Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 102

Die Koning kom in Jerusalem aan op ’n jong donkie

Die Koning kom in Jerusalem aan op ’n jong donkie

MATTEUS 21:1-11, 14-17 MARKUS 11:1-11 LUKAS 19:29-44 JOHANNES 12:12-19

  • JESUS WORD AS ’N KONING IN JERUSALEM ONTVANG

  • JERUSALEM SE VERNIETIGING WORD VOORSPEL

Die volgende dag, Sondag 9 Nisan, verlaat Jesus en sy dissipels Betanië en gaan hulle na Jerusalem. Toe hulle in Betfage op die Olyfberg aankom, sê Jesus vir twee van sy dissipels:

“Gaan in die dorpie in wat julle voor julle sien, en julle sal dadelik ’n donkie vind wat vasgemaak is, en ’n jong donkie by haar. Maak hulle los en bring hulle na my toe. As iemand vir julle iets vra, moet julle sê: ‘Die Here het hulle nodig.’ Dan sal hy hulle onmiddellik stuur.” – Matteus 21:2, 3.

Die dissipels besef nie dat Jesus se instruksies te doen het met die vervulling van ’n Bybelprofesie nie. Maar later besef hulle dat dit verband hou met die vervulling van Sagaria se profesie. Hy het voorspel dat God se beloofde Koning nederig in Jerusalem “op ’n donkie, op die vul van ’n donkie” sou aankom. – Sagaria 9:9.

Toe die dissipels in Betfage aankom en die jong donkie en sy ma neem, vra die mense wat daar naby staan: “Hoekom maak julle die donkie los?” (Markus 11:5). Maar wanneer hulle hoor dat die diere vir die Here is, laat hulle toe dat die dissipels die diere na Jesus neem. Die dissipels sit hulle bo-klere op albei donkies, maar Jesus klim op die jong donkie.

Die skare word al hoe groter terwyl Jesus na Jerusalem ry. Baie sprei hulle bo-klere op die pad uit, terwyl ander takke van die bome of takke “in die veld” afkap. Hulle roep uit: “Red hom, asseblief! Geseënd is die een wat in Jehovah se naam kom! Geseënd is die komende Koninkryk van ons vader Dawid!” (Markus 11:8-10). Die Fariseërs in die skare is kwaad oor hierdie woorde. Hulle sê vir Jesus: “Leermeester, praat met u dissipels.” Jesus antwoord hulle: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.” – Lukas 19:39, 40.

Wanneer Jesus Jerusalem sien, begin hy huil en sê hy: “As jy, ja jy, op hierdie dag die dinge onderskei het wat met vrede te doen het – maar nou kan jy nie hierdie dinge sien nie.” Jerusalem sal die prys betaal omdat hulle opsetlik ongehoorsaam is. Jesus voorspel: “Jou vyande [sal] ’n versterkte muur met skerp pale rondom jou . . . bou en jou . . . omsingel en jou van alle kante . . . beleër. Hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter, en hulle sal nie ’n klip op ’n klip in jou los nie” (Lukas 19:42-44). Net soos Jesus voorspel, word Jerusalem in die jaar 70 HJ vernietig.

Wanneer Jesus in Jerusalem aankom, is “die hele stad in rep en roer” en vra die mense: “Wie is dit?” En die skare bly sê: “Dit is die profeet Jesus, van Nasaret in Galilea!” (Matteus 21:10, 11). Dié in die skare wat gesien het hoe Jesus Lasarus opwek, vertel ander van daardie wonderwerk. Die Fariseërs kla dat hulle absoluut niks bereik nie. Hulle sê vir mekaar: “Die hele wêreld het agter hom aan geloop.” – Johannes 12:18, 19.

Jesus gaan na die tempel om te onderrig, soos hy gewoonlik doen wanneer hy Jerusalem besoek. Daar genees hy die blindes en die kreupeles. Die hoofpriesters en die skrifgeleerdes word kwaad wanneer hulle sien wat hy doen en hoor hoe die seuns in die tempel uitroep: “Red asseblief die Seun van Dawid!” Die godsdiensleiers vra Jesus: “Hoor jy wat hulle sê?” Hy antwoord hulle: “Het julle nooit gelees nie: ‘U laat u loof deur die mond van kinders en kleuters’?” – Matteus 21:15, 16.

Jesus kyk rond na die dinge in die tempel. Dit is nou laat, en daarom vertrek hy saam met sy apostels. Voordat 10 Nisan begin, reis hy terug na Betanië. Hy bly die Sondagaand daar.