Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 62

’n Belangrike les oor nederigheid

’n Belangrike les oor nederigheid

MATTEUS 17:22–18:5 MARKUS 9:30-37 LUKAS 9:43-48

  • JESUS VOORSPEL WEER SY DOOD

  • HY BETAAL BELASTING MET ’N MUNTSTUK UIT ’N VIS SE BEK

  • WIE SAL DIE GROOTSTE IN DIE KONINKRYK WEES?

Ná die gedaanteverandering en nadat Jesus ’n seun in wie daar ’n demoon was, in die gebied van Sesarea-Filippi genees het, reis hy na Kapernaum. Dit is net sy dissipels wat saam met hom reis, want hy wil nie hê dat al die mense “daarvan moet uitvind nie” (Markus 9:30). Dit gee hom ’n verdere geleentheid om sy dissipels voor te berei vir sy dood en vir die werk wat hulle dan sal doen. “Die Seun van die mens gaan verraai word en aan mense oorgelewer word,” verduidelik hy, “en hulle sal hom doodmaak, en op die derde dag sal hy opgewek word.” – Matteus 17:22, 23.

Hierdie idee behoort nie iets nuuts vir sy dissipels te wees nie. Jesus het vroeër gesê dat hy doodgemaak gaan word, maar Petrus het geweier om dit te glo (Matteus 16:21, 22). En drie apostels het die gedaanteverandering gesien en gehoor dat daar gesê is dat Jesus ‘moet weggaan’ (Lukas 9:31). Jesus se volgelinge word nou “baie hartseer” as gevolg van wat hy sê, al verstaan hulle nie heeltemal wat sy woorde beteken nie (Matteus 17:23). Maar hulle is bang om hom verder daaroor uit te vra.

Ná verloop van tyd kom hulle in Kapernaum aan, die dorp waar baie van sy bedrywighede plaasgevind het en die tuisdorp van ’n hele paar van sy dissipels. Daar word Petrus genader deur mans wat tempelbelasting invorder. Hulle probeer Jesus moontlik daarvan beskuldig dat hy nie belasting betaal nie deur te vra: “Betaal julle leermeester die twee dragmas [tempel-] belasting?” – Matteus 17:24.

“Ja,” antwoord Petrus. By die huis is Jesus reeds bewus van wat gebeur het. Maar eerder om te wag dat Petrus oor die saak praat, vra hy: “Wat dink jy, Simon? Van wie ontvang die konings van die aarde heffings of hoofbelasting? Van hulle seuns of van die vreemdelinge?” Petrus antwoord: “Van die vreemdelinge.” Jesus sê dus: “Dan hoef die seuns mos nie belasting te betaal nie.” – Matteus 17:25, 26.

Jesus se Vader is die Koning van die heelal en die Een wat by die tempel aanbid word. God se Seun word dus nie wetlik vereis om die tempelbelasting te betaal nie. “Maar sodat ons hulle nie laat struikel nie,” sê Jesus, “gaan na die see toe, gooi ’n vishoek in en vat die eerste vis wat jy uittrek, en wanneer jy sy bek oopmaak, sal jy ’n silwermuntstuk [’n stater, of tetradragma] vind. Vat dit en betaal die belasting vir my en vir jou.” – Matteus 17:27.

Kort voor lank is die dissipels bymekaar, en hulle het ’n vraag vir Jesus oor wie die grootste in die Koninkryk sal wees. Hierdie selfde manne was onlangs bang om Jesus oor sy komende dood uit te vra, maar nou is hulle nie bang om hom oor hulle toekoms te nader nie. Jesus weet wat hulle dink. Dit is iets waaroor hulle reeds gestry het terwyl hulle agter hom geloop het op pad terug na Kapernaum. Daarom vra hy: “Waaroor het julle op die pad gestry?” (Markus 9:33). Die dissipels voel skaam en bly stil, want hulle het gestry oor wie die grootste is. Uiteindelik vra die apostels Jesus die vraag wat hulle bespreek het: “Wie is werklik die grootste in die Koninkryk van die hemel?” – Matteus 18:1.

Dit is moeilik om te glo dat die dissipels oor so iets sou stry nadat hulle byna drie jaar lank gesien het wat Jesus doen en gehoor het wat hy sê. Maar hulle is onvolmaak. En hulle het grootgeword in ’n godsdienstige omgewing waar groot klem gelê word op posisie en status. Wat meer is, Jesus het onlangs sekere “sleutels” van die Koninkryk aan Petrus belowe. Voel Petrus dalk dat hy belangriker is as die res? Jakobus en Johannes voel dalk ook so omdat hulle ooggetuies van Jesus se gedaanteverandering was.

Wat die geval ook al is, Jesus doen iets om hulle gesindheid reg te stel. Hy roep ’n kind, laat hom tussen hulle staan en sê vir die dissipels: “As julle nie verander en soos jong kinders word nie, sal julle beslis nie in die Koninkryk van die hemel ingaan nie. Elkeen wat so nederig soos hierdie jong kind is, is dus die grootste in die Koninkryk van die hemel, en elkeen wat ’n jong kind soos hierdie op grond van my naam ontvang, ontvang my ook.” – Matteus 18:3-5.

Wat ’n wonderlike manier van onderrigting! Jesus word nie kwaad vir sy dissipels of sê dat hulle gierig of ambisieus is nie. Hy gebruik eerder ’n praktiese les. Jong kinders het nie ’n hoë posisie of enige status nie. Jesus wys dus dat sy dissipels hierdie beskouing van hulleself moet hê. Dan sluit Jesus die les af deur vir sy volgelinge te sê: “Wie hom as ’n mindere onder julle almal gedra, is die een wat groot is.” – Lukas 9:48.