Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 72

Jesus stuur 70 dissipels uit om te preek

Jesus stuur 70 dissipels uit om te preek

LUKAS 10:1-24

  • JESUS KIES 70 DISSIPELS EN STUUR HULLE UIT OM TE PREEK

Dit is nou laat in die jaar 32 HJ, omtrent drie jaar nadat Jesus se doop. Hy en sy dissipels was onlangs by die Loofhuttefees in Jerusalem. Hulle is waarskynlik nog daar naby (Lukas 10:38; Johannes 11:1). Om die waarheid te sê, Jesus bring die meeste van die oorblywende ses maande van sy bediening in Judea deur of oorkant die Jordaanrivier in die gebied van Perea. Daar moet ook in hierdie gebiede gepreek word.

Vroeër, ná die Pasga van 30 HJ, het Jesus ’n paar maande lank in Judea gepreek en deur Samaria gereis. Rondom die tyd van die Pasga van 31 HJ het Jode in Jerusalem hom probeer doodmaak. Jesus het die jaar en ’n half daarna hoofsaaklik in die noorde, in Galilea, gepreek. Gedurende daardie tyd het baie mense sy volgelinge geword. In Galilea het Jesus sy apostels opgelei en hulle daarna uitgestuur met die volgende instruksie: “Gaan preek en sê: ‘Die Koninkryk van die hemel het naby gekom’” (Matteus 10:5-7). Nou reël hy ’n predikingskampanje in Judea.

Om dié kampanje te begin, kies Jesus 70 dissipels en stuur hy hulle twee-twee uit. Daarom is daar 35 groepe Koninkrykspredikers in die gebied, waar ‘die oes groot is, maar die werkers min is’ (Lukas 10:2). Hulle moet na plekke gaan waarheen Jesus dalk later ook sal gaan. Die 70 moet die siekes genees en dieselfde boodskap versprei wat Jesus verkondig het.

Hierdie dissipels moenie daarop fokus om in die sinagoge te preek nie. Jesus sê vir hulle om na die mense se huise te gaan. Hy gee die instruksie: “Oral waar julle in ’n huis ingaan, sê eers: ‘Mag hierdie huis vrede hê.’ En as daar ’n vriend van vrede is, sal julle vrede op hom rus.” Wat is hulle boodskap? Jesus sê: “Sê vir hulle: ‘Die Koninkryk van God het naby julle gekom.’” – Lukas 10:5-9.

Die instruksies wat Jesus die 70 gee, is soortgelyk aan die instruksies wat hy gegee het toe hy die 12 apostels omtrent ’n jaar vroeër uitgestuur het. Hy waarsku hulle dat nie almal hulle goed sal ontvang nie. Maar hulle pogings sal opregte mense voorberei sodat baie mense gretig sal wees om die Meester te ontmoet en by hom te leer, wanneer Jesus kort daarna opdaag.

Kort daarna kom die 35 pare Koninkrykspredikers terug. Hulle sê vreugdevol vir Jesus: “Here, selfs die demone gehoorsaam ons wanneer ons u naam gebruik.” Hierdie goeie verslag maak Jesus ongetwyfeld bly, want hy antwoord: “Ek sien dat Satan reeds soos weerlig uit die hemel geval het. Ek het julle die gesag gegee om slange en skerpioene te vertrap.” – Lukas 10:17-19.

Jesus verseker dus sy volgelinge dat hulle in staat sal wees om skadelike dinge te oorwin, asof hulle simboliese slange en skerpioene vertrap. Wat meer is, hulle kan daarvan seker wees dat Satan in die toekoms uit die hemel sal val. Jesus help ook die 70 om te sien wat op die lange duur werklik belangrik is. Hy sê: “Tog moet julle nie bly wees dat die geeste julle gehoorsaam nie, maar wees bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” – Lukas 10:20.

Jesus is baie bly en loof sy Vader in die openbaar omdat Hy hierdie nederige knegte op so ’n kragtige manier gebruik. Hy draai na sy dissipels en sê vir hulle: “Gelukkig is die oë wat die dinge sien wat julle sien. Want ek sê vir julle: Baie profete en konings wou graag die dinge sien wat julle sien, maar hulle het dit nie gesien nie, en hulle wou die dinge hoor wat julle hoor, maar hulle het dit nie gehoor nie.” – Lukas 10:23, 24.