesus die sondes vergewe van almal wat vir God lief is en wat hom dien. Dan sal siekte vir ewig verwyder word. – Romeine 5:12, 18, 19.