Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 89

Jesus leer mense in Perea op pad na Judea

Jesus leer mense in Perea op pad na Judea

LUKAS 17:1-10 JOHANNES 11:1-16

  • OM IEMAND TE LAAT STRUIKEL IS ’N ERNSTIGE SAAK

  • VERGEWE EN WYS DAT JY GELOOF HET

Jesus was die afgelope tyd in die gebied ‘oorkant die Jordaanrivier’ wat Perea genoem word (Johannes 10:40). Hy reis nou suid, in die rigting van Jerusalem.

Jesus is nie alleen nie. Sy dissipels reis saam met hom, sowel as “groot groepe mense”, wat belastinggaarders en sondaars insluit (Lukas 14:25; 15:1). Fariseërs en skrifgeleerdes wat kritiseer wat Jesus sê en doen, is ook daar. Hulle het baie om oor te dink ná Jesus se illustrasies oor die verlore skaap, die verlore seun en die ryk man en Lasarus. – Lukas 15:2; 16:14.

Die kritiek en gespot van Jesus se teenstanders is nog vars in sy geheue wanneer hy met sy dissipels begin praat. Hy noem weer party punte wat hy vroeër aan die mense in Galilea geleer het.

Jesus sê byvoorbeeld: “Dit is onvermydelik dat daar struikelblokke sal kom. Maar dit sal sleg gaan met die een wat dit laat kom! . . . Wees versigtig. As jou broer ’n sonde pleeg, wys hom tereg, en as hy berou toon, vergewe hom. Selfs as hy sewe keer per dag teen jou sondig en sewe keer na jou toe terugkom en sê: ‘Ek het berou,’ moet jy hom vergewe” (Lukas 17:1-4). Hierdie laaste kommentaar herinner Petrus dalk aan die tyd toe hy Jesus gevra het of hy tot sewe keer moet vergewe. – Matteus 18:21.

Sal die dissipels kan doen wat Jesus sê? Wanneer hulle vir Jesus sê: “Gee ons meer geloof”, verseker hy hulle: “As julle geloof gehad het wat so groot soos ’n mosterdsaadjie is, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: ‘Trek jou wortels uit die grond uit en plant jouself in die see!’ en die boom sou julle gehoorsaam” (Lukas 17:5, 6). Ja, selfs al het iemand net ’n bietjie geloof, kan hy groot dinge bereik.

Jesus leer sy apostels verder hoe belangrik dit is om ’n nederige beskouing van hulleself te hê en sê vir hulle: “Sê nou iemand het ’n slaaf wat ploeg of die kudde oppas. Sal hy vir hom sê: ‘Kom gou hier en eet iets’ wanneer hy van die land af inkom? Nee, hy sal eerder vir hom sê: ‘Maak iets vir my gereed vir aandete, en sit ’n voorskoot aan en bedien my totdat ek klaar geëet en gedrink het, en daarna kan jy eet en drink.’ Hy sal tog nie dankbaar wees teenoor die slaaf omdat hy al sy opdragte uitgevoer het nie, of hoe? Net so moet julle, wanneer julle al julle opdragte uitgevoer het, sê: ‘Ons is nikswerd slawe. Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het.’” – Lukas 17:7-10.

Elke kneg van God moet verstaan hoe belangrik dit is om God se belange eerste te stel. En elkeen moet onthou wat ’n voorreg dit is om God te aanbid as ’n lid van sy huishouding.

’n Boodskapper wat deur Maria en Marta gestuur is, kom blykbaar kort hierna daar aan. Hulle is Lasarus se susters, en hulle woon in Betanië van Judea. Die boodskapper sê: “Here, kyk! die een vir wie u lief is, is siek.” – Johannes 11:1-3.

Al hoor Jesus dat sy vriend Lasarus baie siek is, word Jesus nie deur hartseer oorweldig nie. Hy sê eerder: “Hierdie siekte is nie bedoel om in die dood te eindig nie, maar is om God te verheerlik, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Hy bly twee dae lank waar hy is en sê dan vir sy dissipels: “Laat ons weer na Judea gaan.” Hulle sê: “Rabbi, ’n rukkie gelede wou die Judeërs u nog met klippe doodgooi, en gaan u nou weer soontoe?” – Johannes 11:4, 7, 8.

Jesus antwoord: “Daar is 12 uur daglig, nie waar nie? As iemand in die daglig loop, struikel hy oor niks nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat die lig nie in hom is nie” (Johannes 11:9, 10). Hy bedoel blykbaar dat die tyd wat God vir Jesus se bediening bepaal het, nog nie verby is nie. Tot dan moet Jesus die kort tydjie wat hy oorhet, ten volle gebruik.

Jesus voeg by: “Lasarus, ons vriend, het gaan slaap, maar ek gaan soontoe om hom wakker te maak.” Die dissipels dink waarskynlik dat Lasarus net rus en dat hy sal herstel, en daarom sê hulle: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” Jesus sê reguit vir hulle: “Lasarus het gesterf. . . . Maar laat ons na hom toe gaan.” – Johannes 11:11-15.

Tomas is daarvan bewus dat Jesus dalk in Judea doodgemaak sal word, maar hy wil Jesus ondersteun, en daarom spoor hy sy mede-dissipels aan: “Laat ons ook gaan, sodat ons saam met hom kan sterf.” – Johannes 11:16.