Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 90

“Die opstanding en die lewe”

“Die opstanding en die lewe”

JOHANNES 11:17-37

  • JESUS KOM EERS NADAT LASARUS GESTERF HET

  • “DIE OPSTANDING EN DIE LEWE”

Jesus verlaat Perea en kom by Betanië aan, ’n dorp wat omtrent drie kilometer oos van Jerusalem is. Maria en Marta, Lasarus se susters, treur omdat hulle broer onlangs gesterf het. Baie het hulle kom vertroos.

Dan sê iemand vir Marta dat Jesus op pad is, en sy gaan om hom te ontmoet. Marta sê vir Jesus wat sy en haar suster heel moontlik vier dae lank gedink het: “Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Maar dit beteken nie dat sy nie hoop het nie. ‘Ek weet dat God u alles sal gee wat u van God vra,’ sê Marta (Johannes 11:21, 22). Sy voel dat Jesus haar broer dalk nog kan help.

Jesus sê: “Jou broer sal opstaan.” Marta dink dat hy na die toekomstige opstanding op aarde verwys, die hoop wat Abraham en ander gehad het. En haar woorde wys dat sy oortuig is dat dit beslis sal gebeur. Sy sê: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan.” – Johannes 11:23, 24.

Maar kan Jesus in hierdie geval onmiddellike verligting gee? Hy herinner Marta dat God hom mag oor die dood gegee het, en hy sê: “Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy, en elkeen wat lewe en geloof in my beoefen, sal nooit sterf nie.” – Johannes 11:25, 26.

Jesus sê nie dat sy dissipels wat nou lewe, nooit sal sterf nie. Selfs hy moet sterf, soos hy vir sy apostels gesê het (Matteus 16:21; 17:22, 23). Jesus beklemtoon dat dit tot die ewige lewe kan lei as mense geloof in hom stel. Baie sal die ewige lewe deur middel van ’n opstanding ontvang. Maar getroues wat aan die einde van hierdie wêreldstelsel nog lewe, sal nooit hoef te sterf nie. Wat die geval ook al mag wees, almal wat geloof in hom beoefen, kan daarvan seker wees dat hulle nooit permanent dood sal wees nie.

Maar kan Jesus, wat so pas gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe”, Lasarus help, wat nou al dae lank dood is? Jesus vra vir Marta: “Glo jy dit?” Sy antwoord: “Ja, Here, ek glo dat u die Christus is, die Seun van God, die een wat in die wêreld sou inkom.” Met die vertroue dat Jesus nog daardie selfde dag iets kan doen, gaan Marta vinnig huis toe en fluister sy vir haar suster: “Die Leermeester is hier en hy roep jou” (Johannes 11:25-28). Dan verlaat Maria die huis en ander volg haar. Hulle dink dat sy na Lasarus se graf gaan.

Maria gaan eerder na Jesus, val by sy voete neer terwyl sy huil en herhaal haar suster se woorde: “Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Jesus kreun, word ontsteld en begin huil toe hy Maria en die skares sien huil. Die skares word diep geraak hierdeur. Maar party vra: “Kon hierdie man wat die oë van die blinde man geopen het, nie gekeer het dat hy sterf nie?” – Johannes 11:32, 37.