Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 107

’n Koning roep dié wat na ’n huweliksfees genooi is

’n Koning roep dié wat na ’n huweliksfees genooi is

MATTEUS 22:1-14

  • ILLUSTRASIE VAN DIE HUWELIKSFEES

Terwyl Jesus se bediening tot ’n einde kom, hou hy aan om illustrasies te gebruik om te wys dat die skrifgeleerdes en hoofpriesters leuenaars is. Daarom wil hulle hom doodmaak (Lukas 20:19). Maar Jesus is nie klaar met hulle nie. Hy vertel nog ’n illustrasie:

“Die Koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ’n koning wat ’n huweliksfees vir sy seun voorberei het. Hy het sy slawe gestuur om die mense te roep wat na die huweliksfees genooi is, maar hulle wou nie kom nie” (Matteus 22:2, 3). Jesus begin sy illustrasie deur “die Koninkryk van die hemel” te noem. So dit maak sin dat die “koning” Jehovah God moet wees. Wat van die koning se seun en dié wat na die huweliksfees genooi is? Weer eens is dit nie moeilik om te identifiseer dat die koning se seun, Jehovah se Seun is nie, die een wat besig is om die illustrasie te vertel. Dit is ook nie moeilik om te verstaan dat dié wat genooi is, saam met die Seun in die Koninkryk van die hemel gaan wees nie.

Wie word eerste genooi? Wel, vir wie het Jesus en die apostels van die Koninkryk vertel? Vir die Jode (Matteus 10:6, 7; 15:24). Hierdie nasie het die Wetsverbond in 1513 VHJ aanvaar, en daarom is hulle die eerstes om deel te wees van “’n koninkryk van priesters” (Eksodus 19:5-8). Maar wanneer sal hulle eintlik na “die huweliksfees” geroep word? Hierdie uitnodiging is in 29 HJ uitgestuur toe Jesus oor die Koninkryk van die hemel begin preek het.

En hoe het die meeste van die Israeliete op die uitnodiging gereageer? Soos Jesus gesê het, “hulle wou nie kom nie”. Die meeste van die godsdiensleiers en die mense het hom nie as die Messias en as God se aangestelde Koning aanvaar nie.

Maar Jesus wys dat die Jode nog ’n kans sou kry: “[Die koning] het weer slawe gestuur en gesê: ‘Sê vir die mense wat genooi is: “Ek het ’n maaltyd voorberei, my bulle en vetgemaakte diere is geslag en alles is gereed. Kom na die huweliksfees.”’ Maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en het weggegaan, die een na sy landery en die ander na sy besigheid. Die res van die mense wat genooi is, het sy slawe gegryp, hulle mishandel en hulle doodgemaak” (Matteus 22:4-6). Dit stem ooreen met wat sou gebeur nadat die Christengemeente gestig is. Op daardie stadium het die Jode nog die geleentheid gehad om in die Koninkryk te wees, maar die meeste het nie die uitnodiging aanvaar nie, hulle het selfs ‘die koning se slawe’ mishandel. – Handelinge 4:13-18; 7:54, 58.

Wat sou dit vir die nasie beteken? Jesus vertel: “Die koning het woedend geword en sy leërmag gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad afgebrand” (Matteus 22:7). Dit het in 70 HJ met die Jode gebeur toe die Romeine “hulle stad”, Jerusalem, vernietig het.

Beteken die feit dat hulle nie die koning se uitnodiging aanvaar het nie dat niemand anders genooi sou word nie? Nie volgens Jesus se illustrasie nie. Hy sê verder: “Toe het [die koning] vir sy slawe gesê: ‘Die huweliksfees is gereed, maar die mense wat genooi is, was nie waardig om uitgenooi te word nie. Gaan dan na die paaie wat uit die stad lei, en nooi enigeen wat julle vind na die huweliksfees.’ Die slawe het dus na die paaie uitgegaan en almal bymekaargemaak wat hulle gevind het, goeie sowel as slegte mense. Toe het die vertrek vir die huwelikseremonie vol geword van die gaste wat vir die maaltyd genooi is.” – Matteus 22:8-10.

Dit stem ooreen met wat later sal gebeur wanneer die apostel Petrus begin om heidene te help – dié wat nie as Jode gebore of bekeer is nie – om ware Christene te word. In 36 HJ het die Romeinse leëroffisier Kornelius en sy familie God se gees ontvang, en hulle kon dus deel wees van die Koninkryk van die hemel, wat Jesus genoem het. – Handelinge 10:1, 34-48.

Jesus wys dat “die koning” nie almal sal aanvaar wat na die fees kom nie. Hy sê: “Toe die koning inkom om na die gaste te kom kyk, het hy ’n man gesien wat nie gepaste klere vir die huweliksfees aangehad het nie. En hy het vir hom gesê: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder om gepaste klere vir die huweliksfees aan te hê?’ Die man kon hom nie antwoord nie. Toe het die koning vir sy knegte gesê: ‘Bind sy hande en voete vas en gooi hom in die duisternis daar buite. Daar sal hy huil en op sy tande kners.’ Want baie is genooi, maar min is uitgekies.” – Matteus 22:11-14.

Die godsdiensleiers wat na Jesus luister, verstaan dalk nie die betekenis van wat hy sê nie. Nogtans hou hulle nie van wat hy sê nie en wil nou meer as ooit tevore ontslae raak van die een wat hulle so in die verleentheid stel.