Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 97

Die illustrasie van die werkers in die wingerd

Die illustrasie van die werkers in die wingerd

MATTEUS 20:1-16

  • DIE “LAASTES” IN DIE WINGERD WORD DIE “EERSTES”

Jesus het nou net vir sy luisteraars in Perea gesê: “Baie wat eerste is, sal laaste wees, en baie wat laaste is, sal eerste wees” (Matteus 19:30). Hy beklemtoon hierdie stelling met ’n illustrasie oor werkers in ’n wingerd:

“Die Koninkryk van die hemel is soos die meester van ’n huis wat vroeg in die oggend uitgegaan het om werkers vir sy wingerd te huur. Nadat hy met die werkers ooreengekom het om hulle ’n denarius per dag te betaal, het hy hulle in sy wingerd uitgestuur. Hy het weer omtrent die derde uur uitgegaan en ander op die markplein sien staan wat werkloos is. Hy het vir hulle gesê: ‘Gaan ook in die wingerd in, en ek sal julle betaal wat redelik is.’ Toe het hulle gegaan. Hy het omtrent die sesde uur en die negende uur weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Laastens het hy omtrent die 11de uur uitgegaan en ander gesien wat daar rondstaan, en hy het vir hulle gevra: ‘Hoekom staan julle al die hele dag hier sonder werk?’ Hulle het hom geantwoord: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ Hy het vir hulle gesê: ‘Gaan ook in die wingerd in.’” – Matteus 20:1-7.

Jesus se luisteraars dink waarskynlik aan Jehovah God wanneer hy “die Koninkryk van die hemel” en “die meester van ’n huis” noem. Die Skrif beeld Jehovah uit as die eienaar van ’n wingerd; die wingerd het die nasie Israel voorgestel (Psalm 80:8, 9; Jesaja 5:3, 4). Dié onder die Wetsverbond word vergelyk met werkers in die wingerd. Maar Jesus praat nie van die verlede nie. Hy beskryf ’n situasie in sy tyd.

Die godsdiensleiers, soos die Fariseërs wat hom ’n rukkie terug oor die onderwerp van egskeiding probeer toets het, is kamstig heeltyd besig in God se diens. Hulle is soos voltydse werkers wat ’n volle dag se loon verwag, ’n denarius.

Die priesters en ander in hierdie groep beskou die gewone Jode as mense wat God nie in volle mate dien nie, as deeltydse werkers in God se wingerd. In Jesus se illustrasie is hulle die mans wat “omtrent die derde uur” (9:00 vm) begin werk, of later in die werksdag – op die sesde, negende en laastens die elfde uur (5:00 nm).

Die mans en vrouens wat Jesus volg, word beskou as “vervloekte mense” (Johannes 7:49). Vir die grootste deel van hulle lewens was hulle vissermanne of het hulle ander werk gedoen. Maar in die herfs van 29 HJ het “die meester van die wingerd” Jesus gestuur om hierdie nederige mense te nooi om vir God te werk as Christus se dissipels. Hulle is “die laastes” van wie Jesus praat, die werkers van die 11de uur.

Jesus eindig sy illustrasie deur te beskryf wat aan die einde van die werksdag gebeur: “Toe dit aand word, het die meester van die wingerd vir die man wat oor die werkers toesig gehou het, gesê: ‘Roep die werkers en betaal hulle. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’ Toe die manne kom wat van die 11de uur af gewerk het, het hulle elkeen ’n denarius gekry. Toe die eerstes kom, het hulle dus aangeneem dat hulle meer sou kry, maar hulle het ook ’n denarius as betaling gekry. Nadat hulle betaal is, het hulle teen die meester van die huis begin kla en gesê: ‘Hierdie laaste manne het net een uur gewerk, en tog het u hulle net soveel betaal as vir ons, wat die hele dag hard gewerk het in die warm son!’ Maar hy het vir een van hulle gesê: ‘Vriend, ek behandel jou nie onregverdig nie. Het ek nie met jou ooreengekom dat ek jou ’n denarius sou betaal nie? Neem wat joune is en gaan. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. Het ek nie die reg om met my eie goed te doen wat ek wil nie? Of is jy jaloers omdat ek goed vir hulle was?’ So sal die laastes eerste wees, en die eerstes, laaste.” – Matteus 20:8-16.

Die dissipels wonder dalk wat die laaste deel van Jesus se illustrasie beteken. Hoe sal die Joodse godsdiensleiers, wat dink dat hulle “eerste” is, “laaste” wees? En hoe sal Jesus se dissipels “eerste” wees?

Jesus se dissipels, wat deur die Fariseërs en ander as “laaste” beskou word, sal “eerste” wees en hulle volle loon ontvang. Met Jesus se dood sal aardse Jerusalem verwerp word, en dan sal God ’n nuwe nasie kies, “die Israel van God” (Galasiërs 6:16; Matteus 23:38). Johannes die Doper het na hierdie persone verwys toe hy gepraat het van ’n toekomstige doop met heilige gees. Dié wat “laaste” is, sal die eerstes wees wat daardie doop ontvang en die voorreg kry om getuies van Jesus te wees “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:5, 8; Matteus 3:11). Indien die dissipels besef hoe drasties hierdie verandering is waarvan Jesus praat, besef hulle dalk ook dat hulle die woede van die godsdiensleiers, wat “laaste” sal wees, sal moet verduur.