Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 27

Jesus nooi Matteus om sy volgeling te word

Jesus nooi Matteus om sy volgeling te word

MATTEUS 9:9-13 MARKUS 2:13-17 LUKAS 5:27-32

  • JESUS NOOI MATTEUS, DIE BELASTINGGAARDER

  • CHRISTUS ASSOSIEER MET SONDAARS OM HULLE TE HELP

Nadat Jesus die verlamde man genees het, bly hy ’n kort rukkie in die gebied van Kapernaum, by die See van Galilea. Skares kom weer na hom toe, en hy begin hulle leer. Terwyl hy stap, sien hy Matteus, wat ook Levi genoem word, by die belastingkantoor sit. Matteus kry ’n wonderlike uitnodiging van Jesus: “Word my volgeling.” – Matteus 9:9.

Matteus weet waarskynlik alreeds iets omtrent Jesus se leringe en die wonderwerke wat hy in die gebied gedoen het, net soos Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes. Soos hulle, reageer Matteus onmiddellik. Matteus beskryf dit in sy Evangelieverslag en sê: “Toe het hy [Matteus self] opgestaan” en Jesus gevolg (Matteus 9:9). Matteus los dus sy werk as ’n belastinggaarder en word ’n dissipel van Jesus.

Op ’n latere stadium, dalk om waardering uit te spreek vir hierdie spesiale uitnodiging van Jesus, hou Matteus ’n groot fees by sy huis. Wie buiten Jesus en sy dissipels word genooi? Wel, ’n paar belastinggaarders wat voorheen saam met Matteus gewerk het, is ook daar. Hulle vorder belasting in vir die gehate Romeinse owerheid, insluitende belasting op skepe wat in die hawe kom, belasting vir karavane op die hoofpaaie en belasting op ingevoerde goedere. Hoe beskou die meeste Jode hierdie belastinggaarders? Die mense haat hulle omdat hulle oneerlik optree deur dikwels meer as die gewone belastingtarief te eis. Daar is ook ‘sondaars’ by die fees, persone wat ’n reputasie het vir die slegte dinge wat hulle beoefen. – Lukas 7:37-39.

Die Fariseërs, wat hulleself as baie regverdig beskou, sien Jesus by die fees saam met hierdie mense en vra sy dissipels: “Hoekom eet julle leermeester saam met belastinggaarders en sondaars?” (Matteus 9:11). Jesus hoor wat hulle vra en sê: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is, het wel. Gaan dan en leer wat die volgende beteken: ‘Ek wil hê dat julle genade moet betoon, nie dat julle offerandes bring nie.’ Want ek het nie gekom om regverdige mense te roep nie, maar sondaars” (Matteus 9:12, 13; Hosea 6:6). Die Fariseërs is nie opreg wanneer hulle Jesus “leermeester” noem nie, maar hulle kan wel iets by hom leer oor wat reg is.

Matteus het belastinggaarders en sondaars na sy huis genooi, waarskynlik sodat hulle na Jesus kan luister en geestelike genesing kan ontvang, “want daar was baie van hulle wat hom gevolg het” (Markus 2:15). Jesus wil hulle help om ’n goeie verhouding met God te verkry. Anders as die arrogante Fariseërs, sien Jesus nie op hulle neer nie. Hy het medelye met hulle en betoon genade aan hulle; hy kan ’n geestelike dokter wees vir almal wat geestelik siek is.

Jesus betoon genade teenoor belastinggaarders en sondaars, nie om hulle sondes goed te praat nie, maar om tere gevoelens te betoon, net soos hy tere gevoelens betoon het aan mense wat fisies siek was. Dink byvoorbeeld aan die keer toe hy liefdevol aan die melaatse man geraak het en gesê het: “Ek wil! Word gesond” (Matteus 8:3). Moet ons nie ook so genadig wees en behoeftiges help, veral op ’n geestelike manier nie?