Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 92

Tien melaatses word genees – Een wys dat hy dankbaar is

Tien melaatses word genees – Een wys dat hy dankbaar is

LUKAS 17:11-19

  • JESUS GENEES TIEN MELAATSES

Jesus weet dat die Sanhedrin hom wil doodmaak, en daarom vertrek hy na die stad Efraim, ’n ent noordoos van Jerusalem. Hy bly daar met sy dissipels, buite die bereik van sy vyande (Johannes 11:54). Maar die Pasga van 33 HJ kom al hoe nader, en daarom is Jesus weer kort voor lank op pad. Hy reis noordwaarts deur Samaria en op na Galilea. Dit sal die laaste keer wees dat hy hierdie gebied besoek voor sy dood.

Jesus reis van dorp ná dorp. Nie lank nadat hulle die reis begin het nie, ontmoet hy tien mans wat melaats is. In party gevalle kan hierdie siekte die weefsel van sekere liggaamsdele soos die vingers, tone en ore geleidelik laat ontbind (Numeri 12:10-12). God se Wet het vereis dat ’n melaatse moet uitroep: “Onrein, onrein!” Dit het ook vereis dat hy in afsondering moet woon. – Levitikus 13:45, 46.

As gevolg hiervan staan die tien melaatses ver van Jesus af. Maar hulle roep hard uit: “Jesus, Onderrigter, betoon genade aan ons!” Wanneer Jesus die melaatses sien, sê hy vir hulle: “Gaan wys julle vir die priesters” (Lukas 17:13, 14). Deur dit te doen, wys hy dat hy respek vir God se Wet het, wat die priesters die gesag gee om melaatses wat van hulle siekte herstel het, rein te verklaar. Dan kan hulle weer tussen gesonde mense woon. – Levitikus 13:9-17.

Die tien melaatses het vertroue in Jesus se wonderdadige krag. Hulle gaan om die priesters te sien, selfs nog voordat hulle genees is. Terwyl hulle op pad is, word hulle beloon vir hulle geloof in Jesus. Hulle begin sien en voel dat hulle genees is!

Nege van die melaatses wat genees is, reis verder. Maar een van hulle, ’n Samaritaan, draai egter terug om na Jesus te soek. Hoekom? Die man is baie dankbaar teenoor Jesus vir wat gebeur het. Die man wat melaats was, ‘loof God met ’n harde stem’, want hy besef dat God eintlik vir sy genesing verantwoordelik is (Lukas 17:15). Wanneer hy Jesus vind, val hy voor hom neer en bedank hy hom.

Jesus sê vir dié rondom hom: “Al tien is genees, nie waar nie? Waar is die ander nege dan? Het niemand anders behalwe hierdie man van ’n ander nasie teruggedraai om God te eer nie?” Dan sê Jesus vir die Samaritaan: “Staan op en gaan. Jou geloof het jou gesond gemaak.” – Lukas 17:17-19.

Deur die tien melaatses te genees, wys Jesus dat hy Jehovah se ondersteuning het. Nou is een van die tien nie net genees deur wat Jesus gedoen het nie, maar hy is moontlik op die pad na die lewe. Ons lewe nie in ’n tyd waarin God Jesus gebruik om sulke genesings te doen nie. Maar deur geloof in Jesus te beoefen, kan ons op die pad na die lewe wees – ewige lewe. Wys ons, soos daardie Samaritaanse man, dat ons dankbaar is?