Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 111

Die apostels vra vir ’n teken

Die apostels vra vir ’n teken

MATTEUS 24:3-51 MARKUS 13:3-37 LUKAS 21:7-38

  • VIER DISSIPELS VRA VIR ’N TEKEN

  • VERVULLINGS IN DIE EERSTE EEU EN DAARNA

  • ONS MOET WAKKER BLY

Dit is Dinsdagmiddag, en 11 Nisan is besig om tot ’n einde te kom. Jesus se besige tyd op aarde kom ook tot ’n einde. Deur die dag het hy mense by die tempel geleer, en saans het hy buite die stad geslaap. Daar was baie belangstelling onder die mense wat “vroeg in die oggend na hom toe gekom [het] om in die tempel na hom te luister” (Lukas 21:37, 38). Dit is nou verby, en Jesus sit op die Olyfberg met vier apostels – Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes.

Hierdie vier het alleen na hom te gekom. Hulle is bekommerd oor die tempel, want Jesus het nou net gesê dat nie ’n klip op ’n klip gelos sal word wat nie afgebreek sal word nie. Maar dit is nie al waaroor hulle wonder nie. Jesus het vroeër vir hulle gesê: “Julle moet julle . . . gereed hou, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle nie verwag nie” (Lukas 12:40). Hy het ook gepraat van “die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Lukas 17:30). Het hierdie dinge enigiets te doen met wat hy oor die tempel gesê het? Die apostels is baie nuuskierig. Hulle sê: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge gebeur, en wat sal die teken wees van u teenwoordigheid en dat die einde van die wêreldstelsel naby is?” – Matteus 24:3.

Hulle dink dalk aan die vernietiging van die tempel, die gebou wat hulle kan sien van waar hulle sit. Hulle vra ook oor die teenwoordigheid van die Seun van die mens. Hulle dink dalk terug aan ’n illustrasie wat Jesus gegee het oor ’n “man uit ’n koninklike gesin” wat ‘na ’n ver land gereis het om koning te word, en daarna teruggekeer het’ (Lukas 19:11, 12). En laastens wonder hulle wat “die einde van die wêreldstelsel” sal insluit.

In Jesus se verduideliking gee hy ’n teken wat wys wanneer die Joodse stelsel, insluitende die tempel, tot ’n einde sal kom. Maar dit is nie al nie. Hierdie teken sal Christene in die toekoms help om te weet wanneer hulle gedurende sy “teenwoordigheid” lewe en naby aan die einde van die wêreldstelsel is.

Terwyl die jare verbygaan, sien Jesus se apostels hoe sy profesieë vervul word. Ja, baie dinge wat hy voorspel het, begin in hulle leeftyd gebeur. Daarom is waaksame Christene wat 37 jaar later in 70 HJ lewe, voorbereid en gereed vir die vernietiging van die Joodse stelsel en sy tempel. Maar nie alles wat Jesus voorspel, gebeur in die tyd voor en gedurende 70 HJ nie. So wat sal die teken wees dat hy as Koning regeer? Jesus gee vir sy apostels die antwoord.

Jesus voorspel dat daar “oorloë en berigte van oorloë” sal wees en dat “nasie . . . teen nasie [sal] opstaan en koninkryk teen koninkryk” (Matteus 24:6, 7). Hy sê ook dat daar “groot aardbewings [sal] wees, en voedseltekorte en vreeslike siektes op die een plek ná die ander” (Lukas 21:11). Hy waarsku ook sy dissipels: “Mense [sal] teen julle optree en julle vervolg” (Lukas 21:12). Valse profete sal verskyn en baie mislei. Daar sal al hoe meer wetteloosheid wees, en die liefde van die meeste mense sal afkoel. En dan sê hy dat die “goeie nuus van die Koninkryk . . . oor die hele bewoonde aarde verkondig [sal] word as ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom”. – Matteus 24:14.

Jesus se profesieë word in ’n sekere opsig vervul voor en gedurende Jerusalem se vernietiging deur die Romeine. Maar het Jesus dalk van ’n groter vervulling gepraat wat later sal plaasvind? Sien jy vandag bewyse van die grotere vervulling van Jesus se belangrike profesieë?

Een ding wat Jesus insluit in die teken van sy teenwoordigheid, is die verskyning van die “walglike ding wat verwoesting veroorsaak” (Matteus 24:15). In 66 HJ verskyn hierdie walglike ding in die vorm van die Romeinse “leërmagte”, met hulle baniere, of spesiale vlae, wat hulle as heilig beskou. Die Romeine omsingel Jerusalem en ondergrawe party van sy mure (Lukas 21:20). So “die walglike ding” staan op ’n plek waar dit nie moet staan nie, in ’n plek wat die Jode as “’n heilige plek” beskou.

Jesus sê verder: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie plaasgevind het nie, en ook nie weer sal plaasvind nie.” In 70 HJ vernietig die Romeine Jerusalem. Daardie vernietiging van die Jode se ‘heilige stad’, insluitende sy tempel, was werklik ’n groot verdrukking met duisende wat doodgemaak is (Matteus 4:5; 24:21). Dit is baie groter as enige vernietiging wat die stad en die Jode al ooit ervaar het, en dit bring ’n einde aan die stelsel van aanbidding wat die Jode eeue lank gevolg het. So enige grotere vervulling van Jesus se profetiese woorde wat later sou kom, moet sekerlik erger wees.

