Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 76

Jesus eet saam met ’n Fariseër

Jesus eet saam met ’n Fariseër

LUKAS 11:37-54

  • JESUS VEROORDEEL DIE SKYNHEILIGE FARISEËRS

Terwyl Jesus in Judea is, aanvaar hy ’n uitnodiging om by ’n Fariseër te gaan eet. Dit is waarskynlik ’n middagete en nie ’n aandete nie. (Lukas 11:37, 38; vergelyk Lukas 14:12.) Voordat die Fariseërs eet, volg hulle ’n ritueel om hulle hande tot by die elmboë te was. Maar Jesus doen dit nie (Matteus 15:1, 2). Dit sou nie ’n oortreding van God se Wet wees om dit wel te doen nie, maar dit is nie iets wat deur God vereis word nie.

Die Fariseër is verbaas dat Jesus nie hierdie tradisie volg nie. Jesus kom dit agter en sê: “Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en skottel skoon, maar aan die binnekant is julle vol gierigheid en goddeloosheid. Onredelike mense! Hy wat die buitekant gemaak het, het ook die binnekant gemaak, nie waar nie?” – Lukas 11:39, 40.

Dit gaan nie hier oor skoon hande nie, maar eerder oor godsdiensskynheiligheid. Die Fariseërs en sekere ander mense volg nou wel die ritueel om hulle hande te was, maar hulle reinig nie hulle harte van goddeloosheid nie. Jesus gee hulle dus hierdie raad: “Wanneer julle geskenke aan die armes gee, moet dit van binne af kom, en alles omtrent julle sal skoon wees” (Lukas 11:41). Hierdie raad is so waar! Iemand moet gee uit ’n hart vol liefde en nie omdat hy ander wil beïndruk deur voor te gee dat hy regverdig is nie.

Die probleem is nie dat hierdie mense nie gee nie. Jesus sê: “Julle gee die tiende van die kruisement en van die wynruit en van elke ander soort kruie, maar julle ignoreer die geregtigheid en die liefde vir God! Dit was nodig dat julle hierdie dinge doen, maar sonder om die ander dinge te ignoreer” (Lukas 11:42). God se Wet het vereis dat ’n tiende van ’n oes gegee word (Deuteronomium 14:22). Dit het kruisement en wynruit ingesluit – kruie of plante wat gebruik is om kos te geur. Die Fariseërs het pligsgetrou ’n tiende van hierdie kruie betaal, maar wat van die belangriker vereistes van die Wet, soos om geregtigheid te beoefen en beskeie voor God te wees? – Miga 6:8.

Jesus sê verder: “Dit sal sleg gaan met julle, Fariseërs, want julle hou daarvan om die voorste sitplekke in die sinagoges te hê en om op die markpleine gegroet te word! Dit sal sleg gaan met julle, want julle is soos daardie grafte wat nie mooi gesien kan word nie en waaroor mense loop sonder om dit te besef!” (Lukas 11:43, 44). Ja, mense loop dalk onwetend oor sulke grafte en word dan seremonieel onrein. Jesus gebruik hierdie feit om te beklemtoon dat die onreinheid van die Fariseërs nie opvallend is nie. – Matteus 23:27.

’n Man wat God se Wet goed ken, kla: “Leermeester, deur hierdie dinge te sê, beledig u ons ook.” Maar sulke mense moet besef dat hulle nie die mense help nie. Jesus sê: “Dit sal ook sleg gaan met julle wat die Wet goed ken, want julle belaai die mense met vragte wat moeilik is om te dra, maar julle raak self nie aan die vragte met een van julle vingers nie! Dit sal sleg gaan met julle, want julle bou die grafte van die profete, maar julle voorvaders het hulle doodgemaak!” – Lukas 11:45-47.

Die vragte waarna Jesus verwys, is die mondelinge tradisies en die Fariseërs se interpretasie van die Wet. Hierdie mans maak die lewe nie makliker vir die mense nie. Hulle dring eerder daarop aan dat die mense sekere dinge moet onderhou, wat swaar laste word. Hulle voorvaders het God se profete doodgemaak, van wie Abel die eerste was. Nou laat hulle dit lyk asof hulle die profete eer deur vir hulle grafte te bou, waardeur hulle die gesindheid en dade van hulle voorvaders navolg. Hulle wil selfs God se belangrikste Profeet doodmaak. Jesus sê dat God hierdie geslag hiervoor verantwoordelik sal hou. En sowat 38 jaar later het dit wel gebeur, in 70 HJ.

Jesus sê verder: “Dit sal sleg gaan met julle wat die Wet goed ken, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem. Julle het self nie ingegaan nie, en julle probeer die mense keer wat wil ingaan!” (Lukas 11:52). Hierdie mans, wat veronderstel is om die betekenis van God se Woord duidelik te maak, maak dit eerder vir mense moeilik om dit te ken en te verstaan.

Hoe reageer die Fariseërs en skrifgeleerdes? Terwyl Jesus vertrek, begin hulle hom woedend teëstaan en baie vrae vra. Hulle vra nie omdat hulle graag wil leer nie. Hulle wil Jesus eerder kry om iets te sê waarvoor hulle hom kan laat arresteer.