Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 104

Die Jode hoor God se stem – Sal hulle wys dat hulle geloof het?

Die Jode hoor God se stem – Sal hulle wys dat hulle geloof het?

JOHANNES 12:28-50

  • BAIE HOOR GOD SE STEM

  • DIE OORDEEL “OP DIE LAASTE DAG”

By die tempel, op Maandag 10 Nisan, praat Jesus oor sy dood wat al hoe nader kom. Omdat Jesus bekommerd is oor watter uitwerking sy dood op God se reputasie sal hê, sê hy: “Vader, verheerlik u naam.” ’n Magtige stem kom uit die hemel en sê: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik.” – Johannes 12:27, 28.

Die mense daar naby is verward. Party dink dat hulle donderweer gehoor het. Ander sê: “’n Engel het met hom gepraat” (Johannes 12:29). Maar dit is Jehovah se stem wat hulle gehoor het! En dit is nie die eerste keer dat mense God se stem hoor vanaf die begin van Jesus se aardse bediening nie.

Toe Jesus drie en ’n half jaar vroeër gedoop is, het Johannes die Doper gehoor hoe God van Jesus sê: “Dit is my geliefde Seun, wat ek goedgekeur het.” Later, ná die Pasga van 32 HJ, het Jakobus, Johannes en Petrus gesien hoe Jesus se voorkoms verander. Daardie drie manne het God hoor sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het. Luister na hom” (Matteus 3:17; 17:5). Maar nou, die derde keer, kan ’n groot groep mense Jehovah se stem hoor!

Jesus sê: “Hierdie stem het nie ter wille van my gepraat nie, maar ter wille van julle” (Johannes 12:30). Dit bewys dat hy werklik God se Seun is, die beloofde Messias.

Jesus se getrouheid wys hoe mense moet lewe en dit bevestig ook dat Satan die Duiwel, die heerser van die wêreld, verdien om vernietig te word. Jesus sê: “Nou vind daar ’n oordeel van hierdie wêreld plaas. Nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgedryf word.” Dan sê hy: “Tog sal ek, as ek van die aarde af opgelig word, alle soorte mense na my toe trek” (Johannes 12:31, 32). Dit wys dat mense baat sal vind by Jesus se dood. Hy sal mense na hom toe trek en dit vir hulle moontlik maak om vir ewig te lewe.

Nadat Jesus gesê het dat hy “opgelig” gaan word, sê die skare: “Ons het uit die Wet gehoor dat die Christus vir ewig bly. Hoe kan u sê dat die Seun van die mens van die aarde af opgelig moet word? Wie is hierdie Seun van die mens?” (Johannes 12:34). Ten spyte van al die bewyse, insluitende die feit dat hulle God se eie stem gehoor het, aanvaar die meeste van hulle nie Jesus as die ware Seun van die mens nie, die beloofde Messias.

Jesus praat van homself as “die lig”, soos hy voorheen gedoen het (Johannes 8:12; 9:5). Hy sê vir die skare: “Die lig sal nog ’n klein rukkie onder julle wees. Loop terwyl julle nog die lig het, sodat duisternis julle nie oorweldig nie. . . . Terwyl julle die lig het, moet julle geloof in die lig beoefen, sodat julle kinders van die lig kan word” (Johannes 12:35, 36). Dan gaan Jesus daar weg, want 10 Nisan is nie die dag waarop hy moet sterf nie. Hy sal op die Pasga op 14 Nisan “opgelig”, of aan ’n paal gehang, word. – Galasiërs 3:13.

As ons terugkyk op Jesus se bediening, is dit duidelik dat profesieë besig was om vervul te word toe die Jode nie geloof in hom gestel het nie. Jesaja het voorspel dat die oë van mense verblind en hulle harte ongevoelig sou word sodat hulle nie sou terugdraai en genees word nie (Jesaja 6:10; Johannes 12:40). Ja, die meeste Jode is hardkoppig en verwerp die bewyse dat Jesus hulle beloofde Verlosser is, die weg na die lewe.

Nikodemus, Josef van Arimatea en baie ander leiers het “geloof in [Jesus] gestel”. Maar sal hulle wys dat hulle geloof het? Of sal hulle dit wegsteek omdat hulle bang is dat hulle uit die sinagoge verban sal word of omdat hulle lief is om ‘deur mense geëer te word’? – Johannes 12:42, 43.

Jesus verduidelik self wat dit beteken om geloof in hom te hê: “Enigiemand wat geloof in my stel, stel nie net geloof in my nie, maar ook in hom wat my gestuur het, en enigiemand wat my sien, sien ook die Een wat my gestuur het.” Die waarhede wat God Jesus beveel het om aan ander te leer en wat Jesus nog steeds verkondig, is so belangrik dat hy kan sê: “Enigiemand wat my verwerp en nie my woorde aanvaar nie, het iemand wat hom sal oordeel. Die woorde wat ek gesê het, sal hom op die laaste dag oordeel.” – Johannes 12:44, 45, 48.

Dan sluit Jesus af deur te sê: “Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat my gestuur het, het vir my ’n opdrag gegee oor wat om te sê en wat om te verkondig. En ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken” (Johannes 12:49, 50). Jesus weet dat hy binnekort sy eie bloed sal uitstort as ’n offerande vir mense wat geloof in hom beoefen. – Romeine 5:8, 9.