Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 49

Jesus preek in Galilea en lei die apostels op

Jesus preek in Galilea en lei die apostels op

MATTEUS 9:35–10:15 MARKUS 6:6-11 LUKAS 9:1-5

  • JESUS REIS WEER DEUR GALILEA

  • HY STUUR DIE APOSTELS UIT OM TE PREEK

Jesus is al sowat twee jaar lank druk besig om te preek. Is dit nou die tyd om te ontspan en minder te doen? Nee. Jesus brei eerder sy predikingswerk uit deur ‘op ’n reis te gaan deur al die stede en dorpies [van Galilea] en mense in hulle sinagoges te leer en die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en elke soort siekte en elke soort kwaal te genees’ (Matteus 9:35). Wat hy sien, oortuig hom dat dit nodig is om die predikingswerk uit te brei. Maar hoe sal hy dit doen?

Terwyl Jesus reis, sien hy mense wat geestelike genesing en vertroosting nodig het. Hulle is soos skape sonder ’n herder, verwaarloos en sleg behandel. Hy voel jammer vir hulle en sê vir die dissipels: “Ja, die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Meester van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.” – Matteus 9:37, 38.

Jesus weet wat sal help. Hy roep die 12 apostels en maak ses groepe van twee. Dan gee hy hulle duidelike instruksies: “Moenie afdraai en ’n pad volg wat na die nasies lei nie, en moenie in enige Samaritaanse stad ingaan nie, maar hou eerder aan om na die verlore skape van die huis van Israel te gaan. Gaan preek en sê: ‘Die Koninkryk van die hemel het naby gekom.’” – Matteus 10:5-7.

Die Koninkryk wat hulle moet verkondig, is dieselfde Koninkryk waarvan Jesus in die modelgebed gepraat het. ‘Die Koninkryk het naby gekom’ in die sin dat Jesus Christus, die Koning wat deur God aangewys is, teenwoordig is. Maar wat sal bewys dat sy dissipels waarlik hierdie Koninkryksregering verteenwoordig? Jesus gee hulle die mag om die siekes te genees en selfs die dooies op te wek – en dit alles sonder om betaling te vra. Maar hoe sal die apostels dan vir hulleself sorg? Byvoorbeeld, waar sal hulle elke dag kos kry?

Jesus sê vir sy dissipels dat hulle nie allerhande materiële dinge vir hierdie predikingsreis hoef saam te neem nie. Hulle moenie goud, silwer of koper in hulle geldsakke saamvat nie. Hulle het nie eers ’n voedselsak of ekstra klere of sandale nodig nie. Hoekom nie? Jesus verseker hulle: “Die werker verdien om sy kos te ontvang” (Matteus 10:10). Mense wat hulle boodskap waardeer, sal help om in die dissipels se basiese behoeftes te voorsien. Jesus sê: “Waar julle ook al in ’n huis ingaan, bly daar totdat julle daarvandaan vertrek.” – Markus 6:10.

Jesus gee ook instruksies oor hoe om huisbewoners met die Koninkryksboodskap te nader. Hy sê: “Wanneer julle in die huis ingaan, groet die huismense. As die huis julle boodskap waardig is, laat die vrede wat julle dit toewens, daaroor kom, maar as dit nie julle boodskap waardig is nie, laat julle vrede na julle toe terugkeer. En waar iemand julle nie ontvang of nie na julle woorde luister nie, moet julle die stof van julle voete afskud wanneer julle uit daardie huis of daardie stad uitgaan.” – Matteus 10:12-14.

Dit kan selfs gebeur dat ’n hele stad of dorp hulle boodskap verwerp. Wat beteken dit vir so ’n plek? Jesus wys dat dit tot ’n swaar oordeel sal lei. Hy verduidelik: “Ek verseker julle: Dit sal op die Oordeelsdag beter gaan met die land van Sodom en Gomorra as met daardie stad.” – Matteus 10:15.