Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 31

Die dissipels pluk graan op die Sabbat

Die dissipels pluk graan op die Sabbat

MATTEUS 12:1-8 MARKUS 2:23-28 LUKAS 6:1-5

  • DISSIPELS PLUK GRAAN OP DIE SABBAT

  • JESUS IS “HERE VAN DIE SABBAT”

Jesus en sy dissipels reis nou noord na Galilea. Dit is lente, en daar groei graan op die landerye. Die dissipels is honger en pluk van die graan om die korrels te eet. Maar dit is die Sabbat, en die Fariseërs sien wat hulle doen.

Onthou dat sekere Jode in Jerusalem Jesus onlangs daarvan beskuldig het dat hy die Sabbat verbreek en hom as gevolg daarvan wou doodmaak. Nou kom die Fariseërs met ’n beskuldiging na aanleiding van wat die dissipels doen. “Kyk! Jou dissipels doen iets wat ’n mens nie op die Sabbat mag doen nie.” – Matteus 12:2.

Die Fariseërs beweer dat die dissipels graan oes en dors wanneer hulle dit pluk en met hulle hande vryf sodat hulle dit kan eet (Eksodus 34:21). Hulle streng definisie van wat werk is, maak die Sabbat ’n las, hoewel dit oorspronklik bedoel is om ’n vreugdevolle, geestelik opbouende dag te wees. Jesus bewys dat hulle beskouing verkeerd is deur voorbeelde te gebruik om te toon dat Jehovah God nooit bedoel het dat Sy Sabbatswet só toegepas moet word nie.

Een voorbeeld wat Jesus gee, is dié van Dawid en sy manne. Toe hulle honger was, het hulle na die tabernakel gegaan en die offerbrode geëet. Daardie brode was reeds voor Jehovah verwyder en met vars brode vervang en kon gewoonlik net deur die priesters geëet word. Maar onder die omstandighede is Dawid en sy manne nie veroordeel toe hulle daarvan geëet het nie. – Levitikus 24:5-9; 1 Samuel 21:1-6.

Jesus noem ’n tweede voorbeeld en sê: “Het julle nie in die Wet gelees dat die priesters wat op die Sabbatte in die tempel dien, die Sabbat ontheilig en tog onskuldig bly nie?” Hy bedoel dat die priesters selfs op die Sabbat offerdiere slag en ander werk by die tempel doen. Jesus sê: “Maar ek sê vir julle dat iets groter as die tempel hier is.” – Matteus 12:5, 6; Numeri 28:9.

Jesus gebruik weer die Skrif om sy punt te maak: “As julle egter verstaan het wat die volgende beteken: ‘Ek wil hê dat julle genade moet betoon, nie dat julle offerandes bring nie,’ sou julle nie die onskuldiges veroordeel het nie. Want die Seun van die mens is Here van die Sabbat.” Jesus verwys na sy vreedsame, duisendjarige Koninkryksheerskappy. – Matteus 12:7, 8; Hosea 6:6.

Die mensdom ly al lank onder Satan se onderdrukkende slawerny, wat tot baie geweld en oorlog gelei het. Hoe anders sal dit tog wees onder die heerskappy van Christus – die “Here van die Sabbat” – wat die tyd van rus sal voorsien waarna ons baie uitsien en wat ons so nodig het!