Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 85

Verheug oor die sondaar wat berou toon

Verheug oor die sondaar wat berou toon

LUKAS 15:1-10

  • ILLUSTRASIE OOR VERLORE SKAAP EN VERLORE MUNTSTUK

  • ENGELE IN DIE HEMEL IS VERHEUG

Op verskillende tye in sy bediening het Jesus beklemtoon hoe belangrik nederigheid is (Lukas 14:8-11). Hy is gretig om mans en vrouens te vind wat God graag nederig wil dien. Tot nou toe is party van hulle dalk bekend as sondaars.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes let op dat sulke mense – mense wat volgens hulle onwaardig is – baie van Jesus en sy boodskap hou. Hulle kla: “Hierdie man verwelkom sondaars en eet saam met hulle” (Lukas 15:2). Die Fariseërs en skrifgeleerdes voel asof hulle beter is as die gewone mense en behandel die mense asof hulle vullis onder hulle voete is. Om te wys hoe min hulle van sulke mense dink, gebruik die leier die Hebreeuse uitdrukking ‛am ha·’aʹrets, “mense van die land [of, aarde]” om na hulle te verwys.

In teenstelling hiermee behandel Jesus almal met waardigheid, goedhartigheid en meegevoel. Baie van die nederiges, insluitende party wat daarvoor bekend is dat hulle ’n sondige lewe lei, is dus gretig om na Jesus te luister. Maar hoe voel Jesus oor en hoe reageer hy op die kritiek wat hy ontvang omdat hy sulke nederiges help?

Die antwoord word duidelik wanneer hy ’n roerende illustrasie vertel wat soortgelyk is aan die een wat hy vroeër in Kapernaum vertel het (Matteus 18:12-14). In die illustrasie lyk dit asof die Fariseërs regverdig is en veilig in God se kudde is. In teenstelling hiermee lyk dit asof die nederiges verdwaald en verlore is. Jesus sê:

“Sê nou iemand onder julle het 100 skape en een van hulle raak verlore. Sal hy nie die 99 in die wildernis los en die een wat verlore is, gaan soek totdat hy hom vind nie? En wanneer hy hom gevind het, is hy baie bly en tel hy hom op sy skouers. Dan gaan hy huis toe en roep hy sy vriende en sy bure bymekaar en sê hy vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap gevind wat verlore was.’” – Lukas 15:4-6.

Wat is die les? Jesus verduidelik: “Ek sê vir julle: Net so sal daar in die hemel meer vreugde wees oor een sondaar wat berou getoon het as oor 99 regverdiges wat geen berou nodig het nie.” – Lukas 15:7.

Die feit dat Jesus oor berou praat, moet die Fariseërs sekerlik skok. Hulle beskou hulleself as regverdig en voel dat hulle nie berou hoef te toon nie. Toe party van hulle Jesus ’n paar jaar vroeër gekritiseer het omdat hy met belastinggaarders en sondaars geëet het, het hy gesê: “Ek het nie gekom om regverdige mense te roep nie, maar sondaars” (Markus 2:15-17). Die arrogante Fariseërs weier om te sien dat hulle berou moet toon, en daarom is daar nie vreugde oor hulle in die hemel nie. Dit is presies die teenoorgestelde wanneer sondaars opreg berou toon.

Jesus wil hê dat dit vir almal duidelik moet wees dat dit ’n rede tot groot vreugde in die hemel is wanneer ’n sondaar wat afgedwaal het, weer terugkeer. Daarom vertel hy nog ’n illustrasie: “Sê nou ’n vrou het tien dragmas en sy verloor een van hulle. Sal sy nie ’n lamp aansteek en haar huis uitvee en oral daarna soek totdat sy dit vind nie? En wanneer sy dit gevind het, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê sy vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het die dragma gevind wat ek verloor het.’” – Lukas 15:8, 9.

Die toepassing wat Jesus maak, is soortgelyk aan die een wat hy gemaak het nadat hy die illustrasie van die verlore skaap gegee het. Nou sê hy: “Net so ontstaan daar vreugde onder die engele van God oor een sondaar wat berou toon.” – Lukas 15:10.

Dink net, God se engele stel opreg belang in die terugkeer van sondaars wat verlore was! Dit is veral betekenisvol omdat die sondaars wat berou toon en ’n plek in God se hemelse Koninkryk ontvang, ’n hoër posisie sal hê as die engele! (1 Korintiërs 6:2, 3). Tog is die engele nie jaloers nie. Hoe moet ons dan voel as ’n sondaar tot God terugkeer en opregte berou toon?