Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 38

Johannes wil van Jesus hoor

Johannes wil van Jesus hoor

MATTEUS 11:2-15 LUKAS 7:18-30

  • JOHANNES DIE DOPER VRA OOR JESUS SE ROL

  • JESUS PRYS JOHANNES

Johannes die Doper is al omtrent ’n jaar lank in die tronk. Maar hy hoor nog steeds van die wonderlike dinge wat Jesus doen. Dink net hoe Johannes voel wanneer sy dissipels hom vertel dat Jesus ’n weduwee se seun in Nain opgewek het. Maar Johannes wil by Jesus self hoor wat dit alles beteken. Johannes roep dus twee van sy dissipels. Om wat te doen? Hulle moet Jesus vra: “Is u die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” – Lukas 7:19.

Klink dit na ’n vreemde vraag? Johannes is ’n godvresende man. Toe hy Jesus byna twee jaar tevore gedoop het, het hy God se gees op Jesus sien neerdaal en gehoor hoe God sy goedkeuring uitspreek. Ons het geen rede om te dink dat Johannes se geloof verswak het nie. Anders sou Jesus Johannes nie so geprys het soos hy by hierdie geleentheid doen nie. Maar as Johannes nie twyfelgedagtes het nie, hoekom vra hy Jesus hierdie vraag?

Johannes wil moontlik hê dat Jesus self moet bevestig dat Jesus die Messias is. Dit sal Johannes versterk terwyl hy in die tronk wegkwyn. Daar is waarskynlik nog meer agter Johannes se vraag. Hy ken die Bybelprofesieë wat wys dat die Gesalfde van God ’n koning en ’n verlosser sal wees. Tog is Jesus al maande gelede gedoop, en Johannes is nog steeds in die tronk. Johannes vra dus of iemand anders gaan kom, ’n opvolger van Jesus, wat alles sal vervul wat oor die Messias voorspel is.

Jesus sê nie net eenvoudig vir Johannes se dissipels: ‘Natuurlik is ek die Een wat sal kom’ nie. Nee, Jesus gee eerder bewyse dat hy God se ondersteuning het deur mense te genees wat allerhande siektes en kwale het. Dan sê hy vir die dissipels: “Gaan sê vir Johannes wat julle hoor en sien: Die blindes kan nou sien, die kreupeles loop, die melaatses word genees, die dowes hoor, die dooies word opgewek en die armes word van die goeie nuus vertel.” – Matteus 11:4, 5.

Johannes se vraag kan beteken dat hy verwag dat Jesus meer sal doen as wat hy nou doen en Johannes dalk uit die tronk sal bevry. Maar Jesus sê vir Johannes om nie meer te verwag as die wonderwerke wat hy reeds doen nie.

Nadat Johannes se dissipels daar weg is, verseker Jesus die skare dat Johannes meer as net ’n profeet is. Hy is “die boodskapper” van Jehovah wat in Maleagi 3:1 voorspel is. Hy is ook die profeet Elia, soos daar in Maleagi 4:5, 6 voorspel is. Jesus verduidelik: “Ek verseker julle: Van almal wat al gebore is, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. Tog is die persoon wat die kleinste in die Koninkryk van die hemel is, groter as hy.” – Matteus 11:11.

Wanneer Jesus sê dat ’n persoon wat klein in die Koninkryk van die hemel is, groter as Johannes is, dui hy aan dat Johannes nie in die hemelse Koninkryk sal wees nie. Johannes het die weg vir Jesus voorberei, maar hy sterf voordat Christus die weg na die hemel open (Hebreërs 10:19, 20). Johannes is wel ’n getroue profeet van God en hy sal ’n aardse onderdaan van God se Koninkryk wees.