Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 113

’n Les oor ywer – Die talente

’n Les oor ywer – Die talente

MATTEUS 25:14-30

  • JESUS GEE DIE ILLUSTRASIE OOR DIE TALENTE

Terwyl Jesus en sy vier apostels nog op die Olyfberg is, vertel hy hulle nog ’n illustrasie. ’n Paar dae vroeër, terwyl hy in Jerigo was, het hy die illustrasie van die minas vertel om te wys dat die Koninkryk nog ver in die toekoms is. Die illustrasie wat hy nou vertel, is soortgelyk aan daardie een. Dit is deel van sy antwoord op die vraag oor sy teenwoordigheid en die einde van die wêreldstelsel. Die illustrasie beklemtoon dat sy dissipels ywerig besig moet wees met dit wat hy aan hulle gee om te doen.

Jesus begin: “Dit is net soos ’n man wat op die punt gestaan het om na die buiteland te reis en wat sy slawe laat roep het en vir hulle gesê het om na sy besittings om te sien” (Matteus 25:14). Aangesien Jesus homself alreeds vergelyk het met ’n man wat gereis het “om koning te word,” kan die apostels duidelik sien dat Jesus die “man” is waarvan hy nou praat. – Lukas 19:12.

Voordat die man in die illustrasie ver reis, gee hy aan sy slawe waardevolle besittings. Gedurende die drie en ’n half jaar van Jesus se bediening het hy daarop gefokus om oor die goeie nuus van God se Koninkryk te preek, en hy het sy dissipels geleer om hierdie werk te doen. Nou gaan hy weg met die vertroue dat hulle sal aanhou met die werk wat hy hulle opgelei het om te doen. – Matteus 10:7; Lukas 10:1, 8, 9; vergelyk Johannes 4:38; 14:12.

Hoe verdeel die man in die illustrasie sy besittings? Jesus vertel: “Hy het vir een slaaf vyf talente gegee, vir ’n ander slaaf twee en vir nog ’n ander slaaf een, vir elkeen volgens sy eie vermoë, en hy het na die buiteland gegaan” (Matteus 25:15). Wat sal hierdie slawe doen met wat aan hulle gegee is? Sal hulle dit gebruik om hulle meester se belange te bevorder? Jesus sê vir die apostels:

“Onmiddellik het die een wat die vyf talente ontvang het, weggegaan en daarmee handel gedryf en nog vyf bygekry. Net so het die een wat die twee ontvang het, nog twee bygekry. Maar die een wat net een ontvang het, het weggegaan en ’n gat in die grond gegrawe en sy meester se geld daarin weggesteek” (Matteus 25:16-18). Wat sal gebeur wanneer die meester terugkom?  

Jesus sê verder: “Ná ’n lang tyd het die meester van daardie slawe gekom en vir hulle gevra wat hulle met sy besittings gedoen het” (Matteus 25:19). Die eerste twee het alles gedoen wat hulle kon, “elkeen volgens sy eie vermoë”. Hierdie twee slawe was ywerig, hardwerkend en het goed gewerk met wat aan hulle gegee is. Die een wat vyf talente gekry het, het dit verdubbel en die een wat twee talente gekry het, het dit ook verdubbel. (In daardie tyd moes ’n persoon omtrent 20 jaar lank werk om ’n bedrag te verdien wat gelyk is aan een talent.) Die meester prys al twee op dieselfde manier: “Mooi so, goeie en getroue slaaf! Jy was getrou oor ’n paar dinge. Ek sal jou oor baie dinge aanstel. Wees bly saam met jou meester.” – Matteus 25:21.

Maar dit is anders met die slaaf wat net een talent gekry het. Hy sê: “Meester, ek het geweet dat u ’n man is wat baie vereis, wat oes waar u nie gesaai het nie en bymekaarmaak waarvoor u nie gewerk het nie. Toe het ek bang geword en u talent in die grond gaan wegsteek. Hier is die talent wat aan u behoort” (Matteus 25:24, 25). Hy het nie eers die geld in die bank gesit sodat hy rente kon kry en wins vir sy meester kon maak nie. Hy het eintlik teen sy meester se belange gewerk.

Daarom noem die meester hom ’n “goddelose en lui slaaf”. Wat hy gehad het, is van hom af weggeneem en aan die slaaf gegee wat bereid is om hard te werk. Toe sê die meester: “As iemand het, sal meer aan hom gegee word, en hy sal ’n oorvloed hê. Maar as iemand nie het nie, sal selfs wat hy het, van hom af weggeneem word.” – Matteus 25:26, 29.

Jesus se dissipels het baie om oor te dink, selfs wanneer dit by hierdie illustrasie kom. Hulle kan sien dat dit wat Jesus aan hulle gegee het – die kosbare voorreg om dissipels te maak – baie waardevol is. En hy verwag dat hulle hierdie werk ywerig sal doen. Hy verwag nie dat hulle almal ewe veel in die predikingswerk moet doen nie. Soos ons in die illustrasie gesien het, moet elkeen doen wat hy kan, “volgens sy eie vermoë”. Maar dit beteken nie dat Jesus gelukkig sal wees as iemand “lui” is en nie sy bes doen om die Meester se besittings te vermeerder nie.

Maar hoe bly moet die apostels tog wees met hierdie versekering: “As iemand het, sal meer aan hom gegee word”!