Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 115

Jesus se laaste Pasga kom nader

Jesus se laaste Pasga kom nader

MATTEUS 26:1-5, 14-19 MARKUS 14:1, 2, 10-16 LUKAS 22:1-13

  • JUDAS ISKARIOT WORD BETAAL OM JESUS TE VERRAAI

  • TWEE APOSTELS BEREI VOOR VIR DIE PASGA

Jesus het nou net klaargemaak om die vier apostels op die Olyfberg te leer. Hy het hulle vraag beantwoord oor sy toekomstige teenwoordigheid en die einde van die wêreldstelsel.

Dinsdag 11 Nisan was ’n baie besige dag! Dit is dalk terwyl hulle vir die aand teruggaan Betanië toe wanneer Jesus vir sy apostels sê: “Julle weet dat die Pasga oor twee dae plaasvind, en die Seun van die mens gaan oorgelewer word om aan ’n paal gehang te word.” – Matteus 26:2.  

Die volgende dag, Woensdag, spandeer Jesus blykbaar ’n rustige dag saam met sy apostels. Dinsdag het hy die godsdiensleiers in die openbaar bestraf en vir almal gewys wie hulle regtig is. Hulle wil hom doodmaak. Daarom gaan hy nie op 12 Nisan uit in die openbaar nie. Hy wil nie hê dat enigiets moet keer dat hy ná sononder die volgende aand, die begin van 14 Nisan, die Pasga saam met sy apostels vier nie.

Maar die hoofpriesters en die ouermanne van die volk is glad nie rustig voor die Pasga nie. Hulle kom bymekaar in die binnehof van die hoëpriester, Kajafas. Hoekom? Hulle is kwaad omdat Jesus gewys het wie hulle regtig is. Nou dink hulle aan ’n plan “om Jesus op ’n slinkse manier gevange te neem en dood te maak”. Hoe en wanneer sal hulle dit doen? Hulle sê: “Nie by die fees nie, sodat die volk nie miskien in opstand kom nie” (Matteus 26:4, 5). Hulle is bang omdat baie mense van Jesus hou.

Intussen is daar iemand wat die godsdiensleiers kom besoek. Hulle is verbaas om te sien dat dit een van Jesus se eie apostels is, Judas Iskariot. Satan het die idee in sy hart geplant om sy Meester te verraai! Judas vra hulle: “Wat sal julle vir my gee om hom aan julle te verraai?” (Matteus 26:15). Hulle is baie bly hieroor en besluit “om vir hom silwergeld te gee” (Lukas 22:5). Hoeveel? Hulle stem in om vir hom 30 silwerstukke te gee. Dit is interessant dat 30 sikkels die prys van ’n slaaf is (Eksodus 21:32). So wys die godsdiensleiers dat hulle baie min van Jesus dink, dat hy min waarde het. Judas begin nou om “na ’n goeie geleentheid [te] soek om Jesus aan hulle te verraai sonder dat daar ’n skare by is”. – Lukas 22:6.

Sodra die son sak, sal 13 Nisan begin, en dit is die sesde en laaste aand wat Jesus in Betanië spandeer. Die volgende dag moet alles vir die Pasga klaar voorberei word. Hulle moet ’n lam kry sodat dit geslag en heel gebraai kan word nadat 14 Nisan begin het. Waar sal hulle dit eet en wie sal dit voorberei? Jesus het nog nie vir hulle gesê nie. Daarom kan Judas nie hierdie inligting vir die hoofpriesters gee nie.

Donderdag, waarskynlik vroeg die middag, stuur Jesus vir Petrus en Johannes na Jerusalem. Hy sê vir hulle: “Gaan maak die Pasga vir ons gereed sodat ons dit kan eet.” Dan vra hulle hom: “Waar wil u hê moet ons dit gereedmaak?” Jesus verduidelik: “Wanneer julle in die stad ingaan, sal ’n man wat ’n waterkruik dra, julle ontmoet. Volg hom tot in die huis waar hy ingaan. En sê vir die eienaar van die huis: ‘Die Leermeester vra: “Waar is die gastevertrek waar ek die Pasga saam met my dissipels kan eet?”’ En daardie man sal vir julle ’n groot bo-kamer wys wat ingerig is. Maak dit daar gereed.” – Lukas 22:8-12.

Die eienaar van die huis is sekerlik ’n dissipel van Jesus. Hy verwag dalk dat Jesus sal vra om sy huis vir hierdie geleentheid te gebruik. Wanneer die twee apostels in Jerusalem aankom, gebeur alles net soos Jesus gesê het. So hulle maak seker dat die lam reg is en dat alles gereed is sodat 13 persone – Jesus en sy 12 apostels – die Pasgamaaltyd kan geniet.