Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 99

Jesus genees blinde mans en help Saggeus

Jesus genees blinde mans en help Saggeus

MATTEUS 20:29-34 MARKUS 10:46-52 LUKAS 18:35–19:10

  • JESUS GENEES BLINDE MANS IN JERIGO

  • DIE BELASTINGGAARDER SAGGEUS TOON BEROU

Jesus en dié wat saam met hom reis, kom by Jerigo aan, wat omtrent ’n dag se reis vanaf Jerusalem is. Jerigo bestaan eintlik uit twee stede. Die ouer stad is omtrent 1,6 kilometer van die nuwer Romeinse stad. Terwyl Jesus en die skare uit een van hierdie stede na die ander een loop, hoor twee blinde bedelaars die geraas van die skare. Een van die bedelaars se naam is Bartimeus.

Wanneer Bartimeus en die ander bedelaar Jesus hoor verbyloop, begin hulle uitroep: “Here, betoon genade aan ons, Seun van Dawid!” (Matteus 20:30). Party in die skare word kwaad en sê vir hulle om stil te bly, maar hulle roep net harder. Jesus hoor die lawaai en staan stil. Hy vra die mense by hom om die persone te gaan haal wat uitroep. Hulle gaan na die bedelaars en sê vir een van hulle: “Wees bly! Staan op. Hy roep jou” (Markus 10:49). Die blinde man is so opgewonde dat hy sy bo-kleed uittrek, opspring en na Jesus toe gaan.

“Wat wil julle hê moet ek vir julle doen?” vra Jesus. Albei blinde mans smeek Jesus: “Here, laat ons asseblief sien” (Matteus 20:32, 33). Omdat Jesus vir hulle jammer voel, raak hy aan hulle oë en sê hy vir een van hulle: “Gaan. Jou geloof het jou gesond gemaak” (Markus 10:52). Die twee blinde bedelaars kan weer sien en sonder twyfel begin hulle al twee God loof. Wanneer die mense sien wat gebeur, begin hulle God ook loof. Die twee mans wat blind was, begin Jesus volg.

Daar is groot skares om Jesus terwyl hy deur Jerigo loop. Almal wil die persoon sien wat die blinde mans genees het. Die mense druk van alle kante af teen Jesus, en party kan hom nie eens sien nie. Een van hulle is Saggeus. Hy is hoof van die belastinggaarders in en rondom Jerigo. Omdat hy kort is, kan hy nie sien wat aan die gang is nie. Daarom hardloop Saggeus vooruit en klim hy in ’n vyeboom langs die pad waar Jesus loop. Van hier af kan Saggeus alles sien. Wanneer Jesus nader kom en Saggeus in die boom sien, sê hy: “Saggeus, maak gou en klim af, want ek moet vandag in jou huis bly” (Lukas 19:5). Saggeus klim vinnig af en jaag huis toe om sy belangrike kuiergas te verwelkom.

Wanneer die mense sien wat gebeur, begin hulle kla. Hulle voel dat dit nie reg is dat Jesus die kuiergas is van ’n man wat hulle as ’n sondaar beskou nie. Saggeus het ryk geword deur mense af te pers terwyl hy belasting ingevorder het.

Wanneer Jesus in Saggeus se huis ingaan, kla die mense: “Hy is ’n gas in die huis van ’n man wat ’n sondaar is.” Maar Jesus sien dat Saggeus iemand is wat berou kan toon. En hy stel Jesus nie teleur nie. Saggeus staan op en sê vir hom: “Kyk! Die helfte van my besittings, Here, gee ek vir die armes, en ek sal die mense wat ek afgepers het, vier keer terugbetaal.” – Lukas 19:7, 8.

Wat ’n wonderlike manier is dit tog vir Saggeus om te wys dat hy opreg berouvol is! Hy kan heel moontlik sy rekords gebruik om te bereken hoeveel geld hy van verskillende Jode ontvang het en hy belowe om hulle vier keer soveel terug te betaal. Dit is selfs meer as wat God se Wet vereis (Eksodus 22:1; Levitikus 6:2-5). Wat meer is, Saggeus belowe om die helfte van sy besittings aan die armes te gee.

Jesus is bly omdat Saggeus bewys dat hy opreg berouvol is en sê vir hom: “Vandag het daar redding na hierdie huis gekom, omdat jy ook ’n seun van Abraham is. Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” – Lukas 19:9, 10.

Kort tevore het Jesus gefokus op die situasie van dié wat “verlore” is toe hy sy illustrasie oor die verlore seun vertel het (Lukas 15:11-24). Nou het hy ’n werklike voorbeeld gegee van iemand wat so goed as verlore was, maar wat nou gevind is. Die godsdiensleiers en hulle volgelinge kla dalk oor Jesus en kritiseer hom omdat hy aandag skenk aan mense soos Saggeus. Maar Jesus hou aan om na hierdie verlore seuns van Abraham te soek en om hulle te help.