Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 45

Mag oor baie demone

Mag oor baie demone

MATTEUS 8:28-34 MARKUS 5:1-20 LUKAS 8:26-39

  • JESUS STUUR DEMONE IN VARKE IN

Wanneer die dissipels teruggaan land toe ná hulle verskriklike ondervinding op die see, gebeur iets skokkends. Twee mans wat baie aggressief is omdat hulle demone in hulle het, kom uit ’n begraafplaas daar naby en hardloop na Jesus toe. Die Bybelverslag fokus op slegs een van die mans, dalk omdat hy gewelddadiger is en al langer onder die beheer van die demone is.

Hierdie arme man loop al ’n tyd lank kaal rond. Hy het “heeltyd, dag en nag, in die grafte en in die berge geskree en homself met klippe stukkend gesny” (Markus 5:5). Hy is so wild dat mense bang is om op daardie pad te loop. Party mense het hom al probeer vasbind, maar hy ruk die kettings uitmekaar en breek die voetboeie stukkend. Niemand is sterk genoeg om hom te beheer nie.

Wanneer die man na Jesus toe kom en voor sy voete neerval, laat die demone hom skree: “Wat het ek met jou te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Sweer by God dat jy my nie sal pynig nie.” Jesus wys dat hy gesag oor die demone het deur sy bevel: “Kom uit die man uit, jou onrein gees.” – Markus 5:7, 8.

In werklikheid is daar baie demone in die man. Wanneer Jesus hom vra: “Wat is jou naam?” antwoord hy: “My naam is Legioen, want ons is baie” (Markus 5:9). ’n Romeinse legioen bestaan uit duisende soldate; hierdie man word dus deur baie demone getreiter en gepla, en hulle geniet dit om te sien hoe hy ly. Hulle smeek Jesus “om hulle nie te beveel om in die afgrond in te gaan nie”. Hulle besef waarskynlik wat voorlê vir hulle sowel as vir hulle leier, Satan. – Lukas 8:31.   

Daar naby wei ’n trop van sowat 2 000 varke, diere wat volgens die Wet onrein is en wat Jode nie eers sou besit nie. Die demone sê: “Stuur ons in die varke in sodat ons in hulle kan ingaan” (Markus 5:12). Jesus sê vir hulle om te gaan, en hulle gaan in die varke in. Dan storm al 2 000 van hulle oor die krans en verdrink in die see.

Wanneer die oppassers van die varke dit sien, gaan hulle vinnig om die nuus in die stad en in die platteland te vertel. Die mense kom om te sien wat gebeur het. Wanneer hulle daar aankom, sien hulle dat die man uit wie die demone gekom het, nou gesond is en normaal optree. Hy het klere aan en sit by Jesus se voete!

Mense wat hiervan hoor of die man sien in wie daar voorheen demone was, word baie bang, want hulle is nie seker wat dit vir hulle beteken nie. Hulle vra Jesus dringend om hulle gebied te verlaat. Terwyl Jesus op die boot klim, smeek die man Jesus om hom te laat saamkom. Maar Jesus sê vir hom: “Gaan huis toe na jou familielede, en vertel vir hulle alles wat Jehovah vir jou gedoen het en dat hy genade aan jou betoon het.” – Markus 5:19.

Jesus sê gewoonlik vir dié wat hy genees, om nie vir enigiemand daarvan te vertel nie, want hy wil nie hê dat mense gevolgtrekkings oor hom moet maak wat gebaseer is op allerhande stories nie. In hierdie geval is die man in wie daar voorheen demone was, lewende bewys van Jesus se krag, en hy kan vir mense getuig wat Jesus nie self sal kan bereik nie. Sy getuienis sal dalk ook enige slegte stories oor hoekom die varke dood is, regstel. Die man gaan dus en begin oral in die Dekapolis bekend maak wat Jesus vir hom gedoen het.