Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 32

Wat mag op die Sabbat gedoen word?

Wat mag op die Sabbat gedoen word?

MATTEUS 12:9-14 MARKUS 3:1-6 LUKAS 6:6-11

  • ’N MAN SE HAND WORD OP DIE SABBAT GENEES

Op ’n ander Sabbat besoek Jesus ’n sinagoge, waarskynlik in Galilea. Daar vind hy ’n man wie se regterhand misvormd is (Lukas 6:6). Die skrifgeleerdes en die Fariseërs hou Jesus fyn dop. Hoekom? Hulle wys wat hulle ware bedoelings is wanneer hulle vra: “Mag ’n mens iemand op die Sabbat genees?” – Matteus 12:10.

Die Joodse godsdiensleiers glo dat iemand op die Sabbat mediese hulp kan ontvang slegs as sy lewe in gevaar is. Volgens hulle mag ’n mens dus nie op die Sabbat ’n gebreekte been spalk of ’n verstuite gewrig behandel nie, aangesien hierdie beserings nie lewensgevaarlik is nie. Dit is duidelik dat die skrifgeleerdes en die Fariseërs Jesus nie uitvra omdat hulle opreg besorg is oor die feit dat hierdie arme man so ly nie. Hulle soek ’n verskoning sodat hulle Jesus kan beskuldig.   

Maar Jesus weet dat hulle redenasie heeltemal verkeerd is. Hy besef dat hulle ’n ongebalanseerde en onskriftuurlike beskouing het van wat dit beteken om op die Sabbat te werk (Eksodus 20:8-10). Hy het reeds sulke ongepaste kritiek ontvang as gevolg van die goeie werke wat hy doen. Nou sê Jesus iets vir die man met die misvormde hand wat tot ’n dramatiese konfrontasie sal lei: “Staan op en kom na die middel toe.” – Markus 3:3.

Jesus draai na die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: “As iemand onder julle een skaap het en daardie skaap op die Sabbat in ’n put val, sal hy dit dan nie gaan uithaal nie?” (Matteus 12:11). ’n Skaap is ’n finansiële belegging, en daarom sal hulle dit nie tot die volgende dag in die put los nie; dit sal dalk doodgaan en vir hulle ’n verlies wees. Wat meer is, die Skrif sê: “Die regverdige sorg vir sy diere.” – Spreuke 12:10.

Jesus tref ’n redelike vergelyking deur te sê: “Hoeveel meer is ’n mens tog werd as ’n skaap! ’n Mens mag dus iets goeds op die Sabbat doen” (Matteus 12:12). Jesus sou dus nie die Sabbat verbreek deur die man te genees nie. Jesus redeneer logies en met medelye, en die godsdiensleiers kan hom nie verkeerd bewys nie. Hulle het niks om te sê nie.

Jesus is kwaad sowel as hartseer oor hulle verkeerde denke. Hy kyk rond en sê vir die man: “Steek jou hand uit” (Matteus 12:13). Wanneer die man dit doen, word sy hand gesond. Dit maak die man natuurlik baie bly, maar watter uitwerking het dit op dié wat ’n strik vir Jesus probeer stel?

Die Fariseërs is nie bly dat die man se hand gesond is nie. Hulle verlaat eerder die sinagoge en begin onmiddellik “saam met Herodes se ondersteuners planne beraam om hom [Jesus] dood te maak” (Markus 3:6). Hierdie ondersteuners van Herodes is lede van ’n politieke party wat blykbaar ook van die Sadduseërs, ’n godsdiensgroep, insluit. Die Sadduseërs en die Fariseërs is gewoonlik teen mekaar gekant, maar nou is hulle heeltemal verenig in hulle teenstand teen Jesus.