Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 112

’n Les oor waaksaamheid – Die maagde

’n Les oor waaksaamheid – Die maagde

MATTEUS 25:1-13

  • JESUS GEE DIE ILLUSTRASIE OOR DIE TIEN MAAGDE

Jesus het sy apostels se vrae beantwoord oor die teken van sy teenwoordigheid en die einde van die wêreldstelsel. Met dit in gedagte gee hy hulle nou wyse raad deur middel van nog ’n illustrasie. Die vervulling daarvan sal gesien word deur dié wat gedurende sy teenwoordigheid lewe.

Hy begin die illustrasie deur te sê: “Die Koninkryk van die hemel [kan] vergelyk word met tien maagde wat hulle lampe gevat het en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. Vyf van hulle was onverstandig, en vyf was verstandig.” – Matteus 25:1, 2

Jesus bedoel nie dat die helfte van sy dissipels wat die Koninkryk van die hemel erf, onverstandig is en die ander helfte verstandig is nie. Hy bedoel eerder dat wanneer dit by die Koninkryk kom, het elkeen van sy dissipels die vermoë om te kies om waaksaam te wees of om afgelei te word. Maar Jesus twyfel glad nie dat elkeen van sy knegte getrou kan bly en sy Vader se seëninge kan ontvang nie.

In die illustrasie gaan al tien maagde uit om die bruidegom te verwelkom en om die troue by te woon. Wanneer hy daar aankom, sal die maagde hulle lampe gebruik om lig op die pad te skyn en hom vereer terwyl hy sy bruid na die huis neem wat vir haar voorberei is. Maar wat gebeur toe?

Jesus verduidelik: “Die onverstandige maagde het hulle lampe gevat, maar hulle het geen olie saamgevat nie, terwyl die verstandige maagde elkeen ’n fles olie saam met hulle lampe gevat het. Die bruidegom het lank gevat om te kom, en hulle almal het vaak geword en aan die slaap geraak” (Matteus 25:3-5). Die bruidegom kom nie so gou as wat hulle gedink het nie. Dit lyk asof dit baie langer neem, en daarom raak die maagde aan die slaap. Die apostels dink dalk terug aan wat Jesus gesê het oor ’n man uit ’n koninklike gesin wat weggaan en “uiteindelik terugkom nadat hy koning geword het”. – Lukas 19:11-15.

In die illustrasie oor die tien maagde verduidelik Jesus wat gebeur wanneer die bruidegom uiteindelik daar aankom: “In die middel van die nag het iemand uitgeroep: ‘Hier is die bruidegom! Gaan uit om hom te ontmoet’” (Matteus 25:6). Is die maagde gereed en wakker?

Jesus sê verder: “Toe het al die maagde opgestaan en hulle lampe reggekry. Die onverstandige maagde het vir die verstandiges gesê: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om dood te gaan.’ Die verstandiges het geantwoord: ‘Miskien is daar nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer na die mense wat olie verkoop en koop julle eie olie.’” – Matteus 25:7-9.

So die vyf onverstandige maagde is nie wakker en gereed vir wanneer die bruidegom daar aankom nie. Hulle het nie genoeg olie vir hulle lampe nie en moet êrens olie kry. Jesus sê: “Terwyl hulle olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Die maagde wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die huweliksfees, en die deur is gesluit. Ná die tyd het die res van die maagde ook gekom en gesê: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Hy het geantwoord: ‘Ek vertel julle die waarheid: Ek ken julle nie’” (Matteus 25:10-12). Wat ’n hartseer uiteinde omdat hulle nie gereed was en wakker gebly het nie!

Die apostels kan sien dat Jesus die bruidegom in die illustrasie is. Hy het homself vroeër met ’n bruidegom vergelyk (Lukas 5:34, 35). En die wyse maagde? Wanneer Jesus van die “klein kuddetjie” praat wat die Koninkryk gaan ontvang, gebruik hy die woorde: “Sorg dat julle aangetrek en gereed is, en laat julle lampe brand” (Lukas 12:32, 35). So in hierdie illustrasie oor die tien maagde kan die apostels sien dat Jesus na hulle en ander verwys wat deel is van die klein kuddetjie. Watter boodskap wil Jesus oordra met hierdie illustrasie?

Jesus maak dit vir ons duidelik. Hy sluit sy illustrasie af deur te sê: “Hou dus aan waak, want julle weet nie wanneer daardie dag en uur sal kom nie.” – Matteus 25:13.

Dit is duidelik dat Jesus sy getroue volgelinge waarsku dat hulle moet ‘aanhou waak’. Hy sal kom, en hulle moet gereed en wakker wees – net soos die vyf verstandige maagde – sodat hulle nie van hulle kosbare hoop vergeet en hulle beloning verloor nie.