VERTROUE GEDURENDE DIE TYD VAN DIE EINDE

Jesus se bespreking met sy apostels oor die teken van sy teenwoordigheid as Koning en van die einde van die wêreldstelsel, is lank nie verby nie. Jesus waarsku hulle nou om nie “valse christusse en valse profete” te volg nie. Hy sê dat hierdie mense “selfs dié wat uitgekies is, [sal] probeer mislei” (Matteus 24:24). Maar dié wat uitgekies is, sal nie mislei word nie. Valse christusse kan gesien word. Maar Jesus se teenwoordigheid sal nie gesien kan word nie.

Jesus verwys na ’n grotere verdrukking wat aan die einde van hierdie wêreldstelsel sal begin en sê: “Die son [sal] donker word, en die maan sal nie sy lig gee nie, en die sterre sal uit die hemel val, en die kragte van die hemel sal geskud word” (Matteus 24:29). Die apostels wat hierdie dinge hoor weet nie presies wat sal gebeur nie, maar dit sal beslis verskriklik wees.

Hoe sal hierdie verskriklike gebeure die mensdom affekteer? Jesus sê: “Mense sal flou word van vrees en spanning as gevolg van die dinge wat oor die bewoonde aarde kom, want die kragte van die hemel sal geskud word” (Lukas 21:26). Jesus beskryf beslis die donkerste tyd in die mensegeskiedenis.

Jesus moedig sy apostels aan deur dit duidelik vir hulle te maak dat nie almal hartseer sal wees wanneer “die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid” kom nie (Matteus 24:30). Hy het alreeds gewys dat God sal ingryp “weens dié wat uitgekies is” (Matteus 24:22). So hoe moet sulke getroue dissipels reageer op die verskriklike dinge wat Jesus sê sal gebeur? Jesus moedig sy volgelinge aan: “Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle koppe op, want julle verlossing kom nader.” – Lukas 21:28.

Maar hoe sal Jesus se dissipels wat gedurende hierdie voorspelde tyd lewe, weet hoe na hulle aan die tyd van die einde is? Jesus gee ’n illustrasie oor ’n vyeboom: “Sodra sy jong takkies uitloop en die boom blare kry, weet julle dat die somer naby is. Net so moet julle, wanneer julle al hierdie dinge sien, ook weet dat hy naby is, voor die deur. Ek verseker julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot ’n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur nie.” – Matteus 24:32-34.

So wanneer sy dissipels die verskillende aspekte van die teken sien vervul word, moet hulle besef dat die einde naby is. Jesus waarsku die dissipels wat gedurende hierdie belangrike tyd sal lewe en sê:

“Niemand weet wanneer daardie dag en uur sal kom nie, nie die engele van die hemel nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader. Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want in die dae voor die Vloed het mense geëet en gedrink, en mans het getrou en vrouens is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Hulle het geen aandag geskenk totdat die Vloed gekom het en hulle almal weggespoel het nie. Die teenwoordigheid van die Seun van die mens sal net so wees” (Matteus 24:36-39). Jesus herinner dié wat na hom luister aan die historiese Vloed van Noag se dag wat ’n wêreldwye impak gehad het.

Die apostels wat op die Olyfberg na Jesus luister, sien ongetwyfeld hoe belangrik dit is om wakker te bly. Jesus sê: “Maar pasop dat julle harte nooit oorweldig word deur te veel te eet en te veel te drink en deur die bekommernisse van die lewe nie. Anders sal hierdie dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik. Want dit sal oor almal kom wat op die hele aarde woon. Bly dus wakker en doen altyd smeekgebede sodat julle veilig kan kom deur hierdie dinge wat gaan gebeur en voor die Seun van die mens sal kan staan.” – Lukas 21:34-36.

Jesus wys weer eens dat wat hy voorspel, ’n grotere vervulling het. Hy voorspel nie gebeure wat oor ’n paar jaar sal gebeur en net die stad Jerusalem of die Joodse nasie sal affekteer nie. Nee, hy wys dat hierdie gebeure “oor almal kom wat op die hele aarde woon”.

Hy sê dat sy dissipels wakker, waaksaam en gereed moet wees. Jesus wys hoe belangrik hierdie waarskuwing is deur nog ’n illustrasie te vertel: “Maar een ding moet julle weet: As die huiseienaar geweet het hoe laat in die nag die dief kom, sou hy wakker gebly het en nie toegelaat het dat daar by sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur wanneer julle dit nie verwag nie.” – Matteus 24:43, 44.

Jesus gee sy dissipels rede om uit te sien na die tyd van die einde. Hy verseker hulle dat daar ’n “slaaf” sal wees wat wakker en bedrywig sal wees wanneer sy profesieë vervul word. Jesus beskryf ’n situasie wat sy apostels onmiddellik verstaan: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf wat deur sy meester oor sy huisknegte aangestel is om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf as sy meester hom daarmee besig vind wanneer hy kom! Ek verseker julle: Sy meester sal hom oor al sy besittings aanstel.” Maar as die “slaaf” ’n slegte houding ontwikkel en ander sleg behandel, sal sy meester “hom baie swaar straf”. – Matteus 24:45-51; vergelyk Lukas 12:45, 46.

Maar Jesus sê nie dat ’n groep van sy volgelinge ’n slegte houding sal ontwikkel nie. Wat is dan die les wat Jesus wil hê sy dissipels moet verstaan? Hy wil hê dat hulle wakker en bedrywig moet bly soos hy dit in nog ’n illustrasie duidelik maak.