Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 108

Jesus laat nie toe dat hulle hom vasvra nie

Jesus laat nie toe dat hulle hom vasvra nie

MATTEUS 22:15-40 MARKUS 12:13-34 LUKAS 20:20-40

  • BETAAL AAN DIE KEISER WAT AAN DIE KEISER BEHOORT

  • GAAN MENSE NÁ DIE OPSTANDING TROU?

  • DIE GROOTSTE GEBOOIE

Jesus se vyande, die godsdiensleiers, is ontsteld. Hy het so pas illustrasies vertel wat wys hoe goddeloos hulle is. Die Fariseërs dink nou aan maniere hoe hulle hom kan vasvra. Hulle probeer iets vind waarvan hulle hom kan beskuldig sodat hulle hom aan die Romeinse goewerneur kan oorgee. En hulle betaal party van hulle dissipels om hom vas te vra. – Lukas 6:7.

Hulle sê: “Leermeester, ons weet dat die dinge wat u sê en aan ander leer, reg is en dat u nie partydig is nie, maar dat u die waarheid oor God se weg leer. Is dit reg vir ons om belasting aan die keiser te betaal of nie?” (Lukas 20:21, 22). Jesus word nie om die bos gelei deur hulle mooi woorde nie, want hy sien regdeur hulle skynheiligheid en slinkse planne. As hy sê: ‘Nee, dit is nie reg om hierdie belasting te betaal nie’, kan hulle hom beskuldig van sedisie teen Rome. Maar as hy sê: ‘Ja, betaal hierdie belasting’, kan die mense, wat dit moeilik vind om onderdanig aan die Romeinse regering te wees, hom verkeerd verstaan en teen hom draai. So hoe antwoord hy hulle?

Jesus sê toe vir hulle: “Hoekom toets julle my, skynheiliges? Wys my die muntstuk waarmee julle belasting betaal.” Hulle het vir hom ’n denarius gebring. Hy het vir hulle gevra: “Wie se beeld en titel is hierop?” Hulle het gesê: “Die keiser s’n.” Toe het hy vir hulle gesê: “Betaal dan aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.” – Matteus 22:18-21.

Jesus se wyse antwoord het die mans verbaas. Omdat hulle nie geweet het wat om te sê nie, het hulle van hom af weggeloop. Maar die dag is nog nie verby nie, en hulle soek nog na maniere om hom vas te vra. Nadat die Fariseërs dit nie reggekry het om Jesus vas te vra nie, kom ’n ander godsdiensgroep na Jesus toe.

Sadduseërs, wat sê dat daar nie ’n opstanding is nie, vra Jesus ’n vraag oor die opstanding en die swaershuwelik. Hulle vra: “Leermeester, Moses het gesê: ‘As ’n man sterf sonder dat hy kinders het, moet die man se broer met sy vrou trou en kinders gee vir sy broer wat gesterf het.’ Daar was sewe broers by ons. Die eerste broer het getrou en gesterf, en omdat hy nie kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. Dieselfde het met die tweede en die derde broer gebeur, en uiteindelik met al sewe broers. Laastens het die vrou gesterf. Wie van die sewe broers se vrou sal sy in die opstanding wees? Want hulle almal was met haar getroud.” – Matteus 22:24-28.

Jesus verwys na die geskrifte van Moses, wat die Sadduseërs aanvaar, en sê: “Julle misgis julle, want julle ken nie die Skrif nie en ook nie die krag van God nie. Want wanneer hulle uit die dood opstaan, trou mans nie en word vrouens ook nie in die huwelik gegee nie, maar hulle is soos engele in die hemel. Het julle nie in die boek van Moses gelees wat God vir hom by die doringbos gesê het nie? God het van die opstanding gepraat toe hy gesê het: ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’ Hy is nie ’n God van die dooies nie, maar van die lewendes” (Markus 12:24-27; Eksodus 3:1-6). Die skares is verstom oor sy antwoord.

Jesus se antwoord het die Fariseërs en die Sadduseërs stilgemaak, so nou kom hulle almal saam na hom toe om hom verder te toets. Een skrifgeleerde vra: “Leermeester, wat is die grootste gebod in die Wet?” – Matteus 22:36.

Jesus antwoord: “Die eerste gebod is: ‘Hoor, o Israel, Jehovah ons God is een Jehovah, en jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede gebod is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Daar is geen ander gebod wat belangriker is as hierdie twee nie.” – Markus 12:29-31.

Wanneer die skrifgeleerde Jesus se antwoord hoor, sê hy: “Leermeester, wat u gesê het, is goed en is waar: ‘Hy is Een, en daar is geen ander God nie,’ en om hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele verstand en met al jou krag en om jou naaste lief te hê soos jouself, is baie meer werd as al die heelbrandoffers en offerandes.” Wanneer Jesus hoor hoe goed die skrifgeleerde antwoord, sê hy: “Jy is nie ver van die Koninkryk van God af nie.” – Markus 12:32-34.

Jesus onderrig nou al drie dae lank in die tempel (9, 10 en 11 Nisan). Party mense, soos hierdie skrifgeleerde, het dit geniet om na Jesus te luister, maar nie die godsdiensleiers nie, wat nou nie meer “die moed [het] om hom nog iets te vra nie”.