Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 82

Jesus se bediening in Perea

Jesus se bediening in Perea

LUKAS 13:22–14:6

  • KRAGTIGE INSPANNING OM DEUR DIE NOU DEUR IN TE GAAN

  • JESUS MOET IN JERUSALEM STERF

Jesus leer en genees mense in Judea en Jerusalem. Dan steek hy die Jordaanrivier oor om mense van stad tot stad in die gebied van Perea te leer. Maar hy sal binnekort weer terug wees in Jerusalem.

Terwyl Jesus in Perea is, vra ’n man: “Here, is daar min mense wat gered word?” Die man weet waarskynlik van debatte wat die godsdiensleiers oor hierdie onderwerp gehad het. Jesus verskuif die aandag van hoeveel gered sal word na wat gedoen moet word om gered te word. “Span julle kragtig in om deur die nou deur in te gaan,” sê hy. Ja, dit verg moeite; ’n stryd moet gevoer word. Hoe so? Jesus verduidelik: “Baie sal probeer ingaan, maar hulle sal dit nie kan doen nie.” – Lukas 13:23, 24.

Om duidelik te maak hoe belangrik dit is om jou kragtig in te span, sê Jesus: “Wanneer die huiseienaar opstaan en die deur sluit, sal julle buite staan en aan die deur klop en sê: ‘Here, maak vir ons oop.’ . . . Maar hy sal vir julle sê: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Gaan weg van my af, julle wat onregverdige dinge doen!’” – Lukas 13:25-27.

Dit illustreer die hartseer situasie van iemand wat laat kom – blykbaar op ’n tyd wat hom pas – en sien dat die deur toegesluit is. Hy moes vroeër gekom het, al het dit hom nie gepas nie. Dit is die geval met baie wat by Jesus se leringe kon baat vind toe hy nog by hulle was. Hulle het nie die geleentheid aangegryp om ware aanbidding die belangrikste ding in hulle lewe te maak nie. Die meeste mense na wie Jesus gestuur is, het nie God se voorsiening om gered te word, aanvaar nie. Jesus sê dat hulle sal ‘huil en op hulle tande sal kners’ wanneer hulle buite gegooi word. En tog sal mense “uit die ooste en die weste en die noorde en die suide,” ja, uit alle nasies, “’n plek by die tafel inneem in die Koninkryk van God.” – Lukas 13:28, 29.

Jesus verduidelik: “Daar is dié wat laaste is [soos nie-Jode en Jode wat onderdruk is] wat eerste sal wees, en daar is dié wat eerste is [godsdiensleiers wat trots daarop is dat hulle nakomelinge van Abraham is] wat laaste sal wees” (Lukas 13:30). Die feit dat hulle “laaste” is, beteken dat sulke ondankbares glad nie in die Koninkryk van God sal wees nie.

Party Fariseërs kom nou na Jesus toe en sê vir hom: “Gaan hier weg, want Herodes [Antipas] wil u doodmaak.” Koning Herodes het dalk self hierdie gerug begin versprei sodat Jesus die gebied sal verlaat. Herodes is dalk bang dat hy weer betrokke sal raak by die dood van ’n profeet, soos by die moord van Johannes die Doper. Maar Jesus sê vir die Fariseërs: “Gaan sê vir daardie jakkals: ‘Kyk! Vandag en môre dryf ek demone uit en genees ek mense, en op die derde dag sal ek klaar wees’” (Lukas 13:31, 32). Deur Herodes ’n jakkals te noem, verwys Jesus moontlik na sy slinksheid. Maar Jesus laat hom nie manipuleer of aanjaag deur Herodes of enigiemand anders nie. Hy gaan die toewysing uitvoer wat sy Vader hom gegee het, en hy gaan dit doen volgens God se tydlyn, nie mense s’n nie.

Jesus gaan voort met sy reis na Jerusalem, “want dit kan nie gebeur dat ’n profeet buite Jerusalem doodgemaak word nie” (Lukas 13:33). Geen Bybelprofesie sê dat die Messias in daardie stad moet doodgaan nie. Hoekom sê Jesus dan dat hy daar doodgemaak sal word? Omdat Jerusalem die hoofstad is, waar die Sanhedrin (die hooggeregshof wat uit 71 lede bestaan) geleë is. En dié wat daarvan beskuldig word dat hulle valse profete is, word daar verhoor. Wat meer is, dit is waar diereofferandes geoffer is. Daarom besef Jesus dat dit onaanvaarbaar sou wees dat hy iewers anders doodgemaak sou word.

“Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en die mense wat na haar gestuur is, met klippe doodgooi,” sê Jesus baie hartseer, “hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou my nie toelaat nie. Kyk! Julle huis sal verlate word” (Lukas 13:34, 35). Die nasie verwerp die Seun van God en moet die gevolge dra!

Voordat Jesus in Jerusalem aankom, nooi ’n leier van die Fariseërs hom na sy huis toe vir ’n maaltyd op die Sabbat. Daar is ook ’n siek man met watersug (’n opbouing van vog, gewoonlik in die bene en voete). Dié wat genooi is, hou Jesus fyn dop om te sien of hy die man sal genees. Jesus vra die Fariseërs en dié wat die Wet goed ken: “Mag ’n mens iemand op die Sabbat genees of nie?” – Lukas 14:3.

Niemand antwoord nie. Jesus genees die man en vra dan: “Wie van julle sal nie onmiddellik sy seun of bul uit ’n put trek as hy op die Sabbatdag daarin val nie?” (Lukas 14:5). Weer het hulle niks om te sê op sy goeie redenasie nie.