Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 54

Jesus – “Die brood van die lewe”

Jesus – “Die brood van die lewe”

JOHANNES 6:25-48

  • JESUS IS “DIE BROOD UIT DIE HEMEL”

Aan die oostelike kant van die See van Galilea het Jesus duisende mense wonderdadig gevoed, en toe hulle hom koning wou maak, het hy van hulle af weggegaan. Daardie nag het hy op die stormagtige see geloop en Petrus gered, wat ook op water geloop het, maar begin sink het toe hy getwyfel het. Jesus het ook die wind laat bedaar en sy dissipels van moontlike skipbreuk gered.

Nou is Jesus weer aan die westelike kant van die see, in die gebied van Kapernaum. Dié wat hy wonderdadig gevoed het, vind hom en vra: “Wanneer het u hier aangekom?” Jesus bestraf hulle deur te sê dat hulle na hom soek sodat hulle weer gevoed kan word. Hy spoor hulle aan om ‘nie te werk vir die voedsel wat sleg word nie, maar vir die voedsel wat ewige lewe gee’. Daarom vra hulle: “Wat moet ons doen om die werke van God te verrig?” – Johannes 6:25-28.

Hulle dink dalk aan die werke wat in die Wet uiteengesit is, maar Jesus verwys na die heel belangrikste werk: “God wil hê dat julle geloof beoefen in die een wat hy gestuur het.” Maar die mense beoefen nie sulke geloof in Jesus nie, ten spyte van alles wat hy gedoen het. Hulle dring daarop aan dat hy vir hulle ’n teken moet gee sodat hulle in hom kan glo. “Watter werk doen u?” vra hulle. “Ons voorvaders het die manna in die wildernis geëet, net soos daar geskryf is: ‘Hy het vir hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’” – Johannes 6:29-31; Psalm 78:24.

Die mense vra om ’n teken te sien, maar Jesus sê vir hulle wat die ware Bron van wonderdadige voorsienings is: “Ek verseker julle: Moses het nie vir julle die brood uit die hemel gegee nie, maar my Vader gee vir julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is die een wat uit die hemel neerdaal en lewe gee aan die wêreld.” Hulle verstaan nie wat hy sê nie en smeek: “Here, gee altyd vir ons van hierdie brood” (Johannes 6:32-34). Maar van watter “brood” praat Jesus?

Hy verduidelik: “Ek is die brood van die lewe. Enigiemand wat na my toe kom, sal nooit honger word nie, en enigiemand wat geloof in my beoefen, sal nooit dors word nie. Maar soos ek vir julle gesê het, julle het my gesien, maar tog glo julle nie. . . . Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my eie wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het. Die wil van hom wat my gestuur het, is dat ek niemand moet verloor uit almal wat hy aan my gegee het nie, maar dat ek hulle op die laaste dag moet opwek. Want die wil van my Vader is dat elkeen wat die Seun erken en geloof in hom beoefen, die ewige lewe moet hê.” – Johannes 6:35-40.

Die Jode begin kla as gevolg hiervan. Hoe kan hy beweer dat hy “die brood [is] wat uit die hemel neergedaal het”? (Johannes 6:41). Vir hulle is hy net ’n seun van menseouers uit die Galilese stad Nasaret. Die mense vra: “Is dit nie Jesus die seun van Josef, wie se pa en ma ons ken nie?” – Johannes 6:42.

“Hou op om onder mekaar te kla,” antwoord Jesus. “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie, en ek sal hom op die laaste dag opwek. Daar is in die boeke van die profete geskryf: ‘Hulle sal almal deur Jehovah geleer word.’ Elkeen wat na die Vader geluister het en wat geleer het, kom na my toe. Nie dat enigiemand die Vader gesien het nie, behalwe die een wat van God kom. Hy het die Vader gesien. Ek verseker julle: Enigiemand wat glo, het die ewige lewe.” – Johannes 6:43-47; Jesaja 54:13.

Toe Jesus vroeër met Nikodemus gepraat het, het hy die ewige lewe met geloof in die Seun van die mens verbind. Hy het gesê: ‘Elkeen wat geloof in hom [God se eniggebore Seun] beoefen, sal nie vernietig word nie, maar kan die ewige lewe hê’ (Johannes 3:15, 16). Maar nou praat hy met ’n baie groter gehoor, en hy sê vir hulle dat hulle die ewige lewe kan verkry – nie deur die manna of die brood wat in Galilea beskikbaar is nie, maar deur sy belangrike rol te erken. Jesus sê weer: “Ek is die brood van die lewe.” – Johannes 6:48.

Hierdie bespreking oor die brood uit die hemel gaan voort en bereik ’n klimaks terwyl Jesus in ’n sinagoge in Kapernaum onderrig.