Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 94

Die belangrikheid van gebed en nederigheid

Die belangrikheid van gebed en nederigheid

LUKAS 18:1-14

  • ILLUSTRASIE VAN DIE WEDUWEE WAT NIE OPGEGEE HET NIE

  • DIE FARISEËR EN DIE BELASTINGGAARDER

Jesus het voorheen vir sy dissipels ’n illustrasie vertel oor hoe om in gebed te volhard (Lukas 11:5-13). Hy is nou dalk in Samaria of in Galilea, en nou beklemtoon hy weer hoe belangrik dit is om in gebed te volhard. Hy doen dit deur die volgende illustrasie te vertel:

“In ’n sekere stad was daar ’n regter wat geen vrees vir God en geen respek vir mense gehad het nie. Daar was ook ’n weduwee in daardie stad, en sy het na hom toe bly gaan en gesê: ‘Oordeel regverdig tussen my en die een teen wie ek ’n regsaak het.’ Wel, ’n ruk lank wou hy dit nie doen nie, maar agterna het hy vir homself gesê: ‘Al het ek geen vrees vir God en geen respek vir mense nie, sal ek ’n regverdige oordeel uitspreek omdat hierdie weduwee my die hele tyd lastig val. Dan sal sy ophou kom en my nie langer uitput met haar versoek nie.’” – Lukas 18:2-5.

Jesus gee die volgende toepassing: “Hoor wat die regter gesê het, al is hy onregverdig! Sal God dan nie sorg dat dié wat hy uitgekies het en wat dag en nag tot hom uitroep, regverdig behandel word terwyl hy geduldig is met hulle nie?” (Lukas 18:6, 7). Wat sê Jesus dus oor sy Vader?

Jesus bedoel natuurlik nie dat Jehovah God enigsins soos die onregverdige regter is nie. Jesus gebruik ’n kontras om ’n punt duidelik te maak: As selfs ’n onregverdige menseregter reageer op iemand se aanhoudende versoek, sal God dit ongetwyfeld ook doen. Hy is regverdig en goed en sal sy knegte help as hulle in gebed volhard. Dit is duidelik uit wat Jesus volgende sê: “Ek sê vir julle: [God] sal dadelik sorg dat hulle regverdig behandel word.” – Lukas 18:8.

Die mense met min geld en op wie neergekyk word, word onregverdig behandel, terwyl mense met geld en mag dikwels beter behandel word. Maar dit is nie hoe God mense behandel nie. Wanneer die tyd reg is, sal God in sy regverdigheid seker maak dat die goddeloses gestraf word en dat sy knegte die ewige lewe ontvang.

Wie het geloof soos die weduwee s’n? Hoeveel glo werklik dat God “dadelik [sal] sorg dat hulle regverdig behandel word”? Jesus het nou net geïllustreer hoe belangrik dit is om in gebed te volhard. Dan beklemtoon Jesus die belangrikheid van geloof in die krag van gebed deur te vra: “Sal die Seun van die mens werklik hierdie geloof op die aarde vind wanneer hy kom?” (Lukas 18:8). Dit wys dat daar dalk min mense met sulke geloof sal wees wanneer Christus kom.

Party wat na Jesus luister, voel tevrede met die geloof wat hulle het. Hulle glo dat hulle regverdig is, maar hulle kyk neer op ander. Jesus vertel die volgende illustrasie wat op hulle van toepassing is:

“Twee mans het na die tempel gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n belastinggaarder. Die Fariseër het gaan staan en by homself begin bid: ‘O God, ek dank u dat ek nie soos al die ander mense is nie – afpersers, onregverdiges, egbrekers – of selfs soos hierdie belastinggaarder nie. Ek vas twee keer per week en ek gee ’n tiende van alles wat ek verkry.’” – Lukas 18:10-12.

Die Fariseërs is daarvoor bekend dat hulle in die openbaar spog oor hulle sogenaamde regverdigheid. Hulle doen dit om ander te beïndruk. Die Fariseërs het byvoorbeeld self besluit om op sekere dae te vas. Hulle doen dit gewoonlik op Maandae en Donderdae, wanneer die groot markte besig is en baie hulle sal sien. En hulle betaal getrou ’n tiende van selfs klein plantjies (Lukas 11:42). ’n Paar maande vroeër het hulle gewys hoe min hulle van die gewone mense dink deur te sê: “Maar hierdie skare wat [volgens die Fariseërs] die Wet nie ken nie, is vervloekte mense.” – Johannes 7:49.

Jesus gaan verder met sy illustrasie: “Maar die belastinggaarder, wat op ’n afstand gestaan het, wou nie eers na die hemel opkyk nie. Hy het op sy bors bly slaan en gesê: ‘O God, ek is ’n sondaar. Betoon genade aan my.’ Ek sê vir julle: Hierdie man het na sy huis gegaan en was regverdiger as daardie Fariseër. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” – Lukas 18:13, 14.

Jesus wys duidelik dat dit belangrik is om nederig te bly. Dit is goeie raad vir sy dissipels, wat in ’n gemeenskap grootgemaak is waarin die Fariseërs, wat in hulle eie oë regverdig is, die belangrikheid van posisie en status beklemtoon. En dit is goeie raad vir al Jesus se volgelinge.