Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 50

Voorbereid om te preek ondanks vervolging

Voorbereid om te preek ondanks vervolging

MATTEUS 10:16–11:1 MARKUS 6:12, 13 LUKAS 9:6

  • JESUS LEI DIE APOSTELS OP EN STUUR HULLE UIT

Jesus gee sy apostels uitstekende instruksies oor hoe om die predikingswerk te doen wanneer hulle twee-twee uitgaan. Maar dit is nie al wat hy doen nie. Hy waarsku hulle vriendelik dat daar teenstanders sal wees: “Kyk! Ek stuur julle uit soos skape onder wolwe. . . . Julle moet oppas, want mense sal julle aan plaaslike howe oorlewer, en hulle sal julle in hulle sinagoges met gésels slaan. Julle sal voor goewerneurs en konings gebring word ter wille van my.” – Matteus 10:16-18.

Ja, Jesus se volgelinge sal dalk erg vervolg word, maar hy maak hierdie vertroostende belofte aan hulle: “Wanneer hulle julle oorlewer, moet julle nie bekommerd wees oor wat julle moet sê of hoe julle dit moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie tyd aan julle gegee word, want dit is nie net julle wat praat nie, maar dit is die gees van julle Vader wat deur julle praat.” Jesus sê verder: “Die een broer [sal] die ander broer aan die dood oorlewer, en ’n pa sy kind, en kinders sal teen ouers opstaan en hulle laat doodmaak. En julle sal deur alle mense gehaat word as gevolg van my naam, maar die een wat tot die einde toe volhard, sal gered word.” – Matteus 10:19-22.

Omdat die predikingswerk so uiters belangrik is, het Jesus beklemtoon dat sy volgelinge versigtig moet wees sodat hulle die vryheid kan hê om met die werk voort te gaan. Hy sê: “Wanneer hulle julle in een stad vervolg, vlug na ’n ander, want ek verseker julle dat julle beslis nie die kring van die stede van Israel sal voltooi voordat die Seun van die mens kom nie.” – Matteus 10:23.

Watter uitstekende instruksies, waarskuwings en aanmoediging het Jesus sy 12 apostels gegee! ’n Mens kan egter verstaan dat hierdie woorde ook bedoel is vir dié wat ná Jesus se dood en opstanding aan die predikingswerk sal deelneem. Dit word gewys deur die feit dat hy gesê het dat sy dissipels “deur alle mense gehaat [sal] word”, nie net deur dié na wie die apostels gestuur is nie. Ons lees ook nie dat die apostels gedurende hierdie kort predikingskampanje in Galilea voor goewerneurs en konings gebring is of dat hulle deur familielede aan die dood oorgelewer is nie.

Dit is duidelik dat Jesus van die toekoms praat wanneer hy hierdie dinge vir die apostels sê. Dink hieraan: Hy sê dat sy dissipels nie hulle predikingswerk sal voltooi “voordat die Seun van die mens kom nie”. Jesus wys dat sy dissipels nie die werk om God se Koninkryk te verkondig, sal voltooi voordat die verheerlikte Koning Jesus Christus as God se regter kom nie.

Terwyl die apostels die predikingswerk doen, moet hulle nie verbaas wees as mense hulle teëstaan nie, want Jesus sê: “’n Leerling is nie bo sy leermeester nie, en ’n slaaf is ook nie bo sy meester nie.” Jesus se punt is duidelik. Hy is sleg behandel en vervolg omdat hy God se Koninkryk verkondig het, en dit sal ook met ons gebeur. Tog gee Jesus die aansporing: “Moenie dié vrees wat die liggaam doodmaak maar nie die siel kan doodmaak nie. Vrees eerder die Een wat die siel sowel as die liggaam in Gehenna kan vernietig.” – Matteus 10:24, 28.

Jesus het die voorbeeld hierin gestel. Hy het die dood moedig verduur eerder as om dislojaal te wees aan die een met alle mag, Jehovah. Dit is God die Almagtige wat ’n persoon se “siel” (sy vooruitsig op toekomstige lewe) kan vernietig of wat hom kan opwek om die ewige lewe te geniet. Hoe vertroostend moet dit tog vir die apostels wees!

Jesus illustreer God se liefdevolle sorg vir sy volgelinge met hierdie woorde: “Twee mossies word vir ’n muntstuk van min waarde verkoop, nie waar nie? Tog sal nie een van hulle op die grond val sonder dat julle Vader daarvan weet nie. . . . Moet dus nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” – Matteus 10:29, 31.

Die boodskap wat Jesus se dissipels verkondig, sal huishoudings verdeel omdat party familielede dit sal aanvaar en ander nie. “Moenie dink dat ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie,” verduidelik Jesus. Ja, dit verg geloof vir ’n familielid om Bybelwaarheid te aanvaar. “Enigiemand wat meer geheg is aan sy pa of sy ma as aan my, verdien nie om my dissipel te wees nie, en enigiemand wat meer geheg is aan sy seun of sy dogter as aan my, verdien nie om my dissipel te wees nie.” – Matteus 10:34, 37.

Tog sal party mense sy dissipels goed ontvang. Hy sê dat “enigiemand wat een van hierdie kleintjies net ’n beker koue water gee om te drink omdat hy ’n dissipel is, sy beloning beslis nie sal verloor nie”. – Matteus 10:42.

Danksy Jesus se instruksies, waarskuwings en aanmoediging, is die apostels nou goed voorbereid. Hulle het toe “deur die gebied van dorpie tot dorpie gegaan en oral die goeie nuus bekend gemaak en mense genees”. – Lukas 9:6